Op Sondag 13 Mei 2018 om 15:00 het Gemeente Pretoria van haar kerkgebou in Du Toitstraat afskeid geneem nadat dit aan die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) verkoop is.
Tydens die afskeidsgeleentheid – ’n erediens met Jesaja 43: 14-21 as teks – het prof Schalk J Botha ’n oorsig van die kerkgeboue wat die gemeente sedert haar stigting in 1855 gebruik het, gegee. Ds Martin Slabbert het die gemeente namens die Ring van Pretoria seën toegebid.
Terwyl die gemeente Gesang 275 gesing het, is die Kanselbybel van die kansel gehaal en aan die jongste lidmaat van die gemeente oorhandig. Daarna het die gemeente die kerkgebou verlaat.
Vir Gemeente Pretoria was die afskeid vol emosie en het soos ’n rouproses gevoel. Vir die kerkgebou het daar egter ’n ander toekoms aangebreek: dit sou voortaan deel van die Suid-Afrikaanse Reserwebank-museum wees.
Die museum is op 19 Junie 2026 ingewy, en drs Christo Pretorius en Wouter van Wyk het die geleentheid namens die gemeente en die Nederduitsch Hervormde Kerk bygewoon.
In sy inhuldigingstoespraak het die goewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, mnr Lesetja Kganyago, hom tot die president van Suid-Afrika, die minister van finansies, die burgemeester van Pretoria en ander gaste gerig. Hy het daarop gewys dat sentrale banke van ver af selfs misterieus kan voorkom. Die SARB-museum wil daarom die publiek opvoed en insig in Suid-Afrika se ekonomiese geskiedenis bied.
Die museum maak ook die kunsversameling van die SARB vir die publiek toeganklik en gee aan besoekers die geleentheid om interaktief aan simulasies van die fiskale beleid deel te neem.
Voor die kansel staan een van die eerste muntmasjiene wat in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) gebruik is – die Paul Kruger. Daarteenoor staan die orrelpype op die galery in gelid. Op die galery, links van en agter die orrel, word die geskiedenis van Gemeente Pretoria vertel.
Die projekdirekteur, Frances Andrew, het die gemeente en die Kerk van die staanspoor af by die ontwerp betrek. Die Kerk se argivaris, mnr Nandor Sarkady, asook di Carel Johann de Bruin, Frikkie van Wyk en lidmate kon insette lewer oor die stigting van die gemeente, haar kerkgeboue, die koms van die kerkklok en die gemeente se wel en wee.
Benewens die ekonomiese en fiskale verhaal, sal skooltoergroepe en ander besoekers die muntversameling kan besigtig, waaronder die gedenkpenning van 1855-1955 met die beelde van AWJ en MW Pretorius en ds Dirk van der Hoff.
Oorkant die biografiese inligting van vorige SARB-goewerneurs, hang ’n plakkaat met die gemeente se vorige kerkgeboue, waaronder dié wat deur die bouers William Skinner en die Devereux-broers op Kerkplein opgerig is. Nagmaalwaens wat rondom die kerk uitgespan was, getuig daarvan dat mense van heinde en verre dae lank gereis het om die sakramente te vier, te katkiseer, te trou en hul kinders te laat doop.
Tussen die uitbeeldings van die kerkgeboue ontvou die verhaal van Gemeente Pretoria, die vyfde gemeente in die ZAR. Die uitstalling vertel dat die gemeente reeds ’n kerkplaas was voordat die Volksraad Pretoria as regeringsetel bekragtig het. Dit wys ook hoe die mislukte kerkvereniging van 1885 sy merk gelaat het en hoe die gemeente ná oorloë en depressie weer opgestaan het. Ouderling ADW Wolmarans het die aanvoorwerk vir die bou van die Du Toitstraat-kerkgebou gedoen, wat in 1905 ingewy is.
Die teologiese opleiding onder leiding van prof PJ Muller het hier wortel geskiet. Daarbenewens kon die Algemene Kerkvergadering tot in 1957 hier vergader en besluite neem.
Ander voorwerpe beeld ook die gemeente se geskiedenis uit, waaronder ’n kerkbank, die bewaarde kerkklok en loodglasvensters wat met sorg bewaar is. Dit stem tot dankbaarheid dat die uitstalling nog twee besondere voorwerpe aan besoekers bied: ’n Kanselbybel en ’n kanselkleed, nog in Nederlands, met die woorde: Jezus alleen.
Dit is vertroostend en bemoedigend dat die gemeente se verhaal nie net in die museum vertel word nie, maar ook deur haar voortgaande verkondiging van die evangelie. Die kerkgebou het ’n nuwe bestemming gekry en die gemeente ’n nuwe horison.
Met haar oog op die Heer van die Kerk kan sy saambou – met die herinnering aan wat was, maar ook met vertroue in wat die Here nuut kan doen. Haar 175ste bestaansjaar in 2030 lê reeds op die horison.
(Dr Christo Pretorius is leraar van Gemeente Pretoria en dosent van die Hervormde Teologiese Kollege)