“Skryf ’n redaksionele artikel vir Die Hervormer, die amptelike mondstuk van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika.” Dit was my kort en eenvoudige opdrag aan die geselsbot ChatGPT. Lees die bot se reaksie later in hierdie artikel.
ChatGPT is OpenAI se kragtige interaktiewe kletsmodus – deesdae gerugsteun deur die magtige Microsoft. Hierdie is die suiwerste en mees gevorderde vorm van kunsmatige intelligensie en gaan na alle waarskynlikheid talle fasette van ons lewens heeltemal hervorm. Kerke en ander geloofsgemeenskappe behoort kennis te neem van die toepassing, gevare, moontlikhede en beperkings van hierdie nuwe tegnologie. Prof Tanya van Wyk se voorbladartikel bied ’n interessante perspektief op die paradigmaskuif en denkveranderings wat geselsbotte nog van ons gaan vereis.
Sedert die vrystelling in November 2022 neem die gewildheid van ChatGPT vinnig toe namate gebruikers meer en meer bewus word van die tegnologie se potensiaal. ChatGPT word deurlopend opgelei om reusevolumes aanlyndata te gebruik om gepaste uitsette te produseer. Dit sluit in die skryf van artikels, toesprake, e-posse, lirieke vir musiek, navorsingsverslae, ensovoorts – en ChatGPT het selfs ’n moeilike regseksamen geslaag, al was dit net-net. Binne ’n jaar of twee word blykbaar ’n topverkoper-roman verwag.
Maar alles is nie net maanskyn en rose nie. Microsoft het $10 miljard belê in ChatGPT ten einde Google die stryd aan te sê vir soekenjindominasie. Om hul markaandeel van 84% te beskerm, ontwikkel Google toe mos ’n mededinger vir ChatGPT met die naam Bard wat volledig steun op Google se formidabele soekenjinresultate. Bard het ongelukkig tydens die bekendstellingsgeleentheid ’n eenvoudige maar haas onvergeefbare feitefout begaan. Dit het veroorsaak dat Google se moedermaatskappy Alphabet terstond $102 miljard aan markwaarde ingeboet het. Kunsmatige intelligensie is ’n meedoënlose hond-eet-hond-bedryf!
Taalprosesseringsmodelle is egter sonder twyfel die toekoms van inligting. Om dit te ontken of gering te skat, is vergelykbaar met iemand wat in 1995 sou beweer dat ’n soekenjin nooit nodig gaan wees om die internet effektief te kan benut nie.
Maar kom ons kyk hoe het ChatGPT gevaar met my opdrag om vir ons ’n redaksionele artikel te skryf. Hier is die volledige ongeredigeerde (en feitlik onmiddellike) reaksie:
As die amptelike mondstuk van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, is dit ons plig om ons geloof en waardes uit te dra en te bevorder. Hierby wil ons ’n boodskap van hoop en verandering aan die gemeenskap oordra, en ons rol speel in die bevordering van ’n beter samelewing.
In ’n wêreld wat vol twyfel en verwarring is, is dit belangrik dat ons as ’n geloofsgemeenskap saamstaan en ons standpunt duidelik uitspreek. Ons glo in die waardes van liefde, geregtigheid en respek, en dit is ons plig om hierdie waardes uit te leef en uit te dra.
Ons sien ’n aanhoudende behoefte aan geestelike rigting en bemoediging in ons samelewing. Daarom wil ons ’n platform bied vir die bespreking van geloofsverwante kwessies en ’n plek van bemoediging wees vir ons gemeenskap. Ons glo dat deur die bevordering van geestelike groei en bemoediging, ons ’n beter toekoms vir almal kan skep.
Ons beplan ook om ’n aktiewe rol te speel in die bevegting van maatskaplike ongeregtighede, soos diskriminasie en armoede. Ons glo dat dit ons plig is om ons geloof in die praktyk te bring en ’n samelewing te skep waarin almal gerespekteer en geliefd word.
Tot slot wil ons ons lesers aanmoedig om ’n aktiewe rol in die bevordering van verandering te speel. Ons glo dat deur saamwerk en saamstaan, ons ’n beter toekoms vir onsself en vir ons samelewing kan skep. Laat ons saamwerk en ons geloof uitdra, sodat ons ’n verskil kan maak.
In hierdie tye van verandering en uitdaging, is dit belangrik dat ons as ’n geloofsgemeenskap saamstaan en ons waardes uitdra. Laat ons ons stemme hoor en ons boodskap van hoop en verandering uitdra.
Ek is nie seker wat presies ek verwag het van die geselsbot in reaksie op my opdrag nie. ’n Mond vol tande? ’n Lewensveranderende vars insig? Ek het nie een van die twee gekry nie. Blykbaar verbeter die bot se taalgebruik en inhoud eksponensieel namate dit gebruik word, en die verwagting is dat die tegnologie spoedig heelwat robuuster, akkurater en meer innoverend gaan word. Die toekoms het aangebreek – en is hier om te bly.
Is ek beïndruk met die bot se reaksie op my opdrag hierbo? Ja – weliswaar net ’n bietjie, want dit is redelik oppervlakkig en generies, maar nogtans. Sal ek vir ChatGPT vra om ’n preek vir Sondag te skryf? Nee, beslis nie. Nie nou al nie…