Talle navrae is die afgelope tyd ontvang oor die posisie en omstandighede van die tehuise van Ons Tuis en die Monumentehuise van die NHSV. Hierdie artikel is ’n poging om antwoorde te gee op die belangrikste aspekte van die navrae.
Is die tehuise van die Kerk verkoop, en aan wie?
Op hierdie vraag is daar twee antwoorde:
- Die tehuise het nooit aan die Kerk behoort nie. Dit het aan twee artikel 21-maatskappye (volgens ou wetgewing), naamlik Ons Tuis en Monumenttehuise, van die NHSV behoort.
Ons Tuis Riviera se geskiedenis dateer uit 1929 toe die eerste huurhuis in Schubartstraat betrek is, onder leiding van mev Machteld Postmus, stigter van Ons Tuis. Die tehuis was later nie meer voldoende vir die aanvraag nie, en ’n groter huis moes vir inwoners in Zoutpansbergweg gehuur word. In 1932 is grond deur die staat aan Ons Tuis geskenk, en met ’n uitruiltransaksie is geboue bekom. In 1942 het die NHKA meer direk by die versorging van Ons Tuis betrokke geraak en het die maatskappy van krag tot krag gegaan met bydraes vanuit die Kerk.
Die NHSV was een van die baanbrekers op die terrein van bejaardeversorging, van veral verswakte bejaardes en bejaardes met demensie. Van Rensburgtehuis was een van die eerste inrigtings in die land vir bejaardes met demensie. Die Nasionale Kongres van 1948 het toestemming verleen tot die stigting van ’n maatskappy bekend as die Monumenttehuise.
- Nie een van die tehuise is verkoop nie. Strategiese beplanning in 1994 het daartoe gelei dat die direksies van Ons Tuis en die Monumenttehuise nouer begin saamwerk het. ’n Oorkoepelende skakelkomitee tussen die twee maatskappye is gevorm en bejaardesorg is in oorleg en samewerking met mekaar gedoen onder leiding van die bestuurder van bejaardesorg.
Met die oog op amalgamasie is daar reeds in 1999 ’n konsep-samewerkingsooreenkoms tussen die twee maatskappye aanvaar en is ’n gesamentlike bestuurskomitee gevorm. Die twee maatskappye het weer in 2015 strategiese beplanning gedoen, veral in die lig van veranderende omstandighede en wetgewing, asook die duplisering van werk. Dit het gelei tot die amalgamasie van die twee maatskappye wat nou bekendstaan as Ons Tuis (MSW). Dit was ’n amalgamasie (samesmelting). Niks is aan enigiemand verkoop nie.
Aan wie behoort die tehuise?
Die tehuise met alle geboue behoort aan die geamalgameerde maatskappy Ons Tuis (MSW). [MSW = maatskappy sonder wins.] Volgens konstitusionele bepalings is die geboue van die NHSV Monumenttehuise oorgedra in die naam van Ons Tuis (MSW). Dit was alleen moontlik omdat die geboue gebruik word vir presies dieselfde doel, naamlik versorging van bejaardes. Daarom was hereregte en oordraggelde nie betaalbaar nie. Dit was ’n wetlik korrekte handeling met toestemming van albei vorige direksies asook die NHSV Kongres en in terme van SAID-wetgewing.
Die eiendomme van Ons Tuis (MSW) is geregistreer in die naam van die maatskappy en dus behoort die eiendomme aan die maatskappy.
Alle kontrakte tussen Ons Tuis en die ou Monumenttehuise, soos woonregeenhede en bejaardes wat eiendom in die oorde gekoop het, sal steeds eerbiedig word. Eiendomme en geld wat daarin belê is, is dus veilig en kontraktueel steeds bindend.
Hoe is die direksie saamgestel?
Die direksie bestaan uit 11 direkteure: agt lede uit OTMT (vier aangewys deur Ons Tuis en vier deur die NHSV); een elk afgevaardigde van die ADV en die AKV; met die bestuurder: OTMT wat ex efficio lid is.
