Markus 10: 35-40

Weet ons waarvoor ons bid, wanneer ons bid? Ons lees dat Jesus drie verskillende kere vir die dissipels die aankondiging maak oor wat gaan gebeur wanneer hulle nou binnekort in Jerusalem instap. Jesus doen dit duidelik, eenvoudig en verstaanbaar.

Tog lees ons dat al die dissipels nog steeds nie verstaan wat Jesus aan hul openbaar nie. Tog weet die dissipels nog steeds nie wat hierdie eenvoudige en maklike woorde van Jesus vir hulleself en dan veral vir Hom beteken nie!

Die kruis kan eers na die kruis verstaan word! Dit vra die kruis om die kruis te verstaan!

Johannes en Jakobus maak in die teksvers ’n versoek, hulle rig eintlik ’n gebed aan Jesus. Die woorde van hul gebed is opreg. Die woorde van hul gebed is eerlik, maar die woorde is ook verkeerd. Hierdie twee broers kom na Jesus toe en sê vir Hom om by hulle aan te pas. Hulle kom na Jesus toe en sê vir Hom om te doen wat hulle wil hê Hy moet doen. Hulle wil eer en status en respek en aansien hê. Hulle sê vir Jesus dat hulle graag aan die linker- en die regterkant van Hom wil sit wanneer Hy op die troon sit en regeer. Dit is die twee sitplekke van aansien, dit is die twee sitplekke van status en eer en gesag en respek. Dit is waar die belangrike mense sit!

Jesus hoor hierdie gebed, hierdie versoek van Johannes en Jakobus, en Hy lig die belaglikheid van hul woorde vir hulle uit: Julle besef nie wat julle vra nie!

Kan julle die lydensbeker drink wat Ek drink en met die doop gedoop word waarmee ek gedoop word? (Mark 10: 38). Die beker en die doop waarvan Jesus hier praat behels selfopoffering en onvoorwaardelike liefde. Indien julle dít kan doen, sal julle só kan wees? Want dit is wat julle gebedsversoek behels!

Mag ons nie met vereistes en voorwaardes bid nie, maar eerder bid soos Jesus self in die tuin gebid het: Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil (Matt 26: 39).

Ds André Steinmann, Piet Potgieter