Jy kyk op Facebook na die troufoto’s van die vorige dag se troue en wat sien jy? Die bruid kom in. Dis haar spesiale oomblik, stralend met die paadjie af, maar wat oorheers die foto? Gaste wat met hul selfone foto’s neem.

Uiteindelik breek die jaarlkse kuier by die vér Oupa en Ouma aan. Opgewonde en opreg word daar gesels, maar wat doen party kleinkinders? Hulle is besig op hul selfone. Kleinboet word bekroon by die prysuitdeling vir sy harde werk, en wat doen Pappa en Mamma? Neem ernstig elkeen ’n video op. Die man en vrou maak ’n afspraak vir koffie om net ’n bietjie rustig alleen by mekaar uit te kom. Daar sit twee mense by die tafeltjie, maar elkeen is redelik besig om WhatsApp-boodskappe oop te maak en daarop te reageer. ’n Langverlore vriend doen baie moeite om gou te kom oë wys en te kom kuier. Met elke geluid op die instrumentjie kyk die gasheer wat is die nuutste en varsste nuusberig of pryse.

Met sulke voorbeelde kan ons elkeen lank aangaan…

Wat het hierdie optredes met mekaar gemeen? Jy mis die oomblik! Besef ons dit altyd? Ons is spesifiek uitgekies en na die troue genooi om die bruidspaar se groot oomblik te beleef – waarom dit afneem om met ander te deel? In hierdie kosbare oomblik by Oupa en Ouma is die kinders besig met die mense daar vér en ignoreer of skeep hierdie liewe mense by hulle af. Pa en Ma gee die voorreg om Boet se groot oomblik van glorie te beleef prys deur eerder te fokus op ’n opname vir iemand anders. Die boodskappie van ander is belangriker as die belangrikste persoon in my lewe wat nou hier voor my sit. Die welwillendheid en omgee van ’n vriend of kennis word afgeskeep en eintlik beledig deur eerder op datum te bly met wêreldgebeure en pryse.

Almal goedbedoelde dade, maar dade wat die oomblik steel. Hartsoomblikke wat ons nié beleef soos ons veronderstel is om te doen nie. Daar is die uitdrukking: Met die waters wat verby is, sal die meul nooit weer maal nie. Onthou, besef en ervaar ons dit? Male sonder tal steel ’n goedbedoelde boodskap, foto, video of berig my oomblik. Meer nog, dit bring afstand tussen mense. Dra dit nie dalk by tot verwydering nie? Die gevolg hiervan later is vervreemding.

God seën ons elke dag in oorvloed. Hy skenk feestelikhede, geleenthede, suksesse, familie, vriende, kollegas, kennisse en verhoudings. Elkeen van hierdie oomblikke is veronderstel om ’n mens se hart aan te raak, om jou gelief, gewaardeer, waardig en “belangrik” te laat voel. Ek is genooi, word ontvang, beleef die voorreg, deel in die vreugde, word verras en bederf. Maar wat doen ons met hierdie kosbare geleenthede? Daardie nuttige en gerieflike langwerpige stukkie tegnologie is wonderlik, maar het ook ’n ander kant. Hy haal só maklik en dikwels die hart en siel uit ons kosbaarste oomblikke met ons kosbaarste mense. Waar ek veronderstel is om net die luuksheid te ervaar van intens beleef, kies ek om in diens van ander op te tree sodat hulle dit kan beleef.

Ons lewe is oorvol en gejaagd. Dit is my verantwoordelikheid om dikwels net tot stillstand te kom. Om te besef God bederf my om hierdie oomblik te beleef, nou hier te wees, iets besonders in te drink met alles in my. Ja, om in hierdie spesifieke oomblik te leef. Kom ons sien dit in verband met Dawid se beskrywing van God se werk in ons lewens in Psalm 16: 5-6: Here, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. ’n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.

Ek nooi jou uit: Kom ons leef meer in die oomblik!

Die resultaat: Ons sal dan beslis meer en meer bewus word van elke seëning in ons lewens en God se liefde en genade herken, erken en ervaar…

Dit is elkeen se eie keuse!

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)