Egte Elphie van Eerstelingsfontein vra: Beste Oupa Stoep, ek wonder: As Oupa enige geskenk vir Kersfees sou kon kies, wat sou Oupa graag wil hê?
Beste Elphie, Oupa het inderdaad iets wat hy erg begeer om as geskenk te ontvang, maar iemand slim soos ’n Elon Musk of ’n Rassie Erasmus sal dit eers moet ontwikkel. Oupa wil graag ’n stelsel hê waarmee hy ’n boodskap op sy motor se ruite kan vertoon wat ’n mede-motoris kan lees.
Oupa sal, byvoorbeeld, op sy agterruit vir iemand wat op sy toeter lê ’n millisekonde nadat ’n verkeerslig groen geslaan het, wil sê: Lyk ek vir jou soos ’n profeet wat weet wanneer die lig gaan verander? Of vir iemand wat te naby aan hom ry As jy nog nader kom, gaan hulle jou saam met my blindederm moet verwyder!
Op sy voorruit sal Oupa vir iemand wat in die vinnige baan op die snelweg aankruie, wil wys: Is jy dalk ’n een-voertuig-begrafnisstoet? By ’n vierrigting-stopstraat sal Oupa graag vir ’n jaagduiwel of ses op sy kantvenster wil vertoon STOP staan nie vir Sit Toon Op Petrol nie!
Oupa se droom-Kersgeskenk sal hy egter nie net gebruik om ander motoriste mee uit te trap nie. As hy dalkies ’n te swaar voet op die versneller gehad het en ’n geregsdienaar trek hom af, sal Oupa graag ’n Bybelvers wil vertoon, soos Die liefde hou nie boek van die kwaad nie. As die man in uniform egter ’n hart van klip het, sal Oupa met die wegtrekslag die woorde van die spietkop-Psalm, Psalm 10, op die agterruit vertoon: Hy lê onskuldiges voor agter die heinings en vermoor hulle in die geheim. Hy loer rond in die donker. Hy lê op die loer in ’n wegkruipplek soos ’n leeu agter ’n bos, hy lê op die loer om die hulpelose te vang. Hy vang hom en trek hom vas in sy net, hy slaan hom dat hy inmekaar sak. So kry hy die arme mens in die hande.