Benarde Barbara van Brakpan vra: Beste Oupa Stoep, ek werk in ’n speelgoedwinkel en hulle vra my toe om ’n boemerang uit te toets. Ek het gedink ’n mens gooi hom net weg, maar toe kom hy terug en slaan my kop dat die bloed loop. Ek stel toe ’n eis in vir ’n besering aan diens, maar na die ondersoek moet ek nou in die hof verskyn op ’n klag dat ek myself aangerand het. Ek was nog nooit in ’n hof nie. Kan Oupa my dalk raad gee oor hoe ek daar moet optree?
Beste Barbara, kom Oupa vertel jou eers ’n ware verhaal wat ’n polisiemanvriend aan Oupa vertel het oor wat met een van sy kollegas gebeur het in ’n hof. Dié kollega was die ondersoekbeampte in ’n koperdiefstalsaak. Die polisie het die skelm lank dopgehou en uiteindelik toegeslaan en hom op heterdaad betrap. Al die bewysstukke was in plek, die regte prosedures is gevolg en die staat het ’n waterdigte saak gehad.
Die oggend van die hofsaak staan die staatsaanklaer, die prokureur vir die aangeklaagde en die ondersoekbeampte met mekaar en gesels omdat hulle almal mekaar goed ken. Die ondersoekbeampte, ’n kranige hengelaar, vertel hulle van ’n uitsonderlike vangs wat hy gehad het. Hy sê dat hy sy aas baie ver kan gooi en het, sonder dat hy dit besef het, sy aas bo-oor die dam waar hy gehengel het, gegooi. Hy voel ’n byt aan sy aas, kap vas en begin inkatrol. Die vis spook geweldig, maar hy veg hom totdat hy hom aan land bring. Groot was sy verbasing, vertel hy, toe hy sien dat hy ’n kolgans aan die hoek het. Dié het sy aas ingesluk aan die oorkant van die dam.
Almal lag en die staatsaanklaer sê vir hom: Man, jy lieg soos ’n tandetrekker. Die hofsaak begin, die staatsaanklaer lei sy getuienis, maar die prokureur vir die aangeklaagde vra nie ’n enkele vraag nie. Die aanklaer sluit sy saak af en die prokureur staan op. Hy wil net een getuie roep, sê hy, en dis die staatsaanklaer. Die aanklaer protesteer dat dit nie prosedureel is nie, maar die landdros laat dit toe.
Ek wil jou net een vraag vra, sê die prokureur. Het jy so pas hier voor die hof gesê dat jou hoofgetuie en die ondersoekbeampte in die saak, sersant Van Loggerenberg, lieg soos ’n tandetrekker? Antwoord net JA of NEE asseblief!
Die aanklaer moes die waarheid praat en het JA geantwoord. Konsternasie in die hof, die saak word uitgegooi en die beskuldigde stap skotvry weg…
Wat Oupa met hierdie verhaal vir jou probeer sê, my liewe Barbara, is dat die hof nie ’n mens se maat is nie. Selfs al praat jy die waarheid, kan ’n geslepe regsgeleerde dit teen jou gebruik. Maar die waarheid is al wat ons het waarop ons kan staatmaak. So doen jou bes, praat die waarheid, en die volgende keer as hulle jou vra om ’n boemerang te gooi, vat eerder ’n visstok en gooi daarmee. Dalk, net dalk, vang jy vir jou ’n kolgans.