Fisiese inperking kan ’n mens se gees ook begin inperk as jy nie wakkerloop nie. Om buite te loop, is ’n goeie teenmiddel teen inperkingskoors. Die beste geneesmiddel teen inperking is die Visriviercanyon se ooptes en eensaamheid. Niemand kom onaangeraak uit die canyon nie. Jy word fisies, emosioneel en spiritueel aangeraak en uitgedaag deur die ongenaakbare skeurvallei in die woestyn.
Ons het in 2019 bespreek om in Julie 2020 te gaan stap. Toe kom die Covid-inperking en ons kon nie gaan stap nie. In 2021 gaan die grense oop en ons kan stap, maar Covid kry eers ’n paar houe in. ’n Week voor ons vertrek sterf die man van een van die stappers. Daarna toets my buurman, ’n baie opgewonde eerstekeerstapper, positief net voor ons vertrek. ’n Paar uur later laat weet die laboratorium dat daar ’n fout was en dat hy kan “her”. Hy slaag die “her” en glimlag weer. Van toe af vermy ons die C-19-woord.
Die Visrivierstaproete is 90 km as jy heeltyd die rivier volg, met kortpaaie kan dit so kort as 66 km se stap wees. Die paadjies is nie regtig gemerk nie, maar in die woestyn verdwyn spore nie sommer nie. Hier en daar is daar merkers of net stapeltjies klippies. By baie plekke moet jy oor klippe, rotsies of rotse klouter. Ander plekke loop jy oor ronde rivierklippe of gruispaadjies, of deur sand of stof.
Ons was 11 stappers. Net drie van ons het die Visrivier al vantevore aangedurf. Vier is bo 60, een bo 50 en die ander ses tussen 21 en 27. ’n Lekker mengsel van jeug en ouderdom. So teen die derde dag sê een van die jong dametjies: Oom, dit is goed dat hier ouer mense ook is, as ons net jong mense was, sou dit nie so lekker gewees het nie. Die oom kyk van die ander kant af en stem saam.
Van die beginpunt tot onder in die canyon klim ’n mens ongeveer 500 m af. Dit is meer as 100 stelle trappe, maar hierdie is ongelyke trappe, trappe met los klippe, onewe trappe, en sonder handrelings. Aan die heel begin is dit wel nogal steil en jou swaar rugsak is nog nie gewoond aan die rondings van jou lyf nie. Soos aan alles, kom daaraan ook ’n einde. Onder is daar ’n strand en ’n diep waterpoel om in af te koel, na jy die ys so ’n bietjie eenkant toe geskuif het.
Na die afklim en die afkoel, begin die stap deur dik sand en oor en om groot klippe. Die hoë kranse weerskante laat jou verwonderd staan, jy wil alkante toe gelyk kyk én jy moet kyk waar jy trap.
Ons slaap by Soetdoringdraai. Daar is geen mensgemaakte goed in die canyon nie, jy slaap waar jy wil. Langs die rivier is daar plek‑plek sulke sandstrande. Jy kies een, gooi jou grondseiltjie oop en jou slaapsak en siedaar – ’n heerlik ruim slaapkamer met die canyon se kante jou mure en die sterrehemel jou plafon. Hier teen die klein uurtjies van die môre was dit baie koud.
Met oggendgodsdiens vra ek of die groep al gedink het aan die ontstaan van die skeurvallei. So 650 miljoen jaar gelede het die plate in die aardkors geskuif en was daardie gedeelte onder water. Teen 350 miljoen jaar gelede het die skeurvallei met sy hoë kante gevorm en die water-erosie het verder bygedra tot wat ons vandag sien. Ek lees toe Psalm 104: 1-11 waar dit beskryf word. Toe stap almal in verwonderde stilte verder.
Die Visrivier se paadjie loop die eerste drie dae veral oor groot rotse en klippe en klipplate en sand. Die canyon se skouers is naby, die rotse se vorms en kleure vertel ’n storie. Ons vorder goed van rusplek tot rusplek. Daar is klagtes, maar meer lag‑tes, want as jy in die Vis is, is daar eintlik net een moontlikheid, jy moet anderkant uit. So van die tweede dag af kry sommige voete blase. Van die derde dag af loop een jong man kaalvoet.
