Doen jouself ’n guns en gaan kyk die fliek Unbroken, of lees die boek as jy nog nie het nie. Louis Zamperini, ’n Amerikaanse Olimpiese baanrekordatleet, oorleef ’n vliegtuigongeluk in die Tweede Wêreldoorlog, maar word weer eens uitgelewer aan die ongenaakbaarheid van die natuur en word opgesluit as ’n oorlogsmisdadiger.
Louis Zamperini begin sy loopbaan as ’n atleet wat deelneem aan die 1936 Olimpiese Spele in Berlyn. Na die Olimpiese Spele sluit hy by die lugmag aan. In 1942 is hy saam met twee ander uitgestuur op ’n reddingspoging oor die Stille Oseaan.
Gedurende die vlug het hul vliegtuig onklaar geraak en in die see neergestort. Hulle het vir 33 dae op die see rondgedryf, en intense honger en dors verduur. Hulle is konstant deur haaie aangeval en daar is selfs op hulle geskiet deur die vyand. Een van die drie is dood, en terwyl Louis en sy vriend die liggaam in die see stoot, het Louis ’n belofte aan die Here gemaak dat as hy oorleef, hy die Here sal dien.
Twee weke later is hulle uiteindelik gered, meer as 3 000 km van waar hulle in die water neergestort het. Hul vreugde het egter vinnig in vrees verander toe hulle besef dat hulle nie gered word nie, maar gevange geneem word deur die Japanners.
Vir die volgende drie jaar is Louis aan haglike omstandighede blootgestel en verskriklik gemartel. Daar was een wag, Mutsuhiro Watanabe, wat Louis in die besonder te na gekom het. Hy het sy lewe hel gemaak. Die fisiese pyn en emosionele vrees wat Louis verduur het aan die hand van dié man is ongelooflik en die weergawes daarvan is moeilik om te lees. By geleentheid is hy meer as 200 keer in die gesig geslaan en elke keer as hy sou val, het hy net weer opgestaan. Weer en weer sou die wag probeer om Louis te breek.
Na jare se ondenkbare marteling en misbruik, het die oorlog tot ’n einde gekom en is Louis vrygelaat. Terug by die huis kon hy net nie aanpas nie. Hy het soveel nagmerries gehad en so aan posttraumatiese stres gely dat hy verval het in alkoholisme en depressie. Die gedagte wat sy hele bestaan oorheers het, was om terug te gaan na Japan en Watanabe dood te maak. Louis het ’n wrok in sy hart gehad, en daardie wrok het so ’n houvas op hom gehad dat dit besig was om sy lewe te verwoes.
Sy vrou, Cynthia, het hom omgepraat om een aand te gaan luister na ’n nuwe prediker wat in die dorp kom preek het – Billy Graham. Louis het teëgestribbel, maar uiteindelik ingegee. Die Here het daardie aand met hom ’n afspraak gehad. Daardie aand, daar, het hy die boodskap van vergifnis gehoor. Hy het gehoor dat Jesus ons aan die kruis vergewe het. Louis het uiteindelik die genade en die liefde van God aanvaar en, soos wat hy in die paadjie afgeloop het, het hy skielik onthou wat hy daar in die Stille Oseaan vir die Here belowe het…
Daardie gebeurtenis daardie aand – Jesus se vergifnis en genade – het sy lewe verander. Hy was nie meer gevul met woede nie, hy het nooit weer nagmerries gekry nie, en sy planne om Watanabe te gaan doodmaak, het verander in planne om terug te gaan Japan toe om hom te vergewe.
In ’n kragtige toneel keer Louis terug na Japan en konfronteer elkeen wat hom gevange gehou het. Soos wat elke wag voor hom gestaan het, het hy elkeen vergewe. Maar een was nie daar nie – Mutsuhiro Watanabe.
Watanabe het op die vlug geslaan na die oorlog en wat Louis gehoor het, is dat Watanabe heel waarskynlik selfmoord gepleeg het. Maar Watanabe was nie dood nie en het in 1990, 50 jaar later, weer op die radar verskyn. Louis het weer planne gemaak om by die man wat hom so verskriklik gemartel het, uit te kom. Hy het vir Watanabe ’n brief geskryf en is toe na Japan om hom te gaan ontmoet, maar die ontmoeting sou nooit plaasvind nie. Louis skryf onder andere in die brief: Ek het my lewe vir die Here gegee. Liefde het haat vervang. Jesus het gesê: Vergewe jou vyande en bid vir hulle. Ek vergewe jou.
Dis hoe die toepassing van die beginsel lyk. Soos Louis, aanvaar ons die Here se vergifnis vir onsself en dan, deur die genade en krag van God alleen, draai ons om om ander te vergewe. Louis wys ons dat om ander te vergewe, beteken nie ons sê dat dit wat iemand aan ons gedoen het, nie verskriklik en erg is nie. Ons het nodig om te erken dat dit wat ons aangedoen is, baie erg is, maar ons soek nie weerwraak nie – ons wil eerder in vrede lewe en selfs vir ons vyande bid.
Saam met vergifnis kom vryheid, sien ons. Ons sien ook dat enigiets vergewe kan word. So ek nooi jou vandag om die Here se vergifnis te aanvaar, maar moenie daar stop nie, want mense wat vergewe is, moet ook weer kan vergewe. Toepassing is alles. Vergewe, want vergifnis bring lewe.
Visetesourier: NHSV Hoofbestuur
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)