Vreemde tye waarin ons ons bevind. ’n Persoon wat meestal blymoedig is, voel op ’n dag die lou asem van die swart hond teen haar been. Die koue vingers van vrees om haar keel.

Die een wat altyd en veel lees, vermy eensklaps die gedrukte woord. Bly weg van die koerant, trek ’n skerm oor jou oë. Wil nie sien nie, wil nie weet nie, genoeg! Bly stil oor sterftesyfers, babas wat siek word, verlies aan intimiteit, honger mense, werklose mense, die piek wat kom, ja weet net, die piek kom nog, wag maar julle sal sien…

Tye waarin selfs ’n aartsoptimis soos Margit Meyer-Rödenbeck verklaar: Ons almal ry ’n wipwarit – op en af, op en af. Ons moet ophou dink as ons onder in die gat sit dat ons ’n swakkeling is. Hoewel ek baie bekommerd is en dink dat baie mense se gemoed af is, moet ons nooit hoop verloor nie (Beeld, 2 Junie 2020).

Ja, ons moenie moed verloor nie. Net vrede maak met die ysige vreesvingers om jou keel, in plaas van ’n liefiekleinkind se arms om jou nek. Lang winkeltoue vir vars brood en wat nog, maar geen geliefde familielid naby jou nie.

Kom daar dan ander groot goed oor jou pad, soos ’n aftreedag wat uiteindelik in hierdie tronktyd op jou neergedaal het, of ’n groot verjaardag wat ongesiens verbygaan, of die winter wat sonder dat jy daaraan gedink het saam met jou in die bed geklouter het, staan jy een oggend op met ’n terneergedruktheid wat geen perke ken nie.

Moet dan asseblief nié Karel Schoeman se Slot van die dag (2017) nadertrek nie: Iemand val en word in haar huis gevind en opgetel, word weggeneem hospitaal toe of deur ’n dokter soontoe verwys, en kom terug of kom nié terug nie. Die wooneenheid word ontruim en oorgeverf, ’n volgende inwoner trek in en die lewe gaan aan. Watter ritme of patroon moet mens ánders in ’n aftreeoord of ouetehuis verwag, ongeag hoe die inrigting hom ook noem?

En verderaan: Wagtend op die volgende onvermydelike val, na alle waarskynlikheid môre eerder as oormôre, indien nie reeds vandag nie; wagtend op die volgende onvermoede maar onontkombare onheil.

Dan vang jou oog die foto’s teen die muur. Jou eie laggende hoërskoolgesig; jong mamma met twee dogtertjies; familiefoto’s saam met liewe familie wat reeds weg is… En die donderende vraag weergalm in jou ore: Was dit als die moeite werd? Al die goeie en minder goeie tye, die trane en die lag, die jare der jare se geleef – vir wat? As als eensklaps kan wegval, kan verdwyn weens die aanslag van ’n onsigbare vyand?

Dis ook dan dat die verwyte begin eggo. Groot verwyte: Jy was daardie Vrydag heel vrolik by die skool toe Pa gesterf het; 20 minute te laat om van Ma afskeid te neem. Kleiner verwyte: Die huis is deurmekaar; kaste nie soos ander mense s’n in hierdie tyd uitgesorteer en reggepak nie; nie genoeg proviand in die yskas nie; geen wyn nie…

En kyk hoe verval als: Die vensters is vuil; die matte vol donsies; die lug vol stof; die gras te lank; die herfsblare oral…

Na jare se leef en liefhê steeds nie goed genoeg, ryk genoeg, maer genoeg, mooi genoeg nie… Nooit genoeg nie, altyd soekend, en vir wat? Was als uiteindelik enigsins die moeite werd?

Die huis is te vol, hoe gaan ons ooit in ’n kleiner plek pas, wanneer gaan ek ooit deur al die strykwerk kom, en die werk kom nie klaar nie en die internet is uitgeput en die rekenings moet betaal word en die skottelgoed is vuil en hierdie dekselse straatgroep se WhatsApps wat net aanhou en aanhou en deur die nag aanhou en aanhou… Te veel. Te erg. Genóég!!

Hoe maak ’n mens met die vrees-woede-