Nou, ’n eeu na die Randse mynstaking wat deur verskillende bronne met woorde soos opstand, gewelddadige staking, moord en doodslag, verwoesting van eiendom en werksverlies beskryf word, klink dit vir Suid-Afrikaners dalk nie so onbekend nie, sedert die winter van 2021 toe beelde van opstand in KwaZulu-Natal en Gauteng sigbaar was.

Die gewelddadige opstand van 1922 was ’n gebeurtenis waaraan heelwat Afrikaanssprekende mynwerkers deelgeneem het en wat derhalwe ook ’n invloed op die Hervormde gemeentes aan die Rand gehad het. Werkloosheid, swak en onseker werksomstandighede en voortdurende armoede het die arm Afrikaner na die stad gedryf vir dekades na 1902. Daar is steeds te min kerkhistoriese navorsing gedoen oor hierdie moeilike swaarkrytyd, ’n uitdaging vir alle diakonale sake. 1922 se staking was veel meer as ’n stuk industriële geskiedenis, en die gevolge daarvan in die gemeentes word stuk-stuk ook in die amptelike dokumente van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, kerkraadsnotules en enkele predikante se privaatversamelings gevind. Die Kerkargief ontvou in die volgende twee artikels iets van hierdie gebeure.

Dit is belangrik om die agtergrond te skets. Johannesburg het vanaf 1886 soos paddastoele gegroei en was met Uniewording in 1910 reeds ’n enorme stad in Suid-Afrikaanse konteks. Verarmde Afrikaners het na die Rand gestroom op soek na werk, dikwels in gesinsverband. Tussen 1912 en 1921 het verstedeliking van Afrikaners aan die Rand met 28% toegeneem. Dikwels het Afrikaners in agterbuurtes van die genadelose groot stad beland: in voorstede soos Fordsburg, Burgersdorp en Vrededorp aan die westekant, naby die middestad. Die haglike omstandighede het vinnig tot sedelike verval gelei. Drankmisbruik en prostitusie het gedy. Die vinnig groeiende gemeentes van die drie tradisionele Afrikaanse kerke wou veral die kwessie van morele verval aanpak.

Die Hervormde Gemeente Johannesburg is in 1895 gestig en het in 1899 al 2 200 siele getel, waarvan 600 belydende lede was. Weens swak ekonomiese omstandighede kon die gemeente eers in 1908 hul eerste kerkgebou voltooi toe ds LE Brandt pas in die gemeente gekom het. Hy sou tot 1923 die herder en leraar bly en groot bydraes lewer op alle terreine. In hierdie tydperk beskryf ds Brandt die gemeente as ’n vlottende en trekkende bevolking. Hy verwys na die gedurige in- en uitvloei van lidmate, in en uit die stad. Baie Afrikaners het die stad as iets tydelik gesien – vir ekonomiese gewin – en gedroom om weer terug te gaan plaas toe, iets wat meestal nooit gebeur het nie. (Die vroeë Afrikaanse plaasromans soos van CM van den Heever beskryf hierdie era vol patos.)

Die trekkery het sensus- en statistiekopnames in die gemeentes baie moeilik gemaak. Daar word geskryf dat lidmate eers jare later weer in ander voorstede opgespoor is. Ondanks die tergende omstandighede was kerkbesoek iets waarop ’n hoë premie geplaas is. In die Engelstalige The Transvaal Leader (16 Januarie 1909) is iets besonders oor die Hervormde gemeente met hul nuwe kerkgebou opgeteken: …there is perhaps no other minister in Johannesburg [verwys na ds LE Brandt] who can say that his church is filled to overflowing and that at evening service even standing room is eagerley sought for.

Tydens en direk na die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) het die strome mense na die stad verder toegeneem, en Afrikaners wat reeds in groot getalle op die myne gewerk het, het nog meer geword. Die ingewikkelde arbeidskonstruksies en wedywering van duur wit geskoolde arbeid teenoor goedkoop swart ongeskoolde arbeid het na die einde van die Anglo-Boereoorlog in 1902 tot 1922 en daarna net bly toeneem. Daar is na die kleurslagboom verwys, waarmee bedoel is dat sekere geskoolde werk vir wit mynwerkers gereserveer was. Dit het onder meer ingehou dat die skiet met dinamiet en bediening van sekere mynmasjinerie slegs deur blankes gedoen mag word. Blanke mans het hierdie regte angsvallig probeer beskerm.

Daar was reeds na 1902 vakunies, maar baie Afrikaners het nie daaraan behoort nie; hoofsaaklik Engelssprekendes het wel. In 1907 en 1913-’14 was daar groot stakings waarby Afrikaners ten nouste betrokke was. Omdat hulle nie deel van vakunies was nie, het hulle ook geen voordeel getrek nie. Eers na die 1914-stakings sou hulle, ondanks etiese debatte oor vakunies, toenemend begin deelneem juis om arbeidsvoordeel te probeer beding. Teen 1916 was 90% van die “goedkoper” arbeiders Afrikanermans, maar hulle kon byna nooit daarin slaag om deur Engelse mynbase in hoër poste aangestel te word nie. Dit het hulle onvergenoeg en onseker gelaat oor werksbehoud. Mynwerkers het dikwels van myn na myn getrek op soek na beter opsies of om by ’n sekere skofvoorman te bly.

Hierdie onsekere omstandighede was ook in die sosio-maatskaplike lewe sigbaar. Kerklike hulp vir armoede-verligting was nog ongeorganiseerd en sporadies, en daar was nog vir ’n hele aantal jare geen ekstra hulp soos wat Die Ondersteuningsraad later sou bied nie. Die arm Afrikaanse gemeentes het relatief min self vermag vir voedselbydraes en geld aan hulpbehoewendes, en eerder probeer om ’n beroep op die owerheid te doen. Die nagevolge van die 1922-staking sou dit verander en op ’n manier ’n einde bring aan die gemeentes se deels passiewe houding teenoor hierdie maatskaplike agterstand.

Na die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) en die golwe Spaanse Griep van 1918-’19 was daar slegs ’n klein ekonomiese oplewing, maar teen einde 1921 het die mynekonomie groot probleme gehad. Om produksiekoste te besnoei, is aangekondig dat ’n groot aantal mynwerkers – waaronder ook Afrikaners – afgedank sou word en die ondergrondse werk herorganiseer sou word sodat die “duurder” blankes deur goedkoop swart arbeid vervang kon word.

Die verhoog was nou gereed vir die dramatiese gebeure wat van Januarie tot Maart 1922 sou afspeel, met tragiese gevolge toe die Smuts-regering die opstand van werkers met brute geweld sou onderdruk. Die rimpelings veroorsaak deur die stakers het ook in die Hervormde Gemeente Johannesburg dodelike gevolge gehad.

Foto: Die oorspronklike foto uit die Kerkargief van die inwyding van die eerste Hervormde kerkgebou in Vrededorp op 12 en 13 September 1908

Lees in Maart se uitgawe meer oor die verloop van die dramatiese dae in Maart 1922 en die impak op en optrede van Hervormde gemeentes.

(Nándor Sarkady is die argivaris van die NHKA)