Die een mikpunt van die tweede dag was die Vespa-motorfiets. In 1968 is ’n paar studente deur die Vespa-klub in Kaapstad uitgedaag om die roete met Vespas te ry. Hulle het verkenning gaan doen en besluit dit is 99% onmoontlik. Die 1% was egter groot genoeg om die uitdaging te aanvaar, hulle was immers studente. Hulle het die een Vespa strepe soos ’n sebra geverf, een soos ’n kameelperd en een soos ’n luiperd en het dit Veni, Vidi, Vici gedoop. Ses man het saamgewerk, maar met die afklim het Veni teen ’n krans af flenters geval, die ander twee is uitmekaar gehaal en stuk-stuk afgedra. Die gewone afklim neem twee ure, met die motorfietse se stukke was dit twee en ’n half dae en baie beserings later voor hulle onder was. Hulle het wel entjies gery gekry en die Vespas ook op binnebande op die water laat dryf, tot Vidi afgeval en gesink het. Vici het op die harde terrein en in die stof meganies heeltemal onklaar geraak en is daar gelos. Vidi is later uit die water gehaal en staangemaak waar die water hom nie kan bykom nie. Jy loop nie daar verby sonder om ’n foto van jou op die Vespa te laat neem nie.
Palm Springs. Daar is ’n stroom baie warm water wat in die rivier inloop en daar is regte palmbome, maar nie strandsambrele en koue verversings nie. Elke moeë stapper moet/wil daar bad. Ons het daar geslaap ten spyte van die swaelreuk wat af en toe oor ons gewaai het. Wanneer die maan donker is, is die sterre so naby, jy kan op jou rug lê en met jou kierie se punt teen die sterre tik – wel amper.
Humor hou ons aan die gang. Soms draai die canyon so dat voor agter word en oos word wes en noord en suid raak ook deurmekaar, maar hou net stroomaf, dit sal jou by Ai‑Ais bring. Die barheid van die klipkranse en omgewing het my aan ’n hele paar Pelgrimspsalms laat dink. Die verweerde klip laat jou ver dink aan wat tyd eintlik is. Daar groei ’n geharde wildevyspesie en abiekwasgeelhout, wat eintlik ’n tamarisk is, ook kameeldorings en ander doringbome.
Dag Vier raak die canyon plek‑plek oper. ’n Paar rante oor sien ons weer die rivier en daar hardloop ’n mooi koedoe in die verte. Lang ente oor ronde rivierklippe laat ’n mens verlang na sand, en lang ente sand laat ’n mens verlang na klippe. Ek dink die woord “onherbergsaam” kon sy ontstaan hier gekry het. Daar waar ’n mens na die Viervingerklip omkyk, loop ’n dowwe tweespoorpaadjie.
Ons mikpunt is Thilo von Trotha se graf. Die jong Duitser het uit ’n trotse soldategeslag gestam. Hy het as vrywilliger aan die Boerekant in die Engelse Oorlog geveg. Sy oom, generaal Lothar von Trotha, was die Duitser se bevelvoerder in die destydse Duitswes-Afrika. Die jong Thilo is op 14 Junie 1905 daar in die Visrivier verraderlik deur een van die Bondelswarts van kaptein Johannes Cornelius doodgeskiet terwyl hy vredesonderhandelinge aangevoor het. Lees die volle verhaal in CNL van Huyssteen se boek Die Eensame Graf in die Visriviervallei (1983, CUM Boeke).
Ons het baie kilometers vir die laaste dag gelos omdat die canyon nou meer oop is met koppies en rante. Die kortpaaie loop reguit en die rivier kronkel. Die heuwels het my aan die bergland van Juda laat dink. Die padoppervlakte is meestal gruis en loop maklik. Die russtoppe word al korter en almal wil net stap om by Ai‑Ais te kom. Daardie welverdiende eerste koue bier het goed gesmaak, en daarna het ’n verkwikkende swem in die warm swembad alle seer spiere getroos. Laat die volgende dag het ons eers weer aan die inperking gedink.
(Ds Thomas Joubert is leraar in Gemeente Swellendam)

Die beginpunt

Oud en jonk stap saam

Oornag by Soetdoringdraai

Die Vespa-motorfiets

Klein naas reuse!

Ons bad by Palm Springs

Die Viervingerklip se agterkant

Thilo von Trotha se graf