Geagte Redaksie

Ek is ingeënt. My dokter het daarop aangedring weens my mediese toestand. ’n Vriend is oorlede drie dae nadat hy Covid opgedoen het, aangehelp deur sy onderliggende mediese toestand. 

Ek volg die vordering van twee mense wat ’n onderliggende mediese toestand het. Die een is behandel totdat die dokter gesê het hy mag die vaksien ontvang; die ander het die eerste spuit ontvang sonder dat hy behandel is. Hy het dodelik siek geword en sal maande neem om te herstel.

My familie werk in die nooddienste. My kleinseun is een van die eerstes wat die vaksien ontvang het. Hy het Covid opgedoen. Eerste dag erge griep, van die tweede dag af het hy weer geëet, binne drie dae het hy herstel. Sy broer was simptoomloos as Covid-lyer, sy ouers het swaar geleef met hul Covid. Ek en my vrou het vitamiene en Quinine geneem en is die virus gespaar.

My kleinseun moes tot 18 uur per dag Covid-lyers hospitaal toe neem, en wanneer die plaaslike hospitale oorvol was, na Pretoria – net om te verneem die naaste opening is in Kimberley. ’n Man het daar gesterf en sy familie was nie naby nie. Toe die inentings na 20% neig, het die gevalle dramaties afgeneem. Tot nou toe – ek wonder wat die uiteinde van die vierde vlaag gaan wees. Ek bid nie erg nie, want ons is darem so 30% ingeënt.

Weet u hoe brandweermanne sukkel om elektriese voertuie wat brand, te blus? Tot 40 kiloliter water is nodig. Daar is nog nie ’n effektiewe blusmiddel vir vinnige hantering van so ’n brand nie, hulle toets nog om een te ontwikkel. Dit verhoed hulle nie om nogtans te probeer, met die middele en kennis wat hulle het, om dié brande te blus nie. Tog koop mense al hoe meer elektriese voertuie wat van fossielbrandstof afhanklik is om gelaai te word.

Dieselfde met die vaksiene. Om deeglik getoets te wees, behoort die wetenskaplikes tien jaar gegun te word. Hoeveel miljoen sou dan al gesterf het indien hulle nie gesê het probeer hierdie, die toetse is belowend nie?

Ek dra my masker en volg die protokol om my teen mense te beskerm wat nie ingeënt is nie en om hulle teen my te beskerm, sou ek die virus opdoen en simptoomloos wees.

Respekteer my siening wanneer ek ook sê: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie (Luk 4: 12). (Verkort)

Willie Nel, Secunda

*** Na aanleiding van prof Ernest van Eck se artikel (Oktober 2021) en prof Andries Breytenbach se repliek daarop (November/Desember 2021), is verskeie briewe van lidmate ontvang. Ons sluit hiermee die debat af.