Beteuterde Bertus van Brakpan vra: Beste Oupa Stoep, mag ek weier om kinders te doop op grond van hul name? Die dilemma is dat hier ’n tweeling is wie se pa, nadat hy hul geboorte ordentlik gevier het, hul name by registrasie laat opskryf het as Klippies en Coke. Hulle van is boonop Van Rijn. Ek ken myself, Oupa. Ek sal kliphard uitbars van die lag as ek hierdie name by die doopvont moet voorhou. Wat staan my te doen?
Beste Bertus, een van Oupa se wyse professore het hom geleer dat ’n mens nooit die doop van ’n kind mag weerhou oor die dwaashede van die ouers nie. Doop sal jy maar vir Klippies en Coke moet doop, as dit regtig hul wetlik geregistreerde name is. Jy kan dalk oorweeg om stilletjies ’n skyfie suurlemoen te hap voor jy die doop bedien. Miskien sal dit ’n lag of selfs net ’n glimlag keer. Alternatiewelik sal jy vir Mamma van Rijn moet bearbei om die tweeling se name te laat verander voor hulle ten dope gehou word. Oupa is seker jy sal ’n paar dwingende redes vir haar kon aanvoer hoekom sy die name moet laat wysig.
Dit gaan Oupa se verstand te bowe hoe ouers opsetlik hul kinders kan opsaal met die belaglikste van name. Oupa het ’n niggie in Engeland wat ’n onderwyseres is en een van die kinders in haar klas se name was J’. Net dit. By navraag moes sy uitvind die kind se naam word uitgespreek Jaypostrophe! Hoe die ouers by dié naam uitgekom het, weet nugter alleen.
Soms kan daar wel ’n baie goeie, dog obskure, rede vir ’n naam wees. So het Oupa eens ’n dierbare Zimbabwiese huiswerker gehad. Haar pa het ’n vermoede gehad dat hy dalk nie die biologiese pa van een van haar boeties was nie. Die pa het die kind, oor wie hy so twyfel gehad het, gaan registreer en die arme seun moet nou deur die lewe gaan met die naam Doubt.
Op ’n keer meld ’n paartjie aan vir doopkategese en Oupa sien op die voltooide doopbrief dat die babadogtertjie se naam Chemonique is. Oupa sê toe dat dit ’n pragtige naam is wat hulle vir hulle dogtertjie gekies het en doen toe navraag oor die oorsprong van die naam. Oupa sê dat hy kan dink dat Chemonique die naam is van ’n heldin in ’n roman wat afspeel êrens in Frankryk. Nee, sê die mamma, dis die naam van my pa se Ford Cortina se kleur!
’n Laaste sakie, liewe Bertus. Sal jy asseblief so gaaf wees om vir Oupa ’n foto’tjie van Klippies en Coke van Rijn in hulle dooppakkies te laat kry?