Openbaring 2: 1-7
Efese was ’n strategiese stad: ’n belangrike handelsentrum, ’n kulturele spilpunt en die tuiste van die indrukwekkende tempel van Artemis. Die Christelike gemeente daar het sterk begin – vasberade, volhardend en waaksaam. Christus: Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding. Julle kan nie slegte mense verdra nie… julle het baie vir my Naam verduur, en julle het nie moeg geword nie (Op 2: 2-3).
Maar dan volg die woorde wat soos ’n mes deur die hart sny: Ek het dit teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie (vers 4). Wat ’n skokkende aanklag teen ’n gemeente wat alles reg gedoen het – behalwe om lief te hê.
Die vurige, opregte liefde waarmee hulle Christus aanvanklik gevolg het, het met verloop van tyd plek gemaak vir plig, gewoonte en selfs geestelike trots. In ’n wêreld waar geloof maklik intellektueel of struktureel word, is dit gevaarlik maklik om kopkennis en korrekte gedrag te verwar met ’n hart wat nog brand van liefde vir Jesus.
Wanneer ’n gelowige eerlik kyk na liefde wat afneem, moet ons onsself eerlik afvra: Is daar nog liefde in my verhouding met Christus? Of het ek, soos Efese, vasgehou aan die vorm, maar die hart verloor?
Christus roep hulle (en ons) nie tot skuldgevoelens nie, maar tot herstel: Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het (vers 5). Dit begin by herinnering: onthou hoe jy aanvanklik God se Woord verslind het, met verwagting gebid het en met opregtheid diens gelewer het. Dan volg die opdrag: Keer terug – nie uit plig nie, maar as liefdevolle antwoord op sy liefde.
Volharding is belangrik. Leer is noodsaaklik. Maar sonder liefde verloor selfs die sterkste gemeente sy lig. Die gemeente in Efese het alles reg gehad, maar die hartklop van dissipelskap het vervaag. Vandag bly die uitdaging dieselfde: om ons kennis en aktiwiteite te anker in ’n lewende liefdesverhouding met Christus, en met ons naaste, want uiteindelik is dit nie prestasies nie, maar ons liefde vir Hóm wat saak maak.
Dr Bernard Prinsloo, Onverwacht