Skaars twee weke na die Hervormde Kerk (NHKA) se Algemene Kerkvergadering (AKV), het die NG Kerk (NGK) hul Algemene Sinode (AS) gehou. Vir iemand wat die AS vir die eerste keer bygewoon het, was die verskille en ooreenkomste opvallend.

Die AS met 200 afgevaardigdes is kleiner as die AKV met ongeveer 500 afgevaardigdes.  Die rede daarvoor is eenvoudig: Die NGK is soveel groter as die NHKA, sodat hul gemeentes en ringe almal by een van 10 streeksinodes ingedeel is, en dat elke streeksinode 10 predikante en 10 ouderlinge na die AS afvaardig. Die pas afgelope AS het egter ’n beskrywingspunt aanvaar wat die AS gaan vergroot na ongeveer 370 afgevaardigdes, om ook met die proporsionele verteenwoordiging van kleiner en groter streeksinodes rekening te hou, en om dosenteverteenwoordigers in te sluit. Die NGK se Algemene Sinodale Moderatuur word anders saamgestel as die Kommissie van die AKV, en die AS het hierdie jaar die voortou geneem deur vir die eerste keer ’n vrou, ds Nioma Venter, as assessor (visevoorsitter) te verkies. Ds Nelis Janse van Rensburg is as moderator herkies.

Dit was opvallend dat die AS in die eerste plek as ’n verslagvergadering ingerig is. Die verslae van al die sinodale taakspanne is nie net vir kennisname in die agenda opgeneem nie, maar is telkens deur ’n lid van die taakspan aan die vergadering voorgehou en bespreek. Die agenda van die AS het ’n somtotaal van slegs 12 beskrywingspunte bevat, in teenstelling met die 86 beskrywingspunte in die agenda van die pas afgelope AKV (wat veel korter was as gewoonlik)! Die voordeel van die AS se werkwyse is dat elke verslag en bespreking reeds voor die Sinode aan ’n spesifieke tydgleuf tydens die Sinode toegewys kon word. Dit het geleentheid gebied vir indringende bespreking, en dit ook moontlik gemaak vir besoekers of waarnemers om slegs dié dele van die Sinode by te woon waarby hulle belang gehad het.

Die NGK het baie wyer ekumeniese bande as die NHKA, en dit het duidelik geblyk uit die verteenwoordigers van ander kerke en kerklike liggame wat die AS bygewoon het.  Groeteboodskappe van al hierdie ekumeniese vennote is in ’n blaadjie opgeneem, maar slegs verteenwoordigers van die groot ekumeniese liggame het die geleentheid gekry om die groeteboodskap ook mondeling aan die vergadering oor te dra. Tog het die ontwerpspan van die AS ’n wonderlike geleentheid geskep vir interaksie deur die afgevaardigdes én ekumeniese verteenwoordigers een aand in vyf groepe te verdeel, en toe aan die ekumeniese verteenwoordigers geleentheid te gee om die een groep na die ander te gaan besoek. Tydens hierdie gesprekke het ons baie groot welwillendheid teenoor die NHKA beleef, en baie entoesiasme oor die moontlikhede wat die uitbreiding van die bilaterale ooreenkoms aan gemeentes van die twee Kerke bied om met mekaar samewerkingsooreenkomste te sluit.

Die AS is so ingerig dat afgevaardigdes om tafels gesit het, soos ook by die vorige paar AKV’s. Daar is periodiek geleentheid gegee dat die afgevaardigdes oor verslae of beskrywingspunte om die tafels gesprek kon voer voordat individue geleentheid gekry het om in die groter vergadering standpunte te stel. Die tyd bly egter maar altyd beperk op ’n groot sinode, en die tyd vir tafelgesprekke en individuele deelname moes deurgaans fyn bestuur word om te verhoed dat die toegelate tydsduur oorskry word.

Ek was beïndruk met die teologiese diepte van die gesprek. Die bydraes van teologiese dosente aan al drie Fakulteite waar studente van die NGK opgelei word, predikante in sinodale diens, en gemeentepredikante was van hoogstaande gehalte. Daar is kreatiewe voorstelle gemaak oor ampte in die kerk, oor missionale betrokkenheid in die wêreld, oor kategese en jeugwerk, en oor die volle spektrum van dienswerk. Waar daar oor sensitiewe aangeleenthede gedebatteer is, het deelnemers aan die gesprek dit met respek en integriteit gedoen.

Die oorwoë indruk wat die AS by my gelaat het, is eerder die talle raakpunte en ooreenkomste tussen ons twee Kerke. Die profiel van ons lidmate, en ook die afgevaardigdes na die twee sinodes, is dieselfde. Die openingsgeleenthede en liedere het ons gedeelde belydenis en geloofsbelewenis bevestig. Die besprekings het bevestig dat ons dieselfde uitdagings beleef: ’n daling in lidmaattalle, al minder voltydse predikante, uitdagings met betrekking tot kategese, jeugwerk, kerklike dienswerk in gemeentes, lidmaatbemagtiging en goed toegeruste ampsdraers, teologiese opleiding, en die wekroep aan lidmate en gemeentes om al meer missionaal na buite te leef as getuies van die Here Jesus Christus en as sy hande en voete in die wêreld.

Dit was opvallend watter noue verband daar tussen beskrywingspunte en besluite van die AKV en die AS was. Sowel die AKV as die AS het wysigings aan die twee Kerke se kerkordes  aangebring om samewerkingsooreenkomste met gemeentes van die NHKA moontlik te maak. Die besluite van die AKV oor die Kerk as ’n veilige ruimte vir alle mense, die verteenwoordiging van vroue, seksuele teistering, en gesonde arbeidspraktyke is geëggo in soortgelyke besluite van die AS. In ’n merkwaardige stap het die Taakspan Regte ’n voorlegging oor ’n gedragskode vir predikante teruggetrek omdat hulle intussen die NHKA se Etiese Kode onder oë gekry het en geoordeel het dat hulle dít eerder as basis wil gebruik vir ’n soortgelyke kode vir die NGK.

Die openbare media fokus sterk op omstrede sake van algemene belang, en in die geval van die NGK was daar gevolglik groot belangstelling in die debat en besluit oor selfdegeslagverhoudings. Nadat die NGK vier stormagtige jare en ’n hofsaak deurgeworstel het ná die AS se omstrede besluit oor dié aangeleentheid in 2015, kon die AS in 2019 met veel meer kalmte en waardigheid ’n fynbewoorde besluit hieroor neem wat groot ooreenkomste toon met die AKV se besluit in 2016. Dit is my indruk dat daar nou veel meer ruimte in die NGK is vir mense van verskillende oortuigings, en dat daar nou groter rustigheid sal kom sodat die Kerk op kernsake van getuienis en diens kan fokus.

Dan bevind die NHKA en die NGK hulself dalk nou soveel te meer in ’n soortgelyke situasie: Na jare van groot interne woelinge kan albei Kerke nou fokus op die roeping om kerk van die Here Jesus Christus in ons land(e) en gemeenskap(pe) te wees. Mag ons mekaar daarin lei en dra. Soli Deo gratia.

af
af
Deel met behulp van
Copy link