Geagte Redaksie

Die artikel van prof Ernest van Eck in Die Hervormer van Oktober 2021 is ter sake.

Prof Van Eck wys aan die begin van sy artikel die dwaashede af van talle lesers wat via die internet skielik kenners op die gebied van virologie is. Daarvan kan niemand met goeie verstand verskil nie, veral nie in die geval van diegene wat met ’n godsdienstige of ’n politieke “sousie” en samesweringsteorieë hulle teenkanting teen die inenting teen Covid-19 begrond nie. Sy veralgemening hulle wat teen inentings is, voer ’n emosionele, onwetenskaplike en oningeligte argument, en wat daarna volg, verdien egter aandag.

Met die stelling As jy jou naaste liefhet, sal jy jou laat inent skep prof Van Eck werklik die indruk dat dié wat hulle nie laat inent nie, hulle naaste nie liefhet nie. Daarteen maak ek ernstig beswaar. Dit staan prof Van Eck vry om die heersende narratief oor die entstof volledig te aanvaar, maar dan moet hy hom oor die volgende verantwoord: Waarom moet diegene wat hulle volledig laat inent het, dan nog maskers dra en die reëls wat neergelê is, nakom? Dit is tog ’n erkenning dat die entstof nie voldoende beskerming bied nie, en dat selfs iemand wat ingeënt is, nog die siekte kan oordra of self kan opdoen.

Die volgende is nie drognuus nie, maar feite wat geverifieer kan word: ’n Verslag van Public Health in Engeland oor die afgelope tyd tot 17 September 2021 dui aan dat daar sowat 750 000 nuwe Covid-gevalle was; daarvan kan ongeveer 600 000 toegeskryf word aan die Delta-variant. Hiervan was 43% pasiënte oningeënt, 47% ten volle ingeënt en 30% deels ingeënt. Onder hierdie 600 000 gevalle was daar 2 542 sterftes waarvan 63% ten volle ingeënt was, en 28% glad nie ingeënt nie. Die World Health Organization het die volgende betekenisvolle sinsnede op hulle inligtingblad: …COVID-19, which we do not yet fully understand and are still learning how to treat. Die saak is dus nie so eenvoudig nie.

Ek en my vrou, ons oudste dogter, ons skoonseun en een van ons kleinkinders het Covid gehad wat gewissel het van absoluut dodelik siek tot byna geen simptome nie. Proewe in Israel dui daarop dat ’n mens beter weerstand het teen die siekte as jy dit oorleef het, as wanneer jy ingeënt is. Ons laat ons dus nie inent nie, ook nie die res van ons gesin nie. Wat ons wel doen, is om die reëls oor maskers, sosiale afstand, ensovoorts, toe te pas waar dit nodig is, en om, as ons in aanraking was met iemand wat vermoedelik die siekte onder lede het, weg te bly van ander mense wat dalk deur ons besmet kan word. Dit is naasteliefde – as ons dan so ver moet gaan om opdragte in die Bybel van toepassing te maak op die pandemie wat ons tans beleef. Ek sal niemand op grond van verse in die Bybel aanraai om hom of haar te laat inent nie. Dit is ’n vrye keuse waaroor elkeen in eie omstandighede besluit.

Prof Andries Breytenbach, Emeritus/Vanderkloof

 

[Dankie vir u skrywe, Professor. As redaksie, is dit ons verantwoordelikheid om te sorg dat statistieke wat aangehaal word, betroubaar is. Die COVID-19 vaccine surveillance report, Week 38 van Public Health, England, stel oor die effektiwiteit van die vaksien dat dit tussen 65% en 95% effektief is teen simptomatiese siekte, tot 90% effektief is teen hospitalisasie (Deltavariant) en tot 90% beskerming bied teen sterfte (beide Alpha- en Delta-variant). Dié verslag van Public Health England is hier beskikbaar. – Redaksie]