Tydens die legitimasiegeleentheid van Donderdagmiddag 18 November 2021 is twee studente toegelaat tot die evangeliebediening. Hulle is Hanri Aucamp en Yvette (Marais) Scholtz.
Prof Yolanda Dreyer het die erediens gelei in die kerkgebou van Gemeente Philadelphia. Daarna het die skriba van die Kommissie van die AKV, ds Willem Kok, die ondertekeningsformule voorgehou. Die kandidate het hardop daarop geantwoord en die dokument onderteken. Hulle het elkeen ’n Akte van Toelating tot die Evangeliebediening ontvang, asook die Diploma in Kerklike Bediening.
Hanri Aucamp het toekennings in al die vakdissiplines ontvang, onder meer die Cules Boshoff-erepenning en die toekenning vir akademiese prestasie – 80,2% vir die BDiv-graad en 75,11% vir die MDiv-graad (’n gemiddeld dus van 77,66% vir die twee grade).
Die twee proponente is beroepbaar in die Kerk gestel.