Geagte Redaksie
[Na aanleiding van dr Kobus Labuschagne se artikel “Hervormingsondag Oktober 2021” in Die Hervormer van Oktober 2021]
Graag stel ek voor dat die verdrukte Protestante wat onder die Habsburgse dinastie in verskillende lande gely het, jaarliks herdenk word. Vervolging het op 25 Mei 1521 met die uitvaardiging van die Edik van Worms deur Keiser Karel V begin en tot minstens 1648 akuut voortgeduur. Dit het die Inkwisisie behels en ook tot oorlogvoering gelei. In die Nederlande was dit veral erg vanaf die 1540’s tot die laat 1500’s. Die lydende geloofshelde behoort elke 25 Mei, na my mening, gehuldig en vereer te word. Indien steun te vinde sou wees, kan hierop uitgebrei word, maar van belang is dat die Habsburgse vorste meedoënloos, deurlopend teen Protestante, veral oos van die Ryn, wreed opgetree het, dikwels ten einde guns by die destydse Pousdom te verkry.
U oorweging hiervan ter opvolging, sal hoog waardeer word. By voorbaat, opregte dank.
Adv André D le Roux (Diaken, Bronkhorstspruit)
Ek is beïndruk deur adv André le Roux se insig en opmerkings en dink dat die saak waarna hy verwys meer aandag behoort te verdien. In die Kerklike Kalender het ons wel jaarliks by einde Augustus die Herdenking van Bartolomeusnag 1572 wat die aandag vestig op die Protestantse geloofsmartelare, maar in praktyk word nie werklik veel meer aandag daaraan gegee as aan die onmiddellike gebeure rondom die sogenaamde Bloedbruilof nie. Ek onderneem om sy gedagtes onder die aandag te bring van ons Kerk se Kerkhistoriese Genootskap. Intussen is hy, en ook ander, welkom om my direk te kontak by kobus.labuschagne.jp@gmail.com.
Dr Kobus Labuschagne