Jon Swales, ’n priester in die Anglikaanse Kerk in Engeland, het onlangs in ’n Facebook-plasing ’n klompie interessante opmerkings oor die godsdienstige landskap in Brittanje gemaak. Ek verweef ’n paar van sy gedagtes met ons situasie hier ter lande.

Hy meld dat daar meer en meer berigte begin verskyn wat vertel van groei in kerke, ’n groter openheid oor geestelike sake en ’n terugkeer van jongmense, veral na gevestigde, sogenaamde hoofstroom kerke. Hy skryf dit daaraan toe dat mense uitgeput voel vanweë die konstante blootstelling aan die leegheid van die verbruikerswêreld. Mense is op soek na meer betekenis en spirituele diepgang in die lewe.

Swales waarsku egter dat hierdie groen spriete nog nie beteken dat die winter verby is nie. Ons leef steeds in ’n oorheersend sekulêre wêreld waar geloof in God nie die verstekopsie van die samelewing is nie. Christelike geloof is maar een van baie moontlikhede. Die institusionele geheue wat vir ’n lang tyd deel van die beweegrede was vir mense om ’n erediens by te woon, is aan die kwyn.

Nie almal wat nader aan die kerk beweeg, beweeg noodwendig nader aan Christus nie. Sommige is op soek na iets spiritueels, na iets wat deur eeue heen vastigheid bied midde-in ’n snel veranderende wêreld.

Die suigkrag van hierdie vinnig veranderende wêreld is groot. Dit is ’n wêreld waarin blitssnelle veranderinge telkens aangevuur word deur boodskappe van 140 karakters op ’n skerm, waar individue al meer hulself terugtrek en vereensaam, al sit hulle met ’n lys van ’n paar honderd virtuele vriende op hul sosialemediaplatforms.

Sekularisasie het hard en diep gebyt. Demografiese skuiwe, die ontvolking van die platteland eis ’n hoë tol. Tog, doen dominees steeds hul gemeentewerk onder hierdie omstandighede. Swales sê dat hy somtyds baie bekommerd is oor dié dominees wat getrou hul dienswerk onder moeilike omstandighede probeer doen en al die praatjies oor kerkgroei en vernuwing hoor en dan stilletjies die afleiding maak dat, omdat daar nie groei en vernuwing in hul gemeentes is nie, hulle besig is om te faal. Ek dink by ons is dit dikwels ook so.

Baie dominees dien op dorpies waar die skool óf gesluit het, óf saamgesmelt het met ’n skool op ’n buurdorp, waar die laaste tak van ’n bank al vyf jaar gelede toegemaak het, waar daar nou net een vulstasie, wat slegs bedags sake doen, nog oop is.

Maar die kerk is nog oop. Elke Sondag, dalk elke tweede Sondag, is daar iemand wat die kerkgebou oopsluit, sorg dat alles binne reg is en selfs die glas water vir die dominee op die kansel plaas. Een vir een daag die gewone lidmaatkudde op. Die deur is egter oop vir enigeen, ’n vreemdeling, ’n soeker wat stilweg insluip, die bekende reuk van die Cobra-politoer op die bankie diep inasem, na die effe verweerde dieprooi mat in die gangetjie kyk en voor die kansel die woorde So spreek die Here / In U lig / U Woord is die waarheid of iets dergeliks op die kanselkleed lees en besef: Na al die jare, is ek weer tuis.

As emeritus is dit my voorreg om bykans elke Sondag in ’n ander gemeente te kan preek. Verreweg is die meeste klein gemeentes waar die dominee op verlof is, of gemeentes waar daar net aflospredikante preek. Dit het ook nou so gebeur dat ek op ’n gereelde basis in drie kleinerige NG-gemeentes preek. In al die gemeentes is my belewenis dieselfde.

Die kerkgeboue is skoon, netjies en die tuine mooi versorg. Alles is reg sodat die erediens kan plaasvind. Ek moet al teen die Donderdag voor die erediens my liturgie deurgee, want daar is iemand wat sorg dat die projeksie reg gaan wees, dat die orrelis weet wat gespeel gaan word of dat die regte begeleiding elektronies beskikbaar is. Teen die tyd dat ek op ’n Sondag opdaag, is alles reg en in plek vir die diens om te kan begin.

Ek het aanvanklik dadelik konsistorie toe gegaan en daar rondgestaan tot die diens begin, maar gou agtergekom dat dít nie is waar die aksie gebeur nie. Voor die diens word daar heerlik in die kerkgebou gekuier. Elkeen wat inkom, word met ’n drukkie gegroet en daar word gelag, gesels, soms saam gehuil, afhangende van die omstandighede.

Gemeentes het verskillende gebruike. Een gemeente het ’n sanggroepie wat voor die diens sing. Op ’n spesifieke Sondag toe ek daar was, het hulle ’n spesiale programmetjie opgestel met gepaste gedigte en liedere vir ’n nuwe intrekker wat die vorige week aangemeld het. Die nuwe intrekker het iemand aan die dood afgestaan en die sanggroepie wou hulle omgee op ’n besondere manier wys. Verseker, het ek by myself gedink, gaan daardie nuwe intrekker ’n groen spriet word wat geil in daardie gemeente gaan groei.

’n Ander gemeente sing aan die einde van elke diens ’n spesifieke lied oor die Here wat seën. Almal staan in hulle blokke op, hou mekaar se hande vas. In die blok reg voor my is daar ’n seun met ’n erge getremdheid in ’n rolstoel. ’n Hele paar lidmate kom staan om die rolstoel en vorm daar hul kringetjie van handevashouers. As iemand vir die eerste keer by dié gemeente instap, hierdie handeling beleef en daarby ingesluit word, is ek oortuig dat hulle ’n groen spriet in daardie gemeente gaan word.

Wat vir my uitstaan, is dat die vyftig-, sestigstuks mense in die gemeentes in alle opsigte ’n hegte familie is. Hulle funksioneer nog goed op hul manier. Hulle gaan dalk nooit tot ’n mega-gemeente groei nie. Ek wonder tog of mega-, selfs net baie groter gemeentes, die hartlikheid, warmte, omgee en intimiteit beleef waarvan die klein gemeentes oorloop.

Ek is soms bekommerd dat ons behep raak met getalle, getalle wat moet groei, ook deur die samesmelting of terugstigting van gemeentes. Ja, groei in getalle sal wonderlik wees. Ek wonder of ons genoegsaam verreken dat die strewe na groei die voortbestaan van klein, gelukkige familiegemeentes in die gedrang bring. Wat gebeur dan? Verminder ons nie só doelbewus ons lidmate nie?

Swales sê dat sommige geroep is om groot en groeiende gemeentes te bedien. Ons dank die Here vir hulle. Ander word geroep om in harder grond te arbei, immer vertrouend dat Christus ook daar, in die kleiner gemeentes met ’n soms onsekere toekoms, nog steeds tussen die kerkbanke beweeg.

(Ds Etienne Fourie is emerituspredikant en leraar van Gemeente Benoryn)​