Die jongste lidmaatsyfers toon dat die daling in lidmaattalle begin afplat: Die Hervormde Kerk het tans feitlik 58 000 belydende lidmate en byna 14 000 dooplidmate. Dit is goeie nuus en bevestig dat die Kerk gereed is om ’n fase van konsolidasie in te gaan. Talle gemeentes is nou gereed om hul bediening en werksaamhede nuut in te rig om meer effektief te funksioneer.
Die nuutverkose Kommissie van die Algemene Kerkvergadering (AKV) wil gemeentes hiermee help. Op die Kommissie se bosberaad van 15 tot 18 Januarie het hulle indringend besin oor die opdragte van die pas afgelope 73ste AKV en maniere waarop hulle strategies leiding kan gee om gemeentes daadwerklik te help.
Die Kommissie glo die Kerk – die gemeenskap van gelowiges – moet deur die verkondiging van Jesus Christus hoop bied aan die mense om ons. Maar die verkondiging van die evangelie is ingebed in die missie om die goeie nuus te vier, om die gemeenskap van die gelowiges te bou, om te getuig van die verlossing in Jesus Christus, en om te dien waar ons kan. Hierdie vier aspekte van die Hervormde Kerk se missie is een van die voorwaardes vir ’n gemeente se voortbestaan; die ander is dat die gemeente hul unieke roeping in hul omgewing moet verstaan en verwoord, en dat hulle in staat moet wees om die administratiewe en finansiële verantwoordelikhede wat met gemeentewees gepaardgaan, te dra.
Ongelukkig is dit nie altyd die geval nie. Daar is ondubbelsinnige aanduidings dat gemeentes se lidmaatstatistieke nie akkuraat is nie, dat hul administrasie talle gebreke toon, en dat hul finansiële beheer ver te kort skiet. Daarom is die belangrikste oogmerk van die Kommissie van die 73ste AKV om gemeentes en ringe oor die volgende drie jaar hiermee te help.
Die Kommissie het gevolglik twee belangrike besluite geneem oor hul eie werksaamhede: Die Kommissie wil elke ring in die Kerk oor die volgende drie jaar persoonlik gaan besoek, en die Kommissie wil op hul kwartaallikse vergaderings minder tyd aan administratiewe sake en meer tyd aan diepgaande besinning bestee.
Besoeke aan elke ring in die Kerk sal die Kommissie in staat stel om begrip te ontwikkel vir die unieke uitdagings van elke ring en gemeente. Dit sal die Kommissie, ringe en gemeentes help om nuwe vrae te vra en nuwe perspektiewe te vorm waaruit nuwe maniere van werk kan ontwikkel en gemeentes nuwe hoop kan kry. Deur persoonlike interaksie kan die Kommissie gemeentes help om die hulpmiddels wat reeds bestaan, te benut sodat gemeentelike administrasie kan verbeter en predikante en kerkrade hul gemeentes meer effektief kan lei.
Terselfdertyd wil die Kommissie hul eie tyd en werksaamhede meer produktief inrig. Tradisioneel word ’n geweldige hoeveelheid tyd op Kommissievergaderings deur blote administratiewe aangeleenthede opgeneem, en soms ook deur tydrowende gesprekke wat goedskiks deur die Moderamen behartig kan word. Die Kommissie het daarom besluit om gesprekke met predikante, ringskommissies en ander instansies aan die Moderamen op te dra, om die agenda van Kommissievergaderings anders in te rig, en om by elke vergadering minstens die Donderdagmiddag aan diepgaande besinning oor aktuele sake te wy.
Hiervoor het die Kommissie drie werkterreine geïdentifiseer wat ooreenstem met die strategiese koers vir die Kerk wat in April 2021 op ’n werkwinkel saam met die Raad van Finansies bepaal is. Die Kommissielede is gevolglik in drie klusters (werkgroepe) verdeel wat onderskeidelik sal besin oor die volgende:
Kluster 1: Gemeentebediening (opbou van die gemeenskap van gelowiges)
Kluster 2: Teologiebeoefening, teologiese opleiding en toerusting
Kluster 3: Administrasie, finansies, regsake en kommunikasie
Die Kommissie beplan daarom weer ’n Inligtings- en besprekingsvergadering waar die nuwe werkwyse in meer besonderhede verduidelik sal word. Verder wil die Kommissie in samewerking met die Predikantevergadering, die Hervormde Teologiese Kollege (HTK), die Sentrum vir Gemeentelike Bediening (SGB), die Algemene Diakensvergadering (ADV) en ander instansies verseker dat gemeentes en predikante oor die nodige ondersteuningstrukture beskik om hul werk goed te doen.
Só wil die Kommissie predikante en gemeentes help, en wil ons wil die standaard van die Kerk se bediening oral en in alle fasette op die hoogste moontlike vlak bring – tot eer van God en tot uitbreiding van sy koninkryk in ons gemeenskap.
(Dr Wouter van Wyk is sekretaris van die Kommissie van die AKV)