Jy wat jonk is, moet vreugde vind in jou jeug en jou jong dae ten volle geniet (Pred 11: 9). En waar vind jongmense meer vreugde as wanneer hulle ontspanne saam aan die begin van ’n lewensveranderende nuwe avontuur staan! Aan die einde van Januarie vanjaar het die Hervormer-eerstejaars van die Universiteit van Pretoria, Stellenbosch Universiteit en die Noordwes-Universiteit onder leiding van hul plaaslike NHKA-gemeente hul onderskeie eerstejaarskampe beleef. 

POTCHEFSTROOM-STUDENTE
Eerstejaarskamp 2023 – nader aan mekaar en aan ons Skepper

Die eerstejaarskamp was ’n besondere ervaring – om elke eerstejaar te sien geestelik gereed maak om die studentelewe aan te pak!

Sondag 29 Januarie 2023, na die erediens, vertrek die HSV-lede van Gemeente Potchefstroom-Studente na Venterskroon-kampterrein. Binne ’n paar minute begin die kampwiele rol, met kosvoorbereiding, kenmekaar-geselsies en ’n lekker braaivleisvuur. Maandag ontdek die HSV-bestuur dat Venterskroon-kampterrein in die Vredefortkoepel ’n juweel is vir verkenning en ’n ervaring na aan die natuur, en ’n vinnige staproete word ingewerk.

Dinsdag arriveer die eerstejaarstudente by die kampterrein na ’n gulhartige ontvangs by die Studentegemeente in Potchefstroom. Hulle word verwelkom en die spanne wat deur die week gaan saamwerk in spanspeletjies en met kosvoorbereiding, en in die beroemde konsert gaan optree, word bekendgemaak. Die eerstejaars word sommer dadelik deel van ons studentegemeenskap omdat elkeen in ’n span ingedeel word en groepsinergie en aanvaarding ervaar.

Elke dag het opwinding van sy eie. Dit begin met dr Rudy Denton se Bybelstudie en wyse woorde oor hoe om die studentelewe baas te raak. Speletjies soos “Minute to Win it”, boeresport, tafeltennis, “pool”, “Ken jy jou bure” en “volleyball” in die swembad word gespeel. Die aande was plesierige kuiertyd, want na ’n lang dag van aktiwiteite word die dag afgesluit met “sokkie” en sing om die kampvuur, en natuurlik ’n heerlike beker koffie.

Donderdag is die laaste dag om die besondere natuurskoon van die kampterrein in te neem. Die boeresport en laaste konsertoefening vind plaas voor die gordyne lig… Die permanente lidmate van die Studentegemeente het kom besoek aflê en ’n span gesoute beoordelaars het die verrigtinge duidelik geniet. Humor was oorvloedig en die lagspiere het oortyd gewerk. Na al die opwinding en bekendmaking van die “wenkonsert” was dit tyd om saam stil te word en dankbaar te wees… Hierdie nuwe pad van die eerstejaarstudente wat hul nuwe toekoms betree, is op gepaste wyse gevier met agtergrondmusiek en die kruis as baken van God se lig en liefde wat in ons almal aangesteek word en ’n diepe bewustheid laat ontwaak. Ons sing en bring ons lofliedere om hierdie nuwe pad te plavei met wense van goeie seëninge vir die toekoms uit God se hand.

Donderdagaand se laatnagkuier het gelei tot ’n indrukwekkende Vrydag-sonsopkoms wat ons saam geniet. Na ontbyt keer almal terug na Potchefstroom met ’n arsenaal van goeie herinneringe en nuwe idees, en toegerus om met gerigtheid en in geloof ons studiepad aan te pak in 2023.

Na ’n heerlike Vrydagmiddagslapie braai ons weer saam met van die eerstejaars se ouers by die kerk. Natuurlik het nog ’n laataandkuier met hope studentepret gevolg.

Dit is wonderlik hoe vinnig ’n mens ander kan inlaat in jou persoonlike ruimte en jou hart, wanneer God tussen mense teenwoordig is. Dit is immers tog wat gebeur by die Hervormde Studentegemeente se kamp. Hier beweeg ons nader aan mekaar en nader aan ons Skepper, Vader, Here, Redder en God.

