Die Kerk het die afgelope tyd kennis geneem van die afsterwe van di HF (Hennie) Louw (Drie Riviere) op 56-jarige ouderdom, en GJW (Gert) van der Merwe (emeritus) op 78-jarige ouderdom. Die Kerk betuig haar innige meegevoel met die eggenote en families van di Louw en Van der Merwe. Mag ons hemelse Vader julle krag in hierdie moeilike tyd gee.
Ds HF (Hennie) Louw is op 6 Januarie 1970 gebore. Ná sy skoolopleiding het hy aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer en het hy in die 1990’s ’n aktiewe lidmaat van Gemeente Philadelphia geword. Ds Louw het later van studierigting verander, na Teologie oorgeskakel en die grade BA en BD behaal. Hy is op 6 Desember 2000 gelegitimeer en op 24 Februarie 2002 georden as predikant van die NHKA. Hy het in Gemeentes Morgenzon/Breyten (2002), Carolina/Chrissiesmeer (2002), Kampersrus (2009), Newcastle (2012) en Drie Riviere (2019) gedien. Sy skielike heengaan aan die einde van Augustus het ’n groot leemte gelaat.
Ds GJW (Gert) van der Merwe is op 10 Mei 1948 gebore. Hy het sy BA- en BD-grade aan die Universiteit van Pretoria behaal en is op 28 November 1974 gelegitimeer. Sy ordening het op 25 Januarie 1975 plaasgevind, waarna hy in Gemeentes Ladysmith/Estcourt (1975), Bloemfontein (1979), Klerksdorp (1981), Kempten (1986), Meyerton (1987) en Kempton Park-Noord (1990) diens gedoen het. In 1999 het hy siekte-emeritaat aanvaar en in 2000 geëmeriteer. In 2004 het hy weer ’n beroep na Gemeente Balfour aanvaar, waar hy tot 2006 gedien het.