Op Dinsdag 2 November 2021 het die NHKA en die Universiteit van Pretoria ’n nuwe ooreenkoms onderteken oor die voortgesette teologiese opleiding van die Kerk se predikante.

Die NHKA se vennootskap met UP het reeds in 1917 begin toe die Fakulteit Teologie by die Transvaalse Universiteitskollege Pretoria (TUK) met die steun van die NHKA en die Presbiteriaanse Kerk van Suider-Afrika (PKSA) gestig is. Sedertdien is die NHKA die enigste kerklike vennoot wat ’n volgehoue verhouding met die Fakulteit gehandhaaf het, ondanks vele ingrypende veranderinge oor 104 jaar.

Verskeie ooreenkomste is oor die jare aangegaan, onder meer op 24 November 1999 om voorsiening te maak vir die stigting van die Hervormde Teologiese Kollege (HTK) wat verantwoordelikheid neem vir eie kerklike programme. Die nuwe ooreenkoms van 2 November het nodig geword aangesien die NHKA in 2019 die teologiese tydskrif Hervormde Teologiese Studies om strategiese redes vervreem het. Dit was toe nodig om alle bepalings met betrekking tot die HTS te verwyder. Die NHKA en UP het ook besluit om vorige ooreenkomste (oor teologiese opleiding en oor die HTK) in ’n enkele nuwe ooreenkoms te konsolideer.

Met die nuwe ooreenkoms het UP opnuut die verbintenis onderteken om die opleiding van predikante vir die NHKA te fasiliteer, vyf voltydse dosenteposte vir die NHKA te handhaaf, en die HTK se verband met die Fakulteit te bevestig. Die HTK is verantwoordelik vir eie kerklike opleiding en programme. Dosente van die HTK word ook deur UP geakkrediteer en kry die geleentheid om by navorsing betrokke te wees en om nagraadse studente te begelei.

(Op die foto: Ds Willem Kok, skriba van die Kommissie van die NHKA, en prof Tawana Kupe, visekanselier en rektor van UP, besig met die ondertekening)