HSV Gemeente Potchefstroom-Studente

STELLENBOSCH
Aanvangskamp 2023 in Matieland

Op Sondag 29 Januarie het ons om 14:00 by die kerk saamgekom en daarna na ons kampterrein vertrek. “Ons” is die Hervormers van Matieland. Ons kampterrein is so 10 km buite Stellenbosch, maar dit voel of ons afgesonder en ver van alles is. Dit is die boskampterrein van Simonsberg Christian Centre langs die bekende Kanonkop-wynplaas. Die boskamp is ’n groot terrein, geskik vir kleiner groepe soos ons. Daar is aangename slaapplekke, badkamers en ’n groot afdak oor ’n houtdek langs die kombuisie. En natuurlik die lekker swembad! ’n Terrein langs ’n dam wat omring is met hoë bome, berge en wingerde, met Simonsberg wat oor ons waghou.

Soos altyd hierdie tyd van die jaar, is dit erg warm in Stellenbosch en omgewing. Dus, toe ons op die terrein aankom, is die bagasie neergesit en almal swembad toe. Daarna het ons met ons gewone aktiwiteite begin. Die groepie is in twee spanne ingedeel en die twee spanne het die hele naweek teen mekaar gekompeteer, of dit nou “volleyball” in die swembad is, “jukskei” soos ons dit doen, boeresport, “30 seconds”, die uitsnuffel van weggesteekte toffies, outydse name, vanne, diere, dorpe, kaartspeel in die aftye, ensovoorts. Die speletjies is natuurlik afgewissel met stilwordtye waar ons telkens aan die hand van ’n Skrifgedeelte gesels het oor ’n onderwerp wat hul lewe as Christenstudente op die kampus raak.

In die agtergrond was die sluipskutters met hul dodelike wapens besig om mekaar af te maai, totdat daar net een oorbly. Die wapens is darem net spuite met water in en “afmaai” beteken maar net ’n onverwagse nat kol iewers op jou lyf. As iemand die sluipskutter gesien het toe daar geskiet is, het dit nie getel nie. Geen wonder almal het vir ’n lang ruk omkyk-omkyk beweeg en niemand naby hulle vertrou nie! Soos altyd was dit weer ’n lekker kamp en ons sê baie dankie vir ons bestuur onder leiding van Elizabeth wat die kamp saam met dr Chris gereël het.

Ons Hervomers in Matieland is nie baie nie, maar ons kamp elke jaar baie lekker en dit lei tot ’n aktiewe HSV-jaar. Ons nooi Hervormers van wie ons nog nie weet nie, om ook by ons HSV te kom inskakel – elke Woensdagaand om 19:00 in die kerksaal. Ons eredienste is 09:00 Sondagoggende en 19:00 elke tweede Sondagaand.

Dr Chris le Roux, Stellenbosch

PHILADELPHIA
Afskopkamp 2023 – ’n nuwe begin

In Junie 2020 vra Tessa Oppermann my om ’n artikel te skryf oor studente se belewenis van die grendeltyd. Die opskrif van die artikel is: Ons gaan anders anderkant uitkom… (Blitspos, 25 Junie 2020). Ek het die woorde aangehaal van die joernalis Charles Smith. Hy het in ’n artikel vir Netwerk24 op 26 Maart, dag een van grendeltyd so beskryf: Vandag eindig die lewe soos ons dit ken. Om middernag begin ’n nuwe, onsekere en troebel tydperk van afsondering, oorlewing, oordenking en net dalk ’n nuwe, vars begin. Ons gaan anders anderkant die virus uitkom… Ek het ’n donker prentjie geteken van ’n leë kampus en studente wat te bang is om met mekaar kontak te maak. Te bang is vir die virus. Hoe die anders gaan lyk, het niemand geweet nie.

Ons is nou twee en ’n half jaar verder en wie sou kon dink dat die ander, nuwe, vars begin so sou bruis van lewe en hoop! Ons Afskopkamp 2023 het net bevestig dat ons nooit die Here se getrouheid en liefde moet onderskat nie. Vergete was ’n grendeltyd! Ek het studente ontmoet wat met ywer, vreugde en verwagting na ’n splinternuwe jaar uitsien. Die kamp was ’n fees, die saamwees was ’n fees – ’n feesviering van die LEWE! Hoe ons anderkant uitgekom het, was om nuwe waardering te hê vir die lewe, vriendskappe te koester en dankbaar elke geleentheid aan te gryp. Die studente wat die Afskopkamp beleef het, was lewende getuienis dat daar altyd HOOP is en dat die HOOP nooit beskaam nie. Nooit weer sal ek aan ’n Afskopkamp kan dink as net nog ’n kamp nie – vir ons by Philadelphia sal die geleentheid altyd ’n teken wees van ’n splinternuwe anderkant.

Dr Sanrie de Beer, Philadelphia