Regter N Janse van Nieuwenhuizen het op 7 Maart 2022 uitspraak gegee in die hofgeding tussen die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika en diegene wat sedert 2012 van die Kerk weggebreek het.
Die hofgeding het gehandel oor die volgende vraag:
Kan lidmate of ’n gemeente van die NHKA wat probleme het binne of met die NHKA en/of wil wegbreek en/of weggebreek het uit die NHKA, by meerderheidsbesluit die bates van ’n gemeente van die NHKA aan vrywillige verenigings of gemeentes wat buite die NHKA funksioneer, vervreem?
Ingevolge die uitspraak het die gemeentes as regspersone die reg gehad om ’n ooreenkoms met ’n ander party (verenigings) aan te gaan en hul eiendomme aan dié verenigings oor te dra.
Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het die uitspraak bestudeer en gewag op regsadvies voordat hulle kon besluit of die Kerk teen die uitspraak moes appelleer. Die Kommissie wil weer eens beklemtoon dat dit in die kerk van Jesus Christus nooit in die eerste plek oor bates gaan nie, maar oor ons verbondenheid met Christus en ons onderlinge band met mekaar, soos dit in ons Kerkorde gestalte kry. Soos ons aan Christus vashou, hou ons mekaar vas. Ons koester die eenheid van die Kerk selfs wanneer ons van mekaar verskil; ons betreur kerkskeuring. Ons is eerlik met mekaar en tree met integriteit op, ons dien almal saam die belang van die liggaam van Christus waarvan ons deel is.
Daarom gaan die Hervormde Kerk voort om kerk te wees soos ons dit reeds vir feitlik twee eeue is: Ons verkondig en hou vas aan die evangelie van Jesus Christus, die gekruisigde en opgestane Heer. Ons droom is dat alle mense in Jesus Christus sal glo as hoop vir die wêreld. As kerk van Christus gee ons hieraan uiting deur die goeie nuus van die evangelie te vier, die gemeenskap van die gelowiges te koester, te getuig van die hoop wat in ons leef, en te dien waar ons kan. Op dié maniere volg ons in die voetspore van Christus.
In die woorde van Paulus, in Filippense 3: 10 en 11:
10 Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.
(Die Kommissie van die AKV en die Litigasiekomitee het op 25 Maart vergader om, met inagneming van verskeie regsmenings, te besluit oor die pad vorentoe. Vandaar die verklarings soos op die voorblad en hierbo.)
(Dr Wouter van Wyk is sekretaris van die Kommissie van die AKV)