Ek het tot onlangs in die Hervormde gemeente Nkana in Zambië gewerk. Hier gebruik oud en jonk, almal wat in Jesus glo, Nagmaal.

Met die eerste Nagmaalbediening daar het die vraag by my opgekom: Moet ek die kinders verbied om Nagmaal te gebruik? Is die Nagmaal dan nie net vir volwassenes bedoel nie? Na ’n Nagmaalbediening daar sê ’n ma vir my: Dankie, Dominee, dat Japie wat net agt jaar oud is, ook vanaand saam met ons kon Nagmaal gebruik en nie net gekyk het hoe die brood en die wyn verbygaan en gewonder het waarom hy nie ook saam met ons kon eet en drink nie. Dit is vir ons troosvol om te weet die krip, die graf, die kruis, was ook vir hom, al is hy nog klein.

Soos dikwels in die verlede het ek gewonder of ons nie verkeerd doen nie deur die Nagmaal te weerhou van kinders. Ek het daardie aand besef en was meer oortuig as ooit dat kinders saam met hul ouers by die verbondsmaal hoort. Ek het reeds in 1994 so gedink en geskryf in my publikasie Erediens 2.

As ons die Bybel en ons belydenisskrifte nie fundamentalisties hanteer nie, is daar niks wat verhoed dat Nagmaal aan kinders van gelowiges bedien word nie. Van die vroegste tye af was daar kerke wat die Nagmaal aan kinders bedien het. Vandag is dit ook die gebruik by baie reformatoriese kerke. Net soos by die Doop, is die uitgangspunt dat die kinders begelei moet word deur hul ouers en dat hulle steeds moet katkiseer en belydenis van geloof moet doen.

Ons benadering was nog altyd dat ons moet vra na die boodskap en die betekenis. Wat is die betekenis van die Nagmaal? Waarom gebruik ons Nagmaal? Oor hierdie saak is die Bybel, ons belydenisskrifte en die formulure duidelik. Ons gebruik die Nagmaal ter gedagtenis aan Jesus Christus se dood en opstanding. Die Heilige Gees gebruik die Nagmaal om vir ons die sekerheid te gee dat Jesus vir al ons sonde betaal het, ons dood oorwin het, ons kinders van God gemaak het. Omdat Jesus Christus ons vergewe, mag ons by sy tafel aansit. Die deelname aan die Nagmaal wil ons opnuut van sy genade verseker (Wisselformulier vir die bediening van die Nagmaal). Anders gesê: Die Heilige Gees gee aan ons geloof deur die verkondiging van die Woord en versterk dit deur die gebruik van die sakramente (Heidelbergse Kategismus, antwoord 65). Hoe dit gebeur, gaan ons verstand te bowe en is vir ons onbegryplik (Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 35).

Uit alles behoort dit duidelik te wees: Die Heilige Gees gebruik die Nagmaal om vir ons die sekerheid, die geloof te gee van ons verlossing in en deur Jesus Christus. Wil God hierdie sekerheid, hierdie geloof, net vir volwassenes gee? Nee! Vir almal. Die Woord sê tog baie duidelik: My verbond is vir julle en vir julle kinders (Gen 17: 7). Jesus het gesê dat kinders die grootste in die koninkryk van God is (Matt 18: 4). Jeremia is op sewe nie te jonk om ’n profeet te wees nie. Die geloof van die dogtertjie wat Naäman na die profeet gestuur het, is nie te gering om hom te oortuig om te gaan nie (2 Kon 5). Het Noag, Abraham en al die gelowiges wat in Hebreers 11 genoem word, nie gebou, getrek en gehandel sonder om regtig te weet of te verstaan nie? Hulle het net geglo.

Die teologie van die Hervormde Kerk was nog altyd: God Drie-enig se werking gaan die mens se geloof en handelinge vooraf. Daarom doop ons kinders. So preek ons elke Sondag. So behoort ons die Nagmaal ook te bedien aan kinders van gelowige ouers.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)