Stuur vandag slegs een positiewe boodskap aan die ouers van ’n kind in jou klas of sportspan.
Wanneer die personeel die personeelkamer verlaat na afloop van die opening daardie oggend, is daar ’n gegons… Ek besef met ’n skok hoe maklik ons talle negatiewe e-posse uitstuur elke dag. Let asseblief op u kind se voorkoms, onbevredigende punte, swak gedrag, en vele meer.
Maar doen ons dit nie oral in ons lewe nie? Hoe bly ’n mens positief in ’n negatiewe omgewing? Waarmee bly ons gedagtes besig in hierdie tye? Hoe klink my gesprekke elke dag met my gesin en my kollegas by die werk?
Ek kyk na my beeld in die spieël. Ek sien die karbonkel op my ken, maar nie die mooi oë nie. Ek onthou dat Manlief nie die asblik leeggemaak het nie, maar vergeet van die koffie wat hy vir my in die bed gebring het.
Ek mor oor die taxi wat voor my indraai, maar vergeet van die vriendelike motoris wat my voorkeur gegee het by die stopstraat. Ek sien die vuil sypaadjie, maar kyk die pragtige roosbedding in die tuin mis.
Ek twyfel dat God my gebede ooit sal verhoor, maar vergeet van die vele kere in die verlede toe Hy so getrou uitkoms bewerk het.
Wilma Bedford skryf op Solidariteit se webwerf ’n artikel oor positiewe mense. Sy stel dat hulle gereed is vir nuwe ervarings en nie bang is vir verandering nie. Hulle neem verantwoordelikheid, reik uit om ander te help, en is gretig om ander te sien slaag.
Daarteenoor blameer negatiewe mense ander vir hul mislukkings, dink slegs aan persoonlike gewin en hoop om ander te sien misluk. Hulle kan ook nie kritiek hanteer nie.
Kies jy maar self watter persoon jy gaan wees? Die goeie nuus is, jy kan dit verander! Dit gaan dalk oefening en konsentrasie verg, maar jy kan jou brein herprogrammeer om positief te dink.
Selfs die Bybel maan ons om ons gedagtes te beskerm. Ons moenie net versigtig wees met dit wat ons deur ons oë en ore inneem nie, maar ook deur dit wat ons dink.
In Filippense 4: 8-9 staan: Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.
Een van die grootste geheime tot positiewe gedagtes is dankbaarheid. Ons moet harte hê wat oorloop van dankbaarheid, want dan sal ons minder fout vind met mense en dinge waaroor ons in elk geval geen beheer het nie. Volgende keer dat jy jouself vang negatief dink, gryp die gedagte vas en gooi dit summier by die venster uit, en vervang dit met dit waarvoor jy dankbaar is. Glo my, jy het baie om voor dankbaar te wees.
Jy moet doelbewus kies om positief te dink, en met ’n dankbare hart die lewe aanpak. Probeer dit vir ’n week en kyk hoe verander jou uitkyk op die lewe. Positiewe gedagtes kos niks, maar kan lewensverrykende gevolge hê!
Die woorde van Mel Robbins motiveer die besluit: Om positief te bly, beteken nie dat dinge goed sal wees nie. Inteendeel, dit is om te weet dat dit goed gaan met jou, ongeag hoe dinge gaan.
Die Nederlandse gesegde In slegte weer, goeie gesig bevestig hierdie keuse om positief te wees. Dit bly jou keuse of jy die negatiewe van nou af eerder met ’n positiewe benadering in die gesig gaan staar. Voorwaar ’n moeilike keuse, maar tog moontlik.
Sterkte, my vriendin… Mag jou glas elke dag halfvol wees.
NHSV Sekretaris: Noord-Transvaalstreek
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)