Tydens die afgelope gradeplegtigheid van die Noordwes-Universiteit (NWU) het dr SM (Sanrie) de Beer haar tweede doktorsgraad ontvang.

Dr de Beer is leraar van Gemeente Philadelphia, ’n Nuwe-Testamentiese navorser en ’n dosent in Grieks. As buitengewone navorser in die Skool vir Antieke Tale en Teksstudies aan die NWU fokus sy op die Brief van Jakobus, Nuwe-Testamentiese hermeneutiek, intertekstualiteit en beliggaamde Bybelinterpretasie. Sy doseer ook Nuwe Testament aan die Hervormde Teologiese Kollege en dra só by tot die vorming van toekomstige predikante. Haar navorsing bevorder ’n kontekstueel begronde omgang met die Skrif ter voorbereiding van toekomstige kerkleiers vir getroue, deurdagte en onderskeidende bediening.

Haar proefskrif, Verkenning van die tekstuurryke wêreld van Jakobus 1:1-27 – ’n Multidimensionele, beliggaamderetoriese lesing, bied ’n multidimensionele interpretasie van die Twee-Weë-motief in Jakobus.