Teleurgestelde Tillie van Tsumeb vra: Beste Oupa Stoep, ek het sulke mooi voornemens vir hierdie nuwe jaar gehad, maar hulle het almal hier teen middel Januarie gesneuwel. Het Oupa dalk vir my raad hoe ek meer deursettingsvermoë kan hê in die toekoms?
Beste Tillie, Oupa dink die beginpunt is om nie te veel verwagtings te koester op ’n tyd soos Januariemaand nie. Dis maar net nog ’n maand soos al die ander maande.
Maar jy bevind jou in goeie geselskap met die maak van nuwejaarsvoornemens. Die Babiloniërs het 4 000 jaar gelede al die gebruik gehad om op hul Nuwejaar allerhande beloftes aan hul gode te maak oor wat hulle anders of beter sal doen in die jaar wat voorlê. Ek vermoed die meeste van hul beloftes het sommer gou gesneuwel, want die Babiloniërs het ’n elf dae lange swelgfees gehad om die nuwe jaar mee in te lui!
Oupa het wel vir jou twee stukkies raad: Moenie te groot hap met jou voornemens nie en werk met ’n plan. Pasop vir ’n voorneme soos Ek gaan vanjaar die Comrades Marathon hardloop. Begin eerder met iets soos: Ek gaan drie dae ’n week vir 20 minute lank stap, maar my plan is om elke week die tyd met vyf minute te vermeerder en elke maand nog ’n dag ekstra elke week te stap.
Oupa se nuwejaarsvoorneme wat die beste gewerk het, het op dié twee beginsels berus. Oupa het êrens die raad gekry om op Dag 1 van die maand een ding weg te gooi, op Dag 2 twee dinge en so tot Dag 31 wanneer jy van 31 dinge ontslae raak. Op Dag 1 van Maand 2 begin jy weer deur een ding weg te gooi, en so hou jy aan.
Oupa het mooi gevorder met hierdie voorneme en het vasgebyt tot die April-skoolvakansie. Hy het toe uitgewerk dat hy met hierdie plan 42 356 128 maande nodig gaan hê om orde net in sy studeerkamer te skep. En toe sneuwel dié voorneme ook…