In ons dorpstuin staan teen alle verwagtinge in ’n pragtige sterkgroeiende doringboom. In ons tuin, in ons pragtige soetdoringboom, is ’n geel mannetjievink al vir die afgelope maand besig om nes te bou. Die wyfie het die nes reeds twee keer uitmekaar gepluk.

Vandag, toe ek voor die deur stilhou en die vinkmannetjie se mooi derde probeerslag sien, vervies ek my onmiddellik vir hierdie ontevrede wyfietjie. Toenou, jou wyfie-vinkvoël-gedoente. Nou moet jy regtig tevrede wees, en as jy nie is nie, moet hy jou sommer los of in die nes indwing.

Daardie selfde middag toe my liewe man nog dink hy werk in sy studeerkamer, kommandeer ek hom op: Ou man, kom help my asseblief om ’n spyker in die woonkamer in te kap – ek wil ’n foto ophang. Terwyl jy besig is, moet jy asseblief kyk, daar het twee gloeilampe geblaas, en wanneer gaan jy nou reël dat die kombuis geverf word?

Skielik sien ek myself in die vinkwyfie. Ja, nè, Monica, jy is ook nes die ontevrede, gebiedende ou wyfievoël!

Hoeveel maal die afgelope tyd het ek ook nie maar ons nes uitmekaar gepluk nie? Skuif hier, verf daar, koop plante, sny die gras, vervang teëls, maak ’n stukkende ruit heel, bou ’n stoep…

Mans is harde werkers. Hulle werk hard en doen geduldig al hierdie werk al neul ons om hulle. Hoekom dan, het ek gewonder. Hoekom pluk die ma-vink die nes uitmekaar?

Miskien: Omdat ons huise vir ons meer as net ’n plek is om in te bly – omdat dit vir ons ’n tuiste is waar ons hele gesin geborge moet woon.

God het alles wonderlik geskape en onderhou alles met sy almag. God het die vrou geskape as moeder met baie instinkte. Sy weet net baie dinge sonder dat sy dit geleer het – ingebore in haar wonderlike, ondeurgrondelike moederwees.

So ook die wyfievink. Wyfievoël, ek is jammer. Ek verstaan nou beter dat jou gedrag nie onsinnig was nie! Jy weet:

Jy weet van die groot grys kat van ons bure.

Jy weet van water wat tot by jou nessie kan kom as hy te laag gebou is.

Jy alleen weet van die lang warm ure wat jy alleen moet broei, jy weet van sterk winde en koue nagte.

Jy weet van lang tye wat die kleintjies alleen tuis moet bly as julle albei kos soek.

Jy het ’n ingeboude meganisme om te weet van sag en warm…

Jy moet dit alles oordra aan die mannetjie, wat nie alles so mooi weet nie, maar wat bereid is om by jou, moedervoël, te leer.

En jy, Mannetjievink! Vergeet alles wat ek gesê het. Onthou net van jou liefdevolle geduld. Werk soos wat sy vir jou wys sodat julle veilig en geborge kan bly in die soetdoringboom in ons tuin.

Here, dankie dat u ons as moeders wonderbaarlik geskape het.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)