Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het nie liefde nie, dan het ek ’n weergalmende ghong of ’n kletterende simbaal geword (1 Kor 13: 1, AFR2020).
Die ghong of simbaal in hierdie Skrifgedeelte, verwys na instrumente wat groot lawaai vir kort tye gemaak het, maar die klank was nie blywend nie. Ghonge en simbale is onder andere by heidense rituele gebruik om die aandag van die gode te trek – om hulle as’t ware wakker te maak. Dit is ook gebruik om aanbidders se aandag te trek sodat hulle aan die rituele kon deelneem. Die donderende lawaai het slegs vir ’n kort tydjie geduur en het nie ’n langdurige impak gehad nie. Die Skrifgedeelte herinner ons daaraan dat liefde en die opregte uitleef van jou geloof in die lewende God daarenteen, ’n blywende indruk op die wêreld laat.
Die datum vir die munisipale verkiesing van 2026 is reeds bekendgemaak. Al wat ’n politikus is, skarrel in hierdie dae angstig rond met die hoop om stemme vir hulle onderskeie partye te werf. Hulle hoop is dat hulle die voorreg sal hê om ’n gebied te bestuur of te beheer. Hulle voorspel met bulderende stemme tye van voorspoed en vrede vir elke inwoner van die land. Dalk is dit inderdaad maar net ’n kakofonie van weergalmende ghonge en kletterende simbale wat ons sinne vir ’n kort tydjie beproef. Net om ná die verkiesing weer te verdwyn. Saam met die oorweldigende klanke, raak die beloofde hoop op voorspoed en vrede in die vergetelheid weg.
Hierdie ritme wat elke paar jaar herhaal word en wat reeds van die vroegste tye af deel van demokratiese bestelle was, het miljoene mense deur die eeue heen genoop om uit te roep: Dit is nie meer die moeite werd om op te trek na ’n stembus, in lang toue te staan en om my kruisie te trek nie. Daarvan leef daar talle voorbeelde in ons eie land. Die een wat tans in my gedagtes leef, is die beeld van ’n bejaarde vrou wat laatmiddag met ’n emmer in ’n lang tou staan om water by ’n enkele kraan te tap. Wanneer die lang wag verby is, dra sy die vol emmer met groot moeite huis toe, net om die ritueel die volgende dag te herhaal. Sy vra tereg: Hoe help die kruisie op ’n stembrief my om my persoonlike omstandighede te verbeter?
Waar laat dit ons as gelowiges? Moet ons hande in die lug gooi en die skynbaar futiele oefening van stem laat vaar? Verskeie politici, onder andere Kofi Annan, die sewende sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, het oor die jare na demokrasie, dus ook die reg om te stem, verwys as ’n breekbare blom (fragile flower) wat beskerm en gekoester moet word. Wat behels ons beskerming van hierdie breekbare blom?
Jürgen Moltmann stel dat om ’n stem uit te bring, nie slegs ’n persoonlike voorkeur van een kandidaat bo ’n ander is nie. Ons het immers almal duidelike voor- en afkeure. Trouens, in ons land kan uiterste afkeure van bepaalde partye of kandidate lei tot vernederende, vernietigende, snydende uitsprake en selfs openlike haat. Moltmann stel dat om te kies is ’n openbare aksie van onder (menslik) wat deur hoop, geregtigheid en verantwoordelikheid gevorm moet word. My stem moet bydra tot die groter welsyn van álle mense. Ons taak en roeping is dus om so te stem dat ons daarvan oortuig is dat ons kruisie daardie hoop voed en nie ondermyn nie. Ons roeping is voorts om van die mag van die elite na die gemarginaliseerdes van die wêreld te skuif. In ons eie samelewing is daar soveel mense wat steeds op grond van stand, geslag, geloof, ras of seksuele oriëntasie gemarginaliseer word. Ons baken tog graag af. Kruisies word langs die naam van ’n persoon of party getrek wat ons eie voorkeure sal handhaaf of bevorder. Ons is egter ook veronderstel om die stem van die stemloses in die samelewing te wees.
Dit beteken nie dat daar ’n foutlose instelling of politieke party bestaan nie. Alle menslike instellings is immers gebrekkig. Ons keuse is dus selde tussen suiwer boos en suiwer rein. Ons stem is hoogstens, aldus Michael Horton, professor in Sistematiese Teologie by die Westminster Seminary California, ’n gereedskapstuk van rentmeesterskap om die maksimum geregtigheid in ’n samelewing te laat leef. Uiteraard is die uitbring van ’n stem ook verwant aan ons politieke, sosiale en ander voorkeure. Tog gaan dit nie oor my nie – dit gaan oor almal en die groter geheel se welsyn.
In die komende maande gaan ons die voorreg hê om te stem en dan gewoon te hoop en te vertrou. Laat ons in geloof, diegene wat die Here se hoop vir die wêreld die beste uitbeeld, soek en ons aan hulle bind. Moltmann het dit treffend gestel: Om te stem, plaas die verantwoordelikheid op ons skouers om die koninkryk van God te bevorder, om onderdrukkende sisteme te ontmasker en af te breek en om menslike waardigheid te beskerm.