Geloof, egter, is sekerheid van die dinge wat gehoop word, ‘n bewys van die dinge wat nie gesien word nie (Heb 11: 1, AFR2020).
Ons sê maklik: Ek glo. Ons glo baie dinge – oor die lewe, die toekoms en in God. Maar die Bybel verwag van ons iets dieper as om net te glo – dit verwag van ons om te vertrou.
Daar is ’n bekende verhaal van Charles Blondin wat oor die Niagara-watervalle op ’n tou geloop het. ’n Skare het saamgedrom en met hul eie oë gesien hoe hy dit regkry. Hulle het geglo hy kon dit doen. Toe hy vra: Glo julle ek kan iemand in ’n kruiwa oor stoot? Almal het geantwoord: Ja! Maar toe hy vra wie sal in die kruiwa klim, het niemand beweeg nie. Dit is die verskil tussen glo en vertrou. Glo staan op ’n afstand en sê: Ek dink dit is waar. Vertrou tree vorentoe en sê: Ek plaas my lewe in jou hande.
Die skrywer van Hebreërs verstaan hierdie spanning en gee vir ons ’n definisie van geloof wat nie op blote emosie of intellektuele instemming berus nie, maar op ’n werklikheid wat dieper lê. In vers 1 word die woord hupostasis in die Griekse weergawe gebruik – ’n term wat verwys na die wesenlike substansie of selfs ’n eiendomstitel.
Wanneer die teks sê dat geloof ’n vaste waarborg of substansie is van die dinge wat ons hoop, beteken dit nie dat geloof iets is waarmee ons probeer om ’n werklikheid te skep nie. Dit is eerder die bewys dat hierdie werklikheid reeds aan ons behoort. Geloof is die objektiewe fondament waarop ons hoop rus – ’n goddelike werklikheid wat reeds teenwoordig is, selfs wanneer ons omstandighede nog van lyding en verganklikheid getuig.
Hierdie hipostase staan in direkte kontras met ons menslike neiging om net dit wat sigbaar is as werklik te aanvaar. Vir die natuurlike oog lyk die kruis van Christus soos ’n nederlaag en die graf soos ’n finaliteit. Maar deur die lens van geloof word die kruis oorwinning en die graf die begin van ’n nuwe lewe.
Die teks voeg by dat geloof ook elenchus is – die innerlike bewys, die diep oortuiging van dinge wat ons nie sien nie. Dit is soos ’n geestelike sintuig waardeur ons die onsigbare koninkryk as méér werklik begin beleef as die sigbare wêreld. Dit beteken dat die nuwe lewe van die opstanding nie eers eendag begin nie. Dit is reeds nou ’n werklikheid wat in die gelowige leef – selfs terwyl ons nog die gebrokenheid van hierdie wêreld ervaar.
Die vraag is: Waar staan jy?
Baie van ons glo dat Jesus gesterf het en opgestaan het. Ons bely dit en vier dit, maar tog leef daar soms twyfel. Is my sondes werklik vergewe? Kan ek werklik rus in wat Christus gedoen het? Hier raak geloof persoonlik. Aan die kruis het Jesus gesê: Dit is volbring. Ons sekerheid lê nie in hoe sterk ons glo nie, maar in hoe volledig Christus ons verlos het.
Om te vertrou beteken om daardie waarheid vir jouself te vat – om as’t ware in die kruiwa te klim en jou lewe aan Hom toe te vertrou. Met jou sonde, jou vrese en selfs jou twyfel. Maar daar is nog iets. Anders as die skare, was Blondin se bestuurder egter bereid om saam met hom op die tou te gaan omdat hy Blondin vertrou het. Ons het ook mense nodig wat wys hoe geloof lyk. Dit is hoekom die Bybel vir ons voorbeelde gee en hoekom die gemeente bestaan – sodat ons nie net hoor nie, maar ook sien.
En dan draai dit na ons toe. Ons is nie net deel van die skare nie, ons word geroep om getuies te wees – mense wie se lewens vir ander wys dat dit moontlik is om God te vertrou. Miskien kyk iemand na jou lewe en wonder: Is hierdie geloof werklik? Deur jou vertroue begin hulle glo.
Die vraag bly: Glo jy net… of vertrou jy? Want geloof begin wanneer jy glo Hy kan, maar dit word werklik wanneer jy jou lewe aan Hom toevertrou.