Ons is al almal deur familie of vriende uitgenooi na ’n troue, ’n doop of ’n geloofsbelydenis, met die doel om getuies te wees van wat gaan plaasvind.

Maar elkeen van ons is elke dag besig om na die mense om ons se lewens te kyk. Ons sien hoe vinnig ons kinders grootword. Ons sien hoe kinders presteer op skool. Die swaarkry waardeur mense gaan, word raakgesien. Baie keer hoor ons selfs hoe mense van ander praat en vertel van iemand wat iets verkeerds gedoen het, of hoe iemand ’n ander persoon te na gekom het. Ons wonder hoe iemand so sonder liefde vir sy medemens kan leef, so baie kan drink of vloek.

So kan ’n mens al die dade opnoem wat ons elke dag by ander by die werk of by die skool, in ons families, in die publiek en selfs in die kerk sien, daar waar ons getuies is.

Nou die dag by my werk, toe een van my kollegas met my as bestuurder kom praat, besef ek dat mense ook na my lewe kyk. Hulle is ook getuies van wat ek in my lewe doen. My kollega wou weet wat ek sal doen as ek sou uitvind dat ander agter my rug sleg praat van my. Dadelik weet ek dis ’n geleentheid om as Christen te getuig. My raad aan hierdie persoon – laat jou lewe en aksies hulle verkeerd bewys. Dis nie nodig om iets anders te doen nie.

Ons is baie gou om ander te oordeel terwyl ons ’n “getuie” is van hul lewens, maar ons vergeet meestal dat ons eerder ’n getuienis moet lewer deur ons eie optrede elke dag. Want as ander na jou lewe kyk en getuies is van jou lewe, moet jou lewe ’n getuienis wees van waarin jy glo. Jou lewe moet wys dat jy ’n kind van die almagtige God is. Dat jy sy genade ontvang het en daarom lewe met liefde eerder as haat in jou hart.

Nou vra ek, waarop konsentreer jy? Om ’n getuie te wees, of om getuienis te lewer?

NHSV Streekvoorsitter: Oos-Transvaal-streek

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)