Ons Tuis se direksie is verantwoordelik vir die instandhouding van die infrastruktuur, personeel en bedryf van die tehuise en alle fasiliteite. ’n Finansiële komitee, bestaande uit vyf direkteure, die rekenmeester en bestuurder: OTMT, hou vier keer per jaar vergadering en monitor die finansiële aspekte vir goeie finansiële bestuur.
Hoekom is gemeentes nie meer betrokke of ingedeel by die tehuise nie?
Gemeentes het kleiner geword en kry finansieel swaar, so ook NHSV takke. Daar kan nie meer staatgemaak word op groot bydraes nie. Dit, asook wetgewing wat bepaal dat die huiskomitees, tans bestuurskomitees, nou anders saamgestel moet word, het ’n impak op die struktuur vanwaar gemeentes en NHSV takke betrokke was by die tehuise. Dit sluit egter nie betrokkenheid uit nie en gemeentes en NHSV takke kan en moet steeds soos voorheen betrokke wees by die tehuise. Skakeling moet net geskied deur die betrokke tehuis se bestuurskomitee.
Wat het van die breëkomitees en voogtakke geword?
Ten einde effektief uitvoering te gee aan die amalgamasie van Ons Tuis en Monumenttehuise van die NHSV, ook in terme van die betrokke wetgewing, is daar ’n eenvormige konstitusie opgestel en as sodanig goedgekeur. Die goedkeuring van die konstitusie het tot gevolg gehad dat die konstitusies van die onderskeie fasiliteite ook hersien moes word.
Die konstitusies van die onderskeie fasiliteite maak voorsiening vir die bepalings van die wetgewing soos van toepassing op die fasiliteite, onder andere wetgewing rakende ouer persone, organisasies sonder winsoogmerk en gesondheidsorg.
Verskillende dienste word gelewer by die onderskeie fasiliteite, soos behuising en versorgingsdienste. Derhalwe moet in die konstitusies van die onderskeie fasiliteite voorsiening gemaak word vir sodanige dienslewering in terme van die betrokke wetgewing. Die strukturering en die verteenwoordiging van die onderskeie komitees vorm ’n integrale deel van die konstitusies om te verseker dat die nodige wetgewing nagekom word.
Die onderskeie komitees – die breëkomitees, bestuurskomitees/huisbestuurskomitees en inwonerskomitees – is vir ’n tydperk geag as oorgangskomitees totdat die nuwe komitees gevestig is en die pligte en verantwoordelikhede van die nuwe komitees uiteengesit is.
Die onderskeie NHSV takke het steeds ’n deurslaggewende rol vertolk in die oorgangstydperk asook met die hersiening van die strukture van die bestaande komitees en die vestiging van nuwe komitees waar nodig.
Die aktiewe deelname van die lede van NHSV takke is en bly van kardinale belang om te verseker dat daar ’n deursigtige proses is en dat die beste moontlike strukture gevestig word vir die onderskeie fasiliteite. Die verskillende komitees sal soos in die verlede ’n sleutelrol vertolk by die uitbouing van die fasiliteite en om toe te sien dat dienslewering aan ons bejaardes optimaal is. Dit neem geensins gemeentes en NHSV takke se betrokkenheid weg nie. Die struktuur is net anders weens die wetgewing. Onthou ook dat hulp, dienslewering en betrokkenheid nie vasgevang is in strukture nie, maar gesetel is in die harte van mense.
Wat is die band met die Kerk?
Ons Tuis (MSW) is gevestig en geregistreer ingevolge die bepalings van die Wet op Maatskappye, 2008 (Wet Nr 71 van 2008) soos gewysig. Ons Tuis (MSW) is dus ’n outonome en onafhanklike regsentiteit (juridiese persoon), en die direksie van die maatskappy is verplig om aan die bepalings van die betrokke wetgewing te voldoen, insluitend verslaglewering aan die onderskeie departemente.
