Behalwe eredienste, barmhartigheidswerk, kategese en Bybelstudie, het alle gemeentes van die Kerk nog iets in gemeen: basaar! Ons almal ken die lekkerte van basaarkos, die vreugde van onderlinge samewerking en samesyn, en die unieke atmosfeer by ’n basaar. Om basaar te hou, is al so te sê sinoniem met gemeentewees. Alhoewel die meeste gemeentes genoop word om ’n basaar vir die doeleindes van fondse te hou, dien dit tog ook tot die opbou van die onderlinge geloofsgemeenskap en tot ’n gemeente se sigbare diensbaarheid na buite.

Sommige gemeentes benader egter die tradisionele basaar kreatief en innoverend. Gemeente Potchefstroom is só ’n gemeente. Hoewel dit die oudste gemeente van die NHKA is, is hierdie gemeente beslis nog nie koud nie! Hulle bied sedert 1993 hul basaar in die vorm van ’n motorskou aan.  

Aanvanklik was die bedoeling met die motorskou om fondse vir jeugwerk in te samel. Die destydse jeugouderling het die gedagte gehad om ’n paar ou motors uit te stal en eetgoed te verkoop as ’n fondsinsamelingaksie. Hoe meer ons daaroor gepraat het, hoe meer het die gedagte van ’n motorskou posgevat. Ons het die Carletonville Car Collectors Club en ’n paar mense in Potchefstroom wat ou motors gehad het, uitgenooi na die eerste geleentheid. Daar was 35 motors tydens hierdie geleentheid uitgestal. Ons het met groot entoesiasme begin beplan om daarvan ’n volwaardige motorskou te maak. Ons het meer motorklubs sowel as vlooimarkuitstallers uitgenooi.

Die gemeente het die geleentheid aangegryp en jaarliks het die getal motorklubs en uitstallers toegeneem. Gou het dié motorskou alombekend geword as die Noordwes Motorskou. Daar is ook besluit om wisseltrofeë, bekers en sertifikate aan motors in verskillende kategorieë toe te ken. Dit is een van die aspekte wat hierdie motorskou uniek maak. ’n Verdere unieke aspek is dat daar geen inskrywingsfooie daaraan verbonde is om jou motor te bring nie. Elke motoreienaar kry boonop twee komplimentêre etekaartjies. Deesdae skryf daar jaarliks ongeveer 25 tot 35 motorklubs en nagenoeg 100 privaateienaars vir die Motorskou in en tussen 300 en 400 motors word uitgestal. Dit maak die Noordwes Motorskou een van die vyf grootste motorskoue in die land!

Daar is egter nie net motors by die Motorskou te sien nie. Vir diegene wat van allerlei mooi snuisterye hou, is daar meer as 40 vlooimarkstalletjies en vir die liefhebbers van oudhede is daar ’n antieke meubelveiling waar verskeie antieke items opgeveil word. Die aantal aktiwiteite word aangebied om nuwe belangstellings aan te wakker. Die Motorskou is nou ook troeteldiervriendelik met ’n gewilde hondeskou wat die afgelope paar jaar plaasvind. Boonop is daar ’n verhoogprogram waar bekende kunstenaars sowel as opkomende plaaslike kunstenaars optree.

Die gemeente het uit die staanspoor al die kosstalletjies self beman. Daar word elke jaar hard gewerk aan al die voorbereiding wat vir die kosverkope gedoen word. Vleisbestellings word vooraf geneem en tot 22 beeste is al by geleentheid deur die gemeente vir bestellings en kosverkope bewerk. En die kos is natuurlik smaaklik en van hoë gehalte – soos nét basaarkos kan wees. 

In 2026 het ons die voorreg gehad om die 32ste Noordwes Motorskou aan te bied. Tydens die Covid-pandemie moes twee geleenthede gekanselleer word. Tog het die Motorskou ná Covid sy momentum behou en kon dit sedert 2023 weer op 1 Mei suksesvol aangebied word. Die Noordwes Motorskou van Gemeente Potchefstroom is een van die groot geleenthede op die kalender van motorentoesiaste, sowel as van die gemeenskap van Potchefstroom en omliggende dorpe.

Vir die gemeente is dit ’n uitstekende geleentheid om saam te werk. Meer as 200 lidmate kom sit hand by en dra op verskillende maniere by tot die sukses van die geleentheid. Dit is ook vir ons as gemeente ’n geleentheid waar ons deur ons optrede en diensbaarheid ons geloof uitleef en ’n verskil in die gemeenskap maak. Hoewel die gemeente bekend is vir dienswerk op verskillende terreine van die gemeenskap, is die gemeente ook met die aanbieding van die Motorskou wyd bekend. Die Motorskou vorm deel van die gemeente se getuienis in die wêreld deur die wyse waarop lidmate met die publiek omgaan en die gesindheid waarmee die geleentheid aangebied word. Daarom is ons dankbaar dat die Motorskou steeds van krag tot krag gaan en ons vertrou dat Gemeente Potchefstroom nog vir lank die geleentheid sal hê om op hierdie besondere wyse in die gemeenskap van God se liefde en genade te getuig.

(Ds Willem Kok en dr Marina Kok-Pretorius is leraars van Gemeente Potchefstroom)