By die konsep gedrukte media sluit ek die publikasies in wat tradisioneel op papier gedruk word, wat gereeld verskyn volgens ’n vaste skedule, en wat van ’n populêre aard is. Dit is, met ander woorde, koerante en tydskrifte soos dit in die algemeen gepubliseer word en wat deur ’n lesersgehoor op ’n gereelde basis benut word. Hierdie publikasies word gewoonlik op ’n rolpers gedruk in oplae van duisende kopieë, waar tyd en totale koste belangrike oorwegings is.

Uitgesluit is bemarkingsmateriaal, brosjures, nuusblaaie, akademiese vakpublikasies, handleidings, bedieningsinstruksies, opleidingsmateriaal, en alle fiksie- en nie-fiksie-boeke. Hierdie publikasies word gewoonlik, maar nie altyd nie, op ’n bladpers gedruk en die oplae is kleiner, selfs so min as 100 kopieë. Waar die oplae 5 000 oorskry en die formaat sodanig is dat dit op ’n rolpers gedruk kan word, kies die meeste organisasies vir laasgenoemde aangesien die druktyd heelwat minder is en die produksiekoste ook ietwat laer.

Die basis vir die onderskeid in die definisie is die bron waaruit die twee breë kategorieë van gedrukte leesstof befonds word. Die uitgeslote items is hoofsaaklik intern of bronspesifiek befonds terwyl koerante en tydskrifte van advertensie-inkomste afhanklik is. Dit is ’n belangrike onderskeid, aangesien die debat oor die toekoms van gedrukte media in ’n groot mate afhang van die finansiële lewensvatbaarheid van publikasies. Dit is ’n faktor wat reeds oor die laaste dekade ’n groot rol in die media gespeel het, maar wat ’n al groter impak gaan hê soos wat meer en meer tradisionele media onder druk kom as gevolg van dalende advertensie-inkomste.

Kerklike publikasies

Waar pas die publikasies in wat die Kerk gebruik in die breër bedieningskader?

’n Kerkkoerant soos Die Hervormer, byvoorbeeld, leen van beide afdelings in die definisie. Dit is ooglopend ’n koerant (nuusblad); met ander woorde, dit word volledig gedefinieer deur dit gelyk te stel aan alle ander sodanige media, maar dit is ook ’n sogenaamde in-huis-publikasie wat deur privaatbronne gefinansier word. Verder is die teikengehoor duidelik afgegrens en dien die inhoud ’n spesifieke doel om die aangeduide teikengehoor te bereik en te bemagtig. In ’n sekere sin kan ’n mens redeneer dat ’n kerkkoerant ’n hibried is tussen die ander media, maar dan moet daar ook dadelik bygevoeg word dat daar geen tekort is nie, wêreldwyd of plaaslik, aan publikasies wat ooglopend die kleed van hetsy koerant of tydskrif dra, maar wat nie van ’n advertensie-inkomste afhanklik is nie.

Dit is reeds ter aanvang belangrik om die finansieringsbron aan te dui en die impak daarvan op die langslewendheid van spesifieke titels duidelik te omskryf. Oor die volgende twee dekades gaan die volhoubaarheid van gedrukte media slegs deur twee faktore bepaal word, naamlik die grootte van die lesersgehoor, en die geldelike inkomste wat óf deur die uitgewer beskikbaar gestel word óf wat deur die publikasie self genereer word deur advertensies (80%) en eksemplaarverkope (20%).

Internasionale tendense

Oor die laaste dekade is daar ’n merkbare afname in die aantal gepubliseerde titels van sowel koerante as tydskrifte, en in hul drukoplae. Goed gevestigde dagblaaie soos die New York Times, die Chicago Tribune en die Wall Street Journal het almal oor ’n tien-jaar-periode afnames van tussen 40% en 60% gerapporteer. Ook in Europa het al die gevestigde publikasies, beide koerante en tydskrifte, drastiese afnames aangemeld, en in Suid-Afrika lyk die prentjie presies dieselfde.

Die oplossing uit hierdie knyptang is nie altyd eenvoudig nie. ’n Groot aantal publikasies het begin om sogenaamde digitale uitgawes voor te berei en daagliks op te dateer, maar die inkomste daaruit is nie voldoende om vir die verlies aan advertensie-inkomste te vergoed nie.

Dit blyk nou redelik duidelik dat die dubbeldoormodel nie werk nie. Daarmee bedoel ek ’n publikasie wat poog om sy papiertradisie te laat voortbestaan en dan terselfdertyd ’n parallelle digitale uitgawe die lig te laat sien. Die meeste uitgewers ervaar dat die een in die ander se ruimte indring en dat nie een van die twee uitgawes, papier of digitaal, ’n sukses is nie.

Die groot gebrek met so ’n dubbeldoorpublikasie is dat dit nie ’n duidelik omskrewe identiteit het nie. Nog vis nog vlees, soos ons vroeër sou sê. Dié wat wel ’n redelike mate van sukses het, is dié wat die papieruitgawe doodeenvoudig nek omdraai en dan volstoom net op die digitale uitgawe konsentreer.

’n Goeie voorbeeld is Volksblad waarvan die indrukwekkende 113-jaar-geskiedenis as gedrukte medium in 2020 tot ’n einde gekom toe Nasionale Pers besluit het om slegs met die digitale uitgawe voort te gaan.

