Volgens Rigters 13-16 was Simson nie ’n fris man nie.
In hedendaagse televisieprogramme of films oor Simson word hy uitgebeeld as ’n reusagtige man met lang hare. Hierdie beskrywing word nie in die Bybel vermeld nie. Inteendeel, al wat die Bybel van sy voorkoms sê, is dat hy lang hare gehad het, wat daarop dui dat Simson ’n nasireër was.
Die waarheid oor Simson is dat hy nie noodwendig groot en fris was nie. Hy was ’n gewone mens soos ek en jy. Daarom is daar soveel meer waarde geheg aan die wonders wat hy wel gedoen het. Dat God die een was wat hom daardie wonders laat doen het. ’n Mens besef eers watter tipe mens hy eintlik was as jy gaan kyk na die rede hoekom hy hierdie wonderdade gedoen het.
Kortliks, Simson maak 30 ryk mans dood vir hulle klere (die raaisel wat hulle reg geraai het, het gemaak dat hy vir elke man mooi klere moes gee), hy breek Gaza se poorte af en loop weg met die hek (die vyande het hom buite die huis van ’n prostituut ingewag om hom gevange te neem). Hy verbrand al die Filistyne se landerye (sy skoonpa het sy vrou aan ’n ander man gegee) en maak 1 000 soldate dood. Tweeduisend ander het weggehardloop. Die Israeliete het hom gevange geneem en aan die Filistyne oorgegee. Die ironie was dat al hierdie wonderdade die Filistyne se greep op die Israeliete verswak het, maar Simson was kwaad oor ’n vrou en het met geweld opgetree. Nie een van hierdie buitengewone dade was vir God of met God in gedagte gedoen nie.
Buiten die feit dat God hierdie man verskriklik sterk gemaak het, en dit nie noodwendig spiere of grootte was wat hom sterk gemaak het nie, was hy maar eintlik net ’n sondige mens. In sy gesprekke met God was sy trant ongeskik en beskuldigend. Sy nasireër-voorskrifte is iets wat hy heeltemal verontagsaam het. Indien ’n mens so iemand vandag sou teëkom, sal jy beslis nie dink hy is ’n man van God nie.
Wat ons vir mekaar sê is dat as dit nie vir God was nie, sou daar regtig niks spesiaal aan Simson gewees het nie. Sonder God was hy net ’n doodgewone mens.
’n Waarheid wat goed is om af en toe aan herinner te word, is dat dit nie saak maak wat jy al bereik het nie – sonder God en sy bystand is ons almal maar net ’n leë dop. Ons kan geen prestasie of besitting eendag saam vat hemel toe nie.
Gee dank aan die Here dat Hy altyd by jou is en jou in staat stel om jou talente tot sy eer te gebruik. Sê dankie aan God dat Hy jou gemaak het soos jy is en vir wie jy is. Só maak ons sy beeld sigbaar.
Prys die Here dat Hy ook mense soos Simson kon gebruik om iets van sy beeld sigbaar te maak en nie net sy eie beuel te blaas nie. Laat die verhaal ons daaraan herinner hoeveel God met ons kan bereik as ons Hom toelaat.