Ons Tuis (MSW) is ’n maatskappy wat onafhanklik funksioneer met ’n eie direksie, en dus het die NHKA geen regsaanspreeklikheid met betrekking tot die funksionering van die maatskappy nie. (Sien in hierdie verband Beskrywingspunt 92 van die 71ste Algemene Kerkvergadering.)
Dit gaan dus oor regsaanspreeklikheid wat by die direksie lê en nie by die Kerk nie. Dienslewering by die onderskeie tehuise deur enige gemeente van die NHKA word dus geensins beïnvloed nie, en gemeentes en ringe van die Kerk kan met vrymoedigheid soos in die verlede voortgaan om hulp en diens te verleen soos dit moontlik is en waar die behoefte bestaan. Alles wat gedoen word, moet egter net in samewerking met die bestuurskomitee van die betrokke tehuis gedoen word.
Die direksie en bestuur het reeds in Januarie 2020 onderneem om jaarlikse inligtingsessies te hou, asook alle voogtakke en diakonieë se betrokkenheid via die ADV te bewerkstellig. Vanweë redes algemeen bekend kon dit nog nie realiseer nie, maar die Hoofbestuur van die NHSV is reeds besig met ’n herindeling van al die tehuise van Ons Tuis (MSW); dit sal eersdaags gekommunikeer word.
Daar is ook besluit om binne die raamwerk van die Kerk die beskrywende naam OTMT te gebruik. Daardeur word die verbintenis in terme van die geskiedenis in die Kerk en die NHSV beskryf. Die maatskappy is egter Ons Tuis (MSW) – maatskappy sonder wins (NPC – nonprofit company).
Om die historiese band tussen die Kerk en Ons Tuis (MSW) asook al die ander nie-winsgewende organisasies en regsentiteite wat by die NHKA betrokke is te omskryf in ’n reglement, sal die 9de ADV in 2022 in hierdie verband ’n voorstel ter tafel neem vir oorweging.
Is die tehuise in finansiële nood?
Die afgelope twee jaar (2020 en 2021) is globaal gekenmerk deur die uitbreek van die Covid-19-pandemie wat direk impak gehad het op die ekonomiese stand van sake in Suid-Afrika. Hierdie impak het natuurlik steeds sy nadraai in 2022 en 2023. Dit is ’n harde werklikheid dat die Ons Tuis-fasiliteite vir ouer persone die afgelope twee jaar sonder uitsondering blootgestel is aan verskeie faktore wat ’n direkte impak gehad het op hul finansiële omstandighede.
Die volgende bydraende faktore het ’n bepaalde onvoorsiene aanslag op die finansies van die Ons Tuis-fasiliteite gehad:
- ’n Toename in inwoners wat weens finansiële redes die fasiliteite verlaat het en by kinders of familielede gaan woon het. In die meeste gevalle het die kinders of familielede die huur, heffing of losies betaal, en weens werkverlies of afname in salaris/besoldiging was dit nie vir hulle moontlik om voort te gaan met die betalings nie. Die streng staatsinperkings met die gepaardgaande vrees vir die pandemie het ook daartoe bygedra dat die kinders en familielede hul ouers en geliefdes verwyder het uit die fasiliteite.
- Daar was ’n tydperk van vyf maande gedurende die pandemie toe ’n verbod by die fasiliteite geplaas is op die inname van ouer persone.
- Weens die pandemie waartydens inwoners in afsondering geplaas is en besoekers en lede van die publiek nie by die fasiliteite toegelaat is nie, kon geen fondsinsamelings soos feeste, basaars of markte gehou word nie.
- Terselfdertyd was daar ’n ernstige afname in skenkings en donasies aan die fasiliteite. Hierdie tendens hou direk verband met die verhoogde lewenskoste, weens die sosio-ekonomiese situasie wêreldwyd en in Suid-Afrika.