Produksiekoste

Heelwat ouer lesers wat oor die algemeen papierpublikasies verkies, besef nie watter groot rol die produksiekoste van ’n rolpers speel nie. Rolperse werk op die beginsel van een of meer lang bane papier wat aaneenlopend deur ’n aantal drukeenhede loop en waar elke eenheid een van die vier kleurskeidingkleure afdruk. As die strook papier by die laaste eenheid uitkom, is agt bladsye in volkleur aan weerskante van die strook gedruk. Dit gaan dan deur ’n vouer en ’n kapper wat dit in agt-bladsy-seksies (tabloid of ponieformaat) of vier-bladsy-seksies (wyeblad) afkap vir elke papierbaan wat deur die pers hardloop. Deur ’n enkele rolpers van vier eenhede kan twee bane loop, maar dan is slegs vier bladsye volkleur beskikbaar.

’n Rolpers is ’n duur, tegnies gevorderde drukmedium. Die aanvanklike kapitale investering beloop gewoonlik tussen R8 miljoen en R12 miljoen om 16-blad tabloid-seksies in volkleur te produseer. Dit sluit nog nie die geboue en ander infrastruktuur en verwante koste in nie. Die drukproses self is tegnies baie gevorderd. Omdat daar soveel bladsye, elk volgens sy eie kleurskeiding, gedruk word, beteken dit dat al die bladsye op ’n manier perfek oor mekaar moet registreer anders kom sogenaamde offset voor wat nogal dikwels in koerante gesien word. Dit is die opvallendste by mense se oë waar daar dan twee of selfs drie pare oë in dieselfde gesig is, elk net so ’n aks af van die ander.

’n Verdere koste-aspek die afgelope dekade wat ’n groot impak op produksiekoste het, is die tekort aan koerant- en tydskrifpapier, veral sekere tye van die jaar. Dit het meegebring dat drukkers hul pryse oor ’n relatiewe kort periode met tussen 30% en 40% verhoog het.

Kyk ons nou na die produksie van ’n item soos ’n kerkkoerant, dan glo ek die meeste lidmate sal my vra: Nou wat het dit alles met hulle te doen? Hulle wil net elke maand hul Hervormer kry en nie gepla word met die tegniese oorwegings nie. Die koste-aspek kan ongelukkig nie meer geïgnoreer word nie.

Vervangingsmodelle

Die digitale revolusie het ongeveer 20 jaar gelede begin toe internetdiensverskaffers begin het om sogenaamde slimfone as deel van hul pakkette vir verbuikers in te sluit. Gou het ondernemende nuwe uitgewers agtergekom dat ’n groot gehoor deur slimfone bereik kan word, mits die publikasies so aanmekaar gesit word dat dit as ’n PDF oor ’n selfoon gestuur kan word. Die enigste voorwaarde is dat die publikasie ’n baie lae resolusie moet hê sodat die versending nie die beskikbare bandwydte oorskry nie. Tegnologies is hierdie probleme binne enkele jare opgelos, en met die koms van Facebook, YouTube en WhatsApp is die laaste penne ingeslaan vir ’n totale digitale revolusie. Dit is nou in ons midde.

Hoe lyk die pad anderkant die horison?

Dit is nie vergesog nie om te verwag dat die tegnologiese vordering oor die laaste twee dekades met kommunikasie, nog slegs die eerste kindertreetjies is. Hoe ons kommunikeer en wat ons daarvoor gebruik, gaan oor die volgende twee dekades nog ’n groter omwenteling beleef as wat die geval is tot op hede. In Engels praat ons van disruptive technology, en dit is presies wat persoonlike kommunikasie besig is om te ondergaan – iets wat net meer dramaties sal word namate die tegnologie nog verder in sofistikasie toeneem.

Ek skat dat ons binne die volgende tien jaar by die punt sal kom waar besluit sal moet word of ’n gedrukte Die Hervormer, of enige ander kerklike publikasie, nog enigsins sin maak. Ons is reeds by die punt verby waar dit nie meer ekonomies sin maak nie, so nou is die enigste oorweging hoeveel lidmate nog afhanklik is van ’n gedrukte koerant. Dit is onvermydelik dat die behoefte sal aanhou krimp en dat digitale publisering die enigste sinvolle opsie is. Ons is nie ver van daardie punt af nie, maar moenie verbaas wees as die hele proses nog ’n verdere 20 jaar duur nie.

Sedert die begin van die 1990’s was daar gedurig analitici wat ons wou oortuig dat gedrukte media se tyd om is – selfs binne ’n vyf-jaar-raamwerk, is toe beweer. Dit het toe nie so gebeur nie. Daarvoor is die gedrukte media te gevestig en te diep ingeburger in ons kulturele omgewing, maar die skrif is aan die muur.

As deel van die oorbruggingsfase word soms voorgestel dat alle publikasies voortaan slegs digitaal uitgegee word, maar dan in ’n formaat wat beide slimfoon- en drukvriendelik is. Dit beteken dat ’n publikasie op ’n hoër resolusie voorberei word en na ’n drukkery gestuur word met die internet. Die drukkery druk dan 100 of so eksemplare vir plaaslike gemeentes op ’n bladpers wat die groot produksiekoste omseil. Dieselfde publikasie se resolusie word dan verminder sodat dit soos enige ander aanhangsel, of met e-pos of deur sosiale media, versprei kan word.

Hierdie prosesverandering lê nog voor, maar daar is reeds genoeg empiriese data beskikbaar wat aandui dat ons op die wendingspunt staan.

(Ds Daniel Steinmann is redakteur van Namibia Economist en leraar in Gemeente Windhoek)