Soos gewoonlik, is ek weer op punt nommer 99.99999. Ja, mense, ek kan myself in sirkels draai. Dit wil voorkom asof ek niks kan doen of bereik indien dit nie met ’n adrenalien-opwelling is nie. Ek het ook nogal gewonder of dit dalk ’n teken is van ons moderne tyd…

Ons jaag van die een afspraak na die ander, jaag van die een plek na die ander, jaag na elke geskeduleerde afspraak, jaag om elke sperdatum te bereik, en behoede ons tog van ’n paar minute ekstra om uit te vra na die mens met wie ons te doen het, of om net ’n paar woorde te wissel. Hoeveel keer nog moet ek hoor, kan nie nou praat nie, ek moet…, of maak klaar, ek is haastig…

In die proses vergeet ons hoe om te leef, ons verleer hoe om met mense om te gaan, vergeet dat daar mense is wat smag na ’n vyf-minute-geselsie, mense wat vereensaam omdat hulle nie inpas in ons besige bestaan nie. Ons word onvergenoeg en onvervul, omdat ons lewens draai om dinge wat geen waarde toevoeg tot ons sielsgesondheid nie.

In die Predikerboek word alles beskryf as ’n gejaag na wind – die lewe word op nege plekke so beskryf. Dit klink baie sinies en selfs depressief!

Wanneer laas het jy net vir ’n oomblik die stilte geniet, ’n koppie tee in die tuin gedrink, ’n vink dopgehou terwyl hy nes bou, ingeval vir ’n kuiertjie by ’n vriend(in), ’n geselsie gehad met ’n vreemdeling, ’n glimlag, oogkontak, ’n sonsondergang geniet, ’n plantjie bewonder, van jou tyd afgestaan aan ’n ander?

Hoeveel mense tel nog in jou lewe? Wie het nog gereelde kontak met broers, susters, niggies, neefs, ouers en grootouers wat nog leef? Het ons ’n volk/nasie geword wat net ons eie belang vooropstel? Gee ons werklik nog om vir mekaar?

Alles word soms ingeboet, want ons wil klaarmaak met alles waarheen ons jaag. Dit laat ’n mens nogal dink aan ’n hamster wat heeldag op sy wiel in sy hok rondhardloop, maar ook geensins êrens anders uitkom nie.

Die Prediker soek vanaf hoofstuk 1 sin in onder andere wysheid en kennis (1: 16-18), lag, plesier en wyn (2: 1-3), groot ondernemings opbou en besittings (2: 4-8), die goeie lewe (8: 10). Aan die einde sê hy steeds: Dit is ’n gejaag na wind.

Wat is dan fout met die goeie in die lewe soos wysheid, kennis en harde werk?

Hoofstuk 2: 24 en 25 is die sleutel om die Prediker se siniese stellings te verstaan: Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit ’n gawe uit die hand van God is. Wie kan eet, wie kan geniet as Hy dit nie moontlik maak nie?

Prediker wys vir ons dat ’n lewe van dankbaarheid teenoor God ’n geskenk is uit die hand van God – wanneer ons kan eet en drink, kan werk en die goeie kan geniet – alles is net genade.

Die lewe is ’n gejaag na wind wanneer ons nie besef nie dat elke seëning, ons gesondheid, familie en elke nuwe dag ’n gawe van God is. ’n Gawe uit God se hand wat ons nie verdien nie, maar wat ons as ’n geskenk kry elke dag van ons lewe. Alles net genade…

Miskien… moet ek minder jaag en net ’n oomblik myself afvra: Waarheen jaag ek?

’n Oomblik neem om te luister na ’n ander se behoefte.

’n Oomblik neem om net tot rus te kom.

’n Oomblik neem om ’n familielid te skakel.

’n Oomblik neem om na te dink of alles waarheen ons jaag, werklik belangrik is?

’n Oomblik neem om na te dink oor of ons dankbaar is vir ons talryke seëninge?

’n Oomblik neem om na te dink of ons daardie seëninge ook met ander deel?

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

NHSV Streekvoorsitter: Noordelike Pretoria