Matteus 15: 21-28
Jesus laat weet eendag vir die dissipels dat hulle eerder deur Tirus en Sidon gaan reis en nie die gewone ompad gaan vat nie. Die dissipels wil dit glad nie hoor nie. Tirus en Sidon is dan in Samaria, en volgens die Jode is die Samaritane anders, die Samaritane is vyande, die Samaritane is vuil en onrein en onwelkom.
Ons kan net indink hoe ongemaklik die dissipels moes wees om deur hierdie gebied van Samaria te reis. In die teks lees ons dat daar ’n Samaritaanse vrou by Jesus en die dissipels opdaag. Sy daag op en sy roep skaamteloos uit na Jesus: Here, ontferm U oor my. Ons hoor dan sommer in die dissipels se versoek aan Jesus, hoe geïrriteerd hulle met die vrou en die hele situasie is. Hulle sê vir Jesus: Stuur haar weg, want sy hou aan met skreeu hier agter ons!
Hierdie vrou hoor wat Jesus en die dissipels oor en van haar sê, maar sy steur haarself nie enigsins aan dit nie. Sy hou eenvoudig net aan om skaamteloos na Jesus vir hulp uit te roep. In haar tweede hulpkreet hoor ons die absolute desperaatheid: Here, help my!
Sy gee nie om wat hulle oor haar se nie. Sy gee nie om oor die vernedering en die name en die gespot nie.
Hierdie vrou weet dat sy vuil en onwelkom in die oë van die Jode en van al die dissipels is. Sy weet hoe hulle neerkyk op haar en hoe hulle haar beoordeel. Sy beaam dit selfs wanneer Jesus dit vir haar noem: Ja Here, dit is waar… Sy stry nie met Jesus nie. Sy redeneer nie oor wie beter is as wie nie. Sy argumenteer nie oor haar reg om te bestaan nie.
Al wat sy weet en glo, is dat Jesus alleen vir haar die genesing en redding kan gee wat sy nodig het. Mag ons vandag in ons eie geloof, in afhanklikheid en sonder om om te gee wat ander van ons sê of dink, uitroep: Here, help ons!
Ds André Steinmann, Piet Potgieter