- Daar was bykomende uitgawes waarvoor nie voorsiening gemaak is nie, insluitende maar nie beperk nie tot maskers, sanitêre middels, handskoene en persoonlike beskermingstoerusting.
Die afgelope tydperk is gekenmerk deur hoër lewenskoste, en dit het ’n negatiewe uitwerking gehad op die operasionele uitgawes van die fasiliteite. Die fasiliteite het verskeie besparingsmaatreëls geïmplementeer ter wille van effektiewe finansiële bestuur.
Verskeie pogings is aangewend om die fasiliteite te bemark en nuwe inwoners te werf. Voorbeelde hiervan is die Facebook-blad ONS TUIS otmt, talle nuusberigte op e-Nuus op Kanaal 144, berigte in Beeld en op Maroela Media, asook ’n insetsel op die program Met ’n huppel in die stap.
’n Nuwe finansiële en rekenkundige stelsel is geïmplementeer om te verseker dat daar gesonde finansiële bestuur is en dat die finansiële beleid van die maatskappy nagekom word. ’n Finansiële bestuurder is hiervoor aangestel. Die maatskappy het ook nuwe onafhanklike ouditeure bekom om die finansiële state op te stel en toe te sien dat aan alle wetlike implikasies voldoen word.
Kontraktuele ooreenkomste wat finansiële implikasies vir die onderskeie fasiliteite inhou, is nagegaan en herbeding tussen die betrokke partye met die oog op laer tariewe.
Daar is egter steeds finansiële tekorte by die fasiliteite wat primêr vir die versorging van ouer persone verantwoordelik is. Die genade van die Here is egter ook groot, en die maatskappy was nog elke maand in staat om sy verantwoordelikhede na te kom.
Die visie van Ons Tuis (MSW) bly dieselfde, naamlik om met die middele en kundigheid tot ons beskikking te streef na uitnemendheid op die gebied van die versorging van ouer persone. Ons Tuis is daartoe verbind om voorsiening te maak vir die besondere behoeftes wat ontstaan as gevolg van veroudering en verswakking, sodat ons aan die inwoners sekuriteit, hoop en lewenskwaliteit kan bied en sodat hulle ’n menswaardige bestaan kan voer. Dit is waarom Ons Tuis die waardes van menswaardigheid, gelykheid, integriteit, verdraagsaamheid, respek, gebondenheid en deursigtigheid onderskryf.
Ons Tuis wil haar visie bereik deur hierdie waardes uit te leef en na gesonde bestuur te streef, en met plaaslike betrokkenheid, sodat die instelling nasionaal relevant kan wees en as sodanig erken kan word.
In al die handelinge van die direksie en die goed opgeleide personeel wil Ons Tuis ouer persone so lank moontlik selfversorgend in die gemeenskap laat funksioneer en ondersteunende dienste aan hulle lewer. In moeilike finansiële omstandighede streef Ons Tuis daarna om veilige en bekostigbare behuising te bied in die vorm van woonstelle of kamers waar ouer persone so lank moontlik selfstandig kan funksioneer, en ondersteunende dienste aan hulle gelewer kan word. Ons Tuis wil egter ook ouer persone wat fisies of geestelik verswak het, gedeeltelik of in geheel versorg met die hulp van goed toegeruste en opgeleide personeel in die onderskeie versorgingseenhede. In hierdie proses word gepoog om kinders en familielede van ouer persone so nou moontlik betrokke te maak by hul versorging en die voorsiening in hul unieke behoeftes.
Ons dank aan die Kommissie van die AKV, die ADV, elke gemeente, elke lid van die NHSV en elke ander individu vir hul onbaatsugtige diens aan en deurlopende ondersteuning van ons ouer persone in die verskillende fasiliteite. Mag hierdie inligting elkeen ook aanmoedig om steeds saam met Ons Tuis die versorging van ons bejaardes te ondersteun.
Voorsitter: Direksie OTMT
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)