Sommige mense noem ’n dag soos vandag ’n Roudiens, maar my ma noem vandag ’n Gedenkdiens. Want ons fokus is nie om te “rou” dat my pa nie meer by ons is nie; ons fokus is om die tyd wat ons saam met hom gehad het, te “gedenk”, en om dankbaar te wees vir die tyd wat ons saam kon deurbring.

So, vandag is ek dankbaar vir die tyd wat ek saam met my pa gehad het, en vir die voorbeeld wat Pappa vir ons was. My vrou vra my soms waarom ek altyd net die goeie in mense raaksien (selfs in situasies waar die teenoorgestelde waar lyk). Die rede is: Want dit is hoe my pa was. Hy het die beste uit mense gebring, deur die beste in mense te sien. Hy het altyd gesoek vir die silwer randjie in die donker wolk, sy beste gedoen, en nooit opgegee nie.

’n Klompie jare gelede het my ma se oë skade opgedoen, en sy kon as gevolg daarvan nie meer werk as ’n apteker nie. Dit was ’n moeilike aanpassing, want skielik kon sy nie meer werk nie, nie self kar bestuur nie, sy was skielik baie meer afhanklik van my pa. My pa was nie vreeslik gepla nie, want hy het basies toe net ’n permanente helper gekry om hom te help, met sy werk in eiendomme en in die gemeente. Maar my ma kon ook skielik vir die afgelope paar jaar baie meer tyd saam my pa deurbring. So, soms gebeur slegte dinge, wat nie sin maak nie, in ons lewe. Maar nou kan ons sien hoe dit in God se plan inpas, dit was sodat my ma ekstra tyd met my pa kon deurbring, voor sy tyd op aarde verby was.

My pa laat my nogal dink aan Petrus van die Bybel. ’n Passievolle visserman, wat deur Jesus geroep is om vissers van mense te wees, en om ’n rots te wees waarop Jesus sy aardse kerk kon bou. My pa was lief daarvoor om vakansies by die viswaters te spandeer, veral in Hentiesbaai. Hy het in sy lewe baie visse gevang, koelbokse vol vis. Dit is as gevolg van vissermanne soos my pa dat Namibië ’n klompie jare gelede meer beperkings moes instel rondom die hoeveelheid vis wat ’n mens daar mag vang…

Maar as jy dink dat hy baie visse kon vang, dan moes jy die menigte mense wat hy vir Jesus gevang het, gesien het. Moedeloses, siekes, enigiemand wat besig was om te val, het hy gevang. My pa het kerke gelei, siekes besoek en bemoedig, ontelbare preke gelewer uit God se Woord, en saam met duisende mense gebid. Hy het mense gehelp, geleer, gedoop, getrou, bemoedig en ook begrawe.

Ek is nou nie so ’n passievolle visserman soos my pa nie, my talente is meer rondom finansies. Een van my gunstelinggelykenisse in die Bybel is die een waarin die Meester vir sy diensknegte talente of goue muntstukke gee en verwag dat hulle ’n opbrengs daarmee moet lewer. Nou, in my pa se geval, moet ons maar figuurlik dink oor die muntstukke. Ek dink ons hemelse Vader het in sy wysheid besluit om nie vir my pa vreeslik baie fisiese muntstukke te gee nie, want Hy het geweet my pa sou waarskynlik met minder muntstukke opeindig as waarmee hy begin het. Ja, geldsake was maar altyd ’n doring in my pa se vlees!

Maar die talente wat God wel vir my pa gegee het, was sakke vol vreugde en hoop, en ’n hart van goud. My pa het altyd dit wat hy gehad het, met ander mense gedeel of gebruik om ander te help, en ook om sade van liefde en God se Woord in mense se lewens te saai. En daardie geestelike sade sal aanhou om ’n ryk oes te lewer vir ons Meester.

Ek is seker dat Jesus se woorde aan my pa sal wees: Mooi so, goeie en getroue dienskneg. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!

Ek en my gesin het twee jaar gelede van Suid-Afrika na Australië geëmigreer. Alhoewel ek my pa nie meer fisies kon sien nie, het ek geweet hy is nog daar, by my Suid-Afrikaanse familie. Op dieselfde manier het my pa nou ook net geëmigreer, na die ewige lewe toe. Ons kan nou wel nie met hom gesels in ’n video-oproep nie. En alhoewel ons hom nie meer fisies kan sien nie, weet ons hy is daar, by ons hemelse familie.

My pa het altyd gesê: Jy kan baie dinge in die lewe verloor, maar solank jy nooit Hoop verloor nie, sal jou planne nooit opraak nie. So, ek laat julle met hierdie gedagte: Vind jul hoop in Jesus, want dan sal jy, net soos my pa, nooit hoop verloor nie.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)