Na die Agtste Algemene Diakensvergadering (ADV) het alles stil en stemmig begin. Planne was in plek om al die ringe en gemeentes te besoek om die barmhartigheidswerk van die Kerk te versterk. Skielik mag ons nie reis nie, nie vergaderings hou nie, mag ons nie eens kerk hou nie. Covid-19 het ons getref en alles tot stilstand gedwing.
Diakens is daaraan gewoond om met nood te werk, en het die pandemie as ’n uitdaging gesien. Met groot innovering het vergaderings tydens Zoom-sessies plaasgevind. Spore van Hoop het beslag gekry, want diakens is hoopdraers, veral in tye van nood. Die Om-die-kerk-olympix het nuwe stukrag verleen aan gemeentes en gemeenskappe wat in wanhoop wou verval.
Diakens het die maklike oorskakeling na tegnologie benut om verskeie webinare rakende ’n wye verskeidenheid temas aan te bied. Die Word Warm-projek is in 2021 aangekondig om, gehoorsaam aan ons Christelike roeping tot barmhartigheid, 50 000 items wat kan help om die winterkoue te verdryf, in te samel en in ons eie gemeenskappe te versprei.
Met die beplanning van die Negende ADV en Ubi caritas-simposium was dit ’n uitgemaakte saak dat ook hierdie ’n virtuele aanbieding moes wees. Die simposium se tema, Armoede, is deur middel van vyf webinare aangebied. Die onderwerpe en besprekings het gehandel oor die begronding van die diaken, armoede, trauma en netwerke. Uit hierdie webinare is ’n aantal fokusareas geïdentifiseer wat rigtinggewend sal wees vir die nuutverkose ADV Kommissie se termyn.
Al die webinare is op YouTube beskikbaar. Die inligting en hulp is daar vir gebruik in gemeentes om lidmate aan te spoor. Ons dank aan die onderskeie kerkleiers en die lede van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering (AKV), prof Wim Dreyer en dr André Ungerer, wat deelgeneem het aan die webinare.
Tydens die virtuele Negende ADV is die Jan Reynierz-erepenning toegeken aan dr Martin Jansen van Rensburg vir besondere diens gelewer op die terrein van die diakonaat in die Kerk.
Met al die veranderinge het dit nodig geword dat die ADV moes besin oor hoe sy haar taak gaan vervul in die Kerk. Punte wat kan help om die saak van die diakonaat te bevorder, is bespreek.
Diakonale Bedieningsplanne
As baken van hoop is dit belangrik dat elke gemeente die lig van Christus sal uitstraal. Die Diakonale Bedieningsplanne bied die raamwerk waarbinne en waarmee die gemeente die lig van Christus laat skyn. Die ADV sal as fasiliteerder optree in die opstel van Diakonale Bedieningsplanne en gemeentes ondersteun en adviseer in die hantering van diakonale aangeleenthede.
Struktuur van die Diakonaat in die NHKA
Die volgende belangrike gebeure wat ’n direkte invloed mag hê op die sinodale diakonale werk, het plaasgevind:
- Barmhartigheidsforum: Samewerking, gedeelde hulpbronne en die verhouding met die NHKA is tydens ’n werkwinkel bespreek.
- ’n In-diepte-ondersoek na effektiewe strukture en langtermyn finansiële standhoudendheid van die Kinderhuise, Rata, Plesion en die kantoor van die ADV word gedoen. Die verwagting is dat die ondersoek sal uitloop op ’n reeks voorstelle om die strukture meer vaartbelyn en koste-effektief te maak, en die werk deur die verskillende entiteite lewensvatbaar te hou.
Eenwording van die AKV en die ADV
Die ekonomiese impak van die pandemie en gepaardgaande vermindering van lidmate dwing die ADV as deel van die NHKA om aanpassings te ondersoek om meer effektief diens te lewer. Daarom is ’n beskrywingspunt aanvaar vir opname in die 73ste AKV se agenda met die doel om ook op sinodale gebied sinergie daar te stel ten opsigte van die AKV en ADV se werksaamhede.
Diensorgane verander na niewinsgewende organisasies (NWO’s)
Die aanvaarding van die beskrywingspunt dat die Kerkorde aangepas word om die benamings van die Diensorgane, Diakonale Diensorgane en Organe van Bystand te verander na Niewinsgewende organisasies (NWO’s) betrokke by die NHKA is ’n bewys dat die ADV tred wil hou met die veranderende samelewing. Die voorgestelde naamsverandering is eietyds en laat geen onduidelikheid nie oor watter NWO’s en regsentiteite by die NHKA betrokke is. Die wederkerige band tussen die NHKA en die niewinsgewende organisasies word ook daardeur erken.
- Die NHSV (Nederduitsch Hervormde Susters-vereniging) (NWO) – versorging van persone in nood.
- Die Kinderhuise van die NHKA (MSW) – versorging van sorgafhanklike kinders.
- Rata Maatskaplike Dienste (MSW).
- Ons Tuis (MSW) – versorging van ouer persone.
- Plesion (MSW) – ontwikkeling van volhoubare befondsing.
- Die Transoranje Instituut vir Buitengewone Onderwys (TOIBO) (NWO) – onderrig aan kinders met spesiale onderwysbehoeftes.
Hierdie NWO’s is belangrik vir die barmhartig-heidswerk van die NHKA, en daarom is die verhouding met die onderskeie entiteite opnuut bevestig.
Voortsetting van die opdrag aan die Barmhartigheidsforum
Die nuutverkose ADV Kommissie ontvang die opdrag om die werk van die Barmhartigheidsforum te kontinueer.
Die impak van barmhartigheidswerk in en deur die NHKA
Die ondersoek na die impak van barmhartigheidswerk in en deur die NHKA gaan voort.
Die Kommissie van die Negende ADV weet wat die uitdagings van hul opdrag is, soveel te meer die uitdagings vir gemeentes. Predikante, diakens, lidmate en veral diegene in nood, moet verseker wees van die ADV se volgehoue ywer tot oplossings en bystand.
God sal altyd met ons wees. As ons alles tot die beste van ons vermoë doen, sal Jesus se lig skyn deur ons handeling en werk wat ons trots as Diakonaat van die NHKA verrig: Ek wil u lig in duisternis laat skyn. Laat ware vreugde altyd uit my straal… (Gesang 284: 2, Liedboek van die Kerk).
(Diak Wilna Gates is voorsitter van die Kommissie van die ADV)