Lees: Psalm 130
Advent bestaan omtrent nie meer nie. Waar November in die verlede die tyd was wat die handelswêreld se Kersfeesaanbiedinge begin het, het November nou Swart Vrydag-maand geword. Teen einde November of baie vroeg Desember het die meeste gemeentes reeds hulle Kerssangdienste gehad. En tussen Kersfees en Nuwejaar begin die terug-skool-toe-winskope. Daar is net nie meer tyd vir Advent nie. Gelukkig is Advent nie so belangrik nie… of is dit?
Advent is bedoel om ’n tyd van afwagting te wees – afwagting op die koms van die Messias. Vir eeue het die Israeliete gewag op die koms van die Messias, die Gesalfde, die Verlosser. Vir eeue het hulle op uitkoms gehoop. Ander volke het oor hulle regeer. Hulle is in ballingskap oor die wêreld verstrooi. Hulle moes hoë belastings betaal en groot opofferings maak. Hulle is meegesleur deur die maalkolk van die wêreld se politiek. Hulle het in ’n gat beland waar hulle self nie kon uitkom nie. Daarom het hulle gesmag na die Één wat sou kom om hulle te verlos.
Vandag verstaan baie van ons iets van hierdie smagting na verlossing – verlossing uit ’n diep gat waaruit jy self nie kan kom nie: Die bejaarde wie se liggaam nie meer wil saamwerk nie en wat sy of haar waardigheid moet prysgee. ’n Kind wat mishandel word. Die man of vrou wat nie kos het om te eet nie, of ’n bed om in te slaap nie. Die een wie se siekte nie genees kan word nie. Die een wie se liggaamsdele nie meer behoorlik funksioneer nie. Die een wat in die diep gat van verslawing geval het. Die vrou wat in vrees leef vir die man wat vir haar lief behoort te wees.
Hierdie mense weet iets van die smagting na verlossing…
Die digter van Psalm 130 sê: Uit die dieptes roep ek na U, Here (Ps 130: 1, AFR2020). Daardie dieptes is baie meer as net ’n gat. Dit is daardie plek waaruit jy jouself nie kan red nie. Daar waar jy net een hoop oor het, en dit is dat die Here jou sal verlos. In daardie diepte voel dit asof God jou verlaat het, maar jy hoop dat Hy jou tog sal help. My Heer, hoor tog my stem… (Ps 130: 2, AFR2020).
As U sondeskuld toereken, Here – my Heer, wie kan dan staande bly? (Ps 130: 3, AFR2020).
Die psalmdigter skryf sy hopelose situasie toe aan sy sonde – terwyl hy bely dat God sonde vergewe. Ná Jesus se offerdood weet ons: God vergewe ons sonde. Jesus het die volkome offer gebring om ons te verlos. Tog is dit verstommend hoeveel van ons, wanneer ons wanhopig in die dieptes is, wonder vir watter sonde ons gestraf word. En dit is menslik – ons soek die skuld voor ons eie deur.
Tog is dit hartseer hoe gereeld gelowiges nie ander vergewe soos God ons vergewe nie. Ons veroordeel dikwels: Dis sy eie slegtigheid… Dis haar eie skuld… Hulle moet met hulle besluite saamleef! Een van ons gunstelinguitsprake wanneer ons ander veroordeel is: Party sondes word dadelik gestraf!
En tog, God het ons nie geroep om te oordeel nie, maar om lief te hê. Hy het ons nie geroep om dié wat geval het, en wat hoop dat iemand hulle sal optel, verder te vertrap nie. Hy het ons geroep om sy hande en voete te wees.
Ek wag op die Here; my hele wese wag, en op sy woord vestig ek my hoop (Ps 130: 5, AFR2020).
Mag ons weer tyd maak vir Advent. Mag ons weer onthou hoe dit voel om te wag, te hoop op God se uitkoms. En mag ons, wanneer ons ander se stemme uit die diepte hoor roep, wanneer ons hulle hande sien wat deur die vloedwater meegesleur word, ons hande na hulle uitsteek.
God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het… (Joh 3: 16, AFR83). Mag ons, sy kinders, die wêreld net so liefhê!