Prof Ananda Geyser-Fouché van die Universiteit van Pretoria het in September 2021 ’n tweede PhD-graad verwerf, dié keer in Semitiese Tale. Die titel van haar proefskrif is The Ideological Necessity for the Transformation of the Lady Metaphors in Judaic Wisdom Literature. In hierdie artikel en die tweede aflewering daarvan in die volgende uitgawe van Die Hervormer lig sy haar proefskrif toe, asook die boek wat daaruit gaan voortvloei.

In Deel 1 van hierdie artikel kyk ons na die personifikasie van wysheid in Spreuke (Hebreeus en Grieks) en Qumran-geskrifte.

Spreuke

Die personifikasie van wysheid (en haar teenoorgestelde, dwaasheid), is ’n algemene verskynsel in die Judese geskrifte. Die bekendste vir ons is die boek Spreuke. Die vroulike figure van wysheid en dwaasheid (“Lady Wisdom and Madame Folly”) word in verskillende Judese wysheidskorpora in verskillende vorme en met verskillende eienskappe aangetref. Die “Dame” (of sy “Lady Folly” of “Lady Wisdom” is), het as ’n metafoor ontwikkel en het ’n standaardbeeld in Judaïsme geword, maar wat interessant is, is die manier waarop elke sosio-historiese konteks die metafoor omskryf het. Alhoewel feitlik elke wysheidskorpus die metafoor toegepas het, het byna almal dit herdefinieer en die metafoor gevul met ’n eie konsep van wat dit verteenwoordig.

Dit is nodig om te noem dat die aard van Judese tekste dit baie moeilik maak om te onderskei tussen wysheid en verpersoonlikte wysheid. Daar is verskeie redes hiervoor. Eerstens omdat “wysheid” in beide Hebreeus en Grieks vroulik is, en tweedens omdat Judese tekste, veral Tweedetempelliteratuur, bestaande tradisies en tekste (hetsy skriftelik of mondeling) spontaan in hul geskrifte geïnkorporeer het; verder het hul intertekstuele geheue verbande getrek tussen metafore en tekste sonder eksplisiete verwysings.

Die tekste waarna verwys gaan word, sluit die volgende in: Spreuke (Hebreeus/Masoretiese teks asook Grieks/Septuagint), Job, Qumran, Barug, Ben Sira, en Wysheid van Salomo. Alhoewel die inhoud opsommend bespreek gaan word, is dit nog nodig om die artikel oor twee uitgawes in twee dele te publiseer.

Nie alle wysheidstekste maak van personifikasie gebruik nie. In sommige tekste is wysheid eeder ’n voorwerp waarna gesoek kan word (soos ’n skat) of bestudeer en oorpeins kan word (soos die Torah). Spreuke 2: 1-15, 20-22; 3 en 4; asook 4Q185; 4Q525; Job 28 en Bar 3: 9 – 4: 4 kan as sulke tekste gesien word. 4Q185 het soveel metafore wat met wysheid geassosieer word, maar daar is geen duidelike aksie wat aandui dat wysheid menslike eienskappe in hierdie teks het nie. In 4Q525 word wysheid uitgebeeld as iets wat aangeleer kan word, oordink of bepeins kan word en wat verbind kan word met die assosiasie van wysheid en Torah in die laat Tweedetempeltydperk. In hierdie tekste is wysheid abstrak sonder menslike kenmerke. Dieselfde geld vir Job 28, waar wysheid gekontrasteer word met metale en minerale wat op ’n sekere plek gevind kan word en Bar 3: 9 – 4: 4 waar wysheid onverstaanbaar is.

In Spreuke 1: 20-33; 2: 16-22; 3: 16; 4: 6, 8; 5; 6: 24-35; 7: 10-27; 8; en 9 is daar duidelike aanduidings van die personifikasie van Wysheid/Dwaasheid (kontrawysheid). In Spreuke 31: 10-31 vind daar ook personifikasie van wysheid plaas. Alhoewel daar van die “sterk/knap vrou” gepraat word en nie soos in Spreuke 1-9 van “wysheid” nie, is dit duidelik dat hierdie gedig verwys na die metafore wat normaalweg met “Lady Wisdom” geassosieer word. Spreuke 31: 10 praat oor die waarde van ’n knap vrou en vra die vraag wie so ’n vrou sal kan kry. In die intertekstuele geheue skakel dit spontaan met ander verwysings na die waarde en onverkrygbaarheid van wysheid (Spr 2: 4-6; 3: 13-15; 8: 11; 16: 16; 20: 15; Job 28; Pred 7: 23-24; 8: 17), en deur hierdie verbintenis word dit intertekstueel geassosieer met die metafoor van ’n vrou en/of wysheid wat as ’n vrou verpersoonlik word. Spreuke 31: 30 is die hoogtepunt van hierdie gedeelte waarin die kerndeug van hierdie vrou genoem word – “ontsag vir die Here”. Vroeër in Spreuke was dit die beginpunt van wysheid (1: 7; 9: 10), sowel as die hoogtepunt (2: 5; 3: 7). In die ander tekste (Spr 1-9) waar die positiewe vroulike metafoor benut word, kry die abstrakte konsep van wysheid menslike eienskappe. In hierdie teks word die vrou slegs as vrou genoem, op dieselfde manier as wat “Madam Folly” as die ander of vreemde vrou genoem word (Spr 2: 16; 5: 20; 6: 24; 7: 5; 5: 3, 20; 6: 24; 9: 13), nogtans met genoeg metafore om die verband te trek.

Alhoewel die Griekse vertaling (LXX/Septuagint) van die relevante gedeeltes in Spreuke redelik ooreenstem met die Hebreeuse teks, is daar tóg duidelike ontwikkeling te bespeur in die karakterisering van verpersoonlikte wysheid. Die invloed van Torah-vroomheid na die ballingskap, het gelei tot die byvoeging van verwysings na die wet. Bydraes uit die Griekse filosofie het daartoe bygedra dat wysheid in die Septuagint aan filosofie gekoppel is. Daar is ’n paar plekke waar die LXX-vertaler reeds die metafoor geïnterpreteer het, sodat gepersonifieerde wysheid nie meer teenwoordig is in die LXX-teks nie.

Qumran-geskrifte

In die Qumran-geskrifte is daar veral twee tekste waarin personifikasie van wysheid plaasvind.  Dit is 11QPsa en 4Q184. In 11QPsa kol xviii is daar ’n paar metafore wat verband kan hou met verpersoonlikte wysheid. Wysheid het ten doel om God se redding, dade en heerlikheid bekend te maak en diegene te onderrig wat nie oordeel het nie. Daar word gesê dat die onregverdiges ver van haar poorte en van haar ingange is. Sy het ’n stem wat van die hekke af gehoor kan word en waarmee sy kan sing. Wanneer dié teks gelees word binne die konteks van hierdie beweging, kan dit op ’n waarskuwing teen die verkeerde interpretasie van die wette en die kalender dui.

In 11QPsa kol xxi (reëls 11-17) (vgl Sir 51: 13 ev) word wysheid nie net verpersoonlik nie, maar ook in erotiese terme uitgebeeld. Sy is gesoek, gevind en na verlang; haar naaktheid is aangeraak. Sy word ook beskryf as ’n soogvrou en ’n onderwyser. Haar beskrywing stem ooreen met die een in Spreuke 8, wat haar goddelike status as ’n agent vir die Skepper aandui. In die konteks van hierdie beweging kan dit dui op die korrekte lering wat by hul ideologie pas, of dit kan verwys na die korrekte Halakah en kalender.

In 4Q184 is “Woman Folly” ’n sinistere karakter en meer as ’n egbreker. In Spreuke was sy nog ’n egbreker met ’n uitnodigende, aromatiese bed (7: 16-17, 27), maar in 4Q184 is haar kleredrag en klere so donker soos haar karakter; haar bed en woonplek is donker en in skaduwees en word ook beskryf as midde-in die ewige vuur. In meer abstrakte terme word sy uitgebeeld as die een of ander demoniese karakter en gekoppel aan die onderwêreld. ’n Paar dinge wat in hierdie teks duidelik is: Eerstens is die geadresseerdes van hierdie teks nie die dwase persone wat opgevoed moet word (soos in Spreuke) nie, maar die regverdiges. Tweedens is daar die minder-menslike uitbeelding van “Woman Folly”; sy het vlerke en demoniese elemente. Derdens is die verwysing na “woorde” en “onderrig” ’n moontlike aanduiding dat hierdie karakter aan die een of ander soort lering of filosofie gekoppel kan word.

*** In die volgende uitgawe sal gekyk word na Ben Sira, Henog en die Wysheid van Salomo; daarna sal ’n opsommende vergelyking getref word tussen die tekste om te bepaal hoe die karakterisering in die tekste verskil.

(Prof Ananda Geyser-Fouché is medeprofessor in die Departement Ou Testament en Hebreeuse Geskrifte)