Die afsterwe van prof Gert Pelser bring by my herinneringe van wat ek en hy beleef het toe ek nog ’n BD-student was, van 1971 tot 1973. Ons studente het vir hom hoë agting gekoester en hy was eintlik vir ons ’n vriend wat ons baie waardeer het. Ons treur oor sy heengaan.
Ek deel graag hierdie twee stories oor ons wedervaringe.
Boer teen Brit
Hy was ons predikant in die studentegemeente. Op ’n dag besluit ons twee om na die Toutrektoets tussen die Springbokke en die Britte op Loftus te gaan kyk.
Eers kom die Britte in met hul wit klere en bleek bene om stelling langs die tou in te neem. Hul drywer kom sit voor sy span, voete uitgestrek. ’n Gryskop omie met ’n bles. Toe kom die Springbokke, kakieklere met goue Springbokembleem op die bors, bruingebrande boerseuns met kuite wat so 3 bar gepomp is.
Die bleekbene het hul regtervoete onder die tou geplaas. Toe die bevel kom, tel op die tou, natuurlik in Engels, het die bleekbene met flinke beweging die tou opgelig en vasgevat. Die Boere het een-een gebuk om die tou op te tel.
Op die bevel trek styf die tou, het die Britte agteroor gebeur met hul regtervoete dwars in die gras en linkerhakke vorentoe in die gras vasgeskop. Die Boere het een-een agteroor geleun, elk op sy eie tyd. Dit het gelyk soos domino’s wat val. Albei hakke in die gras vasgetrap.
Op die bevel trek, het niks dadelik gebeur nie. Die Boere begin toe om die Britte uit te lok deur die tou op en af te ruk. Die Engelse se drywer het die situasie fyn dopgehou. Toe die Boere weer die tou laat sak, klap hy met sy hand op die grond. Toe beweeg daardie bleek bene so gelyk soos die damesoldate van Kim Jong-un van Noord-Korea op parade. Dis net trap, trap trap. Aan die ander kant het dit gelyk asof die Boere Loftus se grond vir mielieplant voorberei.
So was dit idem met al die Springbokspanne.
Prof Gert en ek het huis toe gery sonder om te praat. Gekrenk in ons eer, kwaad vir die bleekbene. Wag maar, dalk kry ons julle weer by Amajuba soos in 1881!
Van bulkalwers tot predikante
As predikant van ons gemeente het prof Gert en Magda die HSV-Van der Hoff Studentetoer in 1973 na Noord-Transvaal meegemaak.
Ek was die seremoniemeester en het ’n grappie gebruik wat Sillie van der Westhuizen altyd vertel het in die jare toe hy seremoniemeester was (en hy was ’n besonder begaafde seremoniemeester). Daarna het ek prof Gert opgeroep om die gehoor welkom te heet.
Kortliks gaan dit daaroor dat studente per geleentheid ’n boer van ver in die Noord-Kaap oortuig het dat die Fakulteit bulkalfies in predikante verander. Hy skenk hulle toe een waarmee die studente natuurlik na ’n jaar of twee beesbraai gehou het. Na ses jaar laat weet hulle die oom dat sy bulkalf die volgende Sondag sy proefpreek as proponent lewer.
Na die diens stap die oom toe hoog in sy skik konsistorie toe, klap “proponent’ Pelser op die rug en verklaar: Proponent, ek sweer jy was ou Witlies se kalf.
Prof Pelser begin toe sy toespraak met die volgende woorde: Die seremoniemeester was die eerste verskalf wat daar aangekom het!
Nutteloos om te noem: Hy het die geveg gewen.
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)