Daar is ’n besondere oomblik voordat ’n nuwe kerklied werklik ’n kerklied word. Dit is nie wanneer die digter die laaste woord neerskryf nie, ook nie wanneer die komponis die finale noot op papier plaas nie. Dit gebeur selfs nog nie wanneer ’n groep kundiges besluit dat die woorde teologies verantwoordbaar en die melodie singbaar is nie. ’n Kerklied word eers werklik ’n kerklied wanneer mense daaraan lewe gee en ’n gemeente dit saam sing. Dit is waarskynlik waarom die woorde wat tydens die onlangse vergadering van die VONKK-werkgroep na vore gekom het, so gepas is: Hierdie is musiek wat die Kerk nie net moet ken nie, maar saam moet sing.

Die VONKK-werkgroep het van 27 tot 30 Julie 2026 rondom kerkmusiek vergader. Ds Leon Geel, die voorsitter van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering (AKV), is een van die eerste voorsitters wat só ’n werkgroep bywoon en kon sien wat agter die skerms aan die gebeur is. Vir iemand wat nie musikaal aangelê is nie, kan dit werklik soos ’n kreatiewe warboel voel: ’n groep mense wat saam sing en skaaf aan liedere. Een persoon neurie ’n melodie en ’n ander speel dit op die klavier. Tussendeur stop iemand alles. Daardie frase werk nog nie heeltemal nie. Dan begin die proses maar weer van voor. Die melodie is hier te hoog. Weer begin die proses. Sing daardie reël weer. Wat rondom so ’n tafel gebeur, is deel van die manier waarop die kerk vra: Wat gaan ons môre sing wanneer ons God saam aanbid? Die kerk het nog altyd gesing; daarom is dit byna ondenkbaar dat die kerk sonder sang bestaan.

Soos dit in ’n vorige Blitspos-artikel verwoord is, begin die kerk se sang eintlik by God. God het eerste gepraat en daarom is gemeentesang ’n antwoord op God se openbaring. Sang behoort dus nie bloot aan ’n koor, ’n voorsanger, ’n orrelis of die musikale mense in die gemeente nie. Wanneer die kerk sing, word die hele gemeente die draer van die lied deur dit saam in te asem. Die lied moet iets van hul geloof verklank.

Dit verklaar waarom sommige liedere so diep deel van ons geloofsgeheue word. Vra iemand om ’n geliefde kerklied te noem, en hulle onthou dikwels nie die titel nie, maar ’n storie: My ouma het dit altyd gesing. Of: Dit was die lied by my pa se begrafnis. Kerkliedere word só geheueplekke en geloofsbelydenisse.

Elke gesang wat vandag soos ’n erfstuk voel, het ’n oomblik gehad toe ’n gemeente die melodie nog onseker gevolg en die woorde vir die eerste keer gelees het. ’n Nuwe lied gebeur nie oornag nie. Dit is juis hier waar ’n mens iets van die taak van die VONKK-werkgroep begin verstaan. Van buite kan dit voorkom asof iemand ’n mooi teks skryf, iemand anders ’n melodie komponeer en die kerk eensklaps ’n nuwe lied het. Die werklikheid is veel anders. Volgens die werkgroep kan dit minstens nege maande neem voordat ’n nuwe lied uiteindelik bekendgestel word. Dan gebeur iets besonders tydens ’n VONKK-vergadering: Party liedere word daar vir die heel eerste keer saam gesing. ’n Lied wat dalk vandag deur honderde gemeentes gesing kan word, het rondom een tafel begin, met ’n paar stemme wat nog huiwerig die nuwe melodie probeer vind.

’n Liedboek wat hierdie liedere bevat, is egter nie net papier en ink nie. Blaai deur ’n ou liedboek en jy blaai eintlik deur die geloofstaal van ’n bepaalde tyd. Saam vertel die liedere iets van hoe gelowiges God probeer aanbid het. Juis daarom is die volgende hoofstuk in VONKK se verhaal so besonders. Vir die eerste keer gaan ’n VONKK-liedboek binnekort bekendgestel word. Wat oor jare heen geskryf, gekomponeer, aangepas en deur gemeentes aangeleer is, kry nou in ’n besondere sin ’n tuiste tussen twee buiteblaaie. Gemeentes sal dus, naas die Liedboek, en nie as vervanging daarvan nie, ook ’n VONKK-liedboek in die hand kan neem.

Gereelde lesers van Blitspos sou ook gesien het dat ’n weeklikse rubriek oor kerkmusiek nou die agtergrond en liturgiese gebruik van liedere uit VONKK en die Liedboek belig. Só kan ons al beter vertroud raak met die skatkis van kerkmusiek wat tot ons beskikking is.

Dit was ook die eenvoudige, maar treffende gedagte wat uit die werkgroep se vergadering na vore gekom het: Só sing ons saam! Miskien lê die betekenis van kerkmusiek uiteindelik juis in daardie klein woordjie: saam. Nie ek sing en jy luister nie. Ook nie die voorsanger sing namens die gemeente nie. Ons sing. Vir ’n paar minute haal ’n gemeente saam asem, en baie stemme word een belydenis.

En binnekort, wanneer die eerste VONKK-liedboek sy plek in die kerk se hande vind, word ons opnuut uitgenooi: Kom ons staan stil, haal saam asem, en sing só saam.

(Hooffoto: Lede van die VONKK-werkgroep wat by Gemeente Pretoria-Oos vergader het)

(Ds Hannes van der Merwe is die voorsitter van die VONKK-werkgroep en leraar van Gemeente Pretoria-Oos.
Ds Iwana Kruger is die NHKA-joernalis en leraar van Gemeente Pretoria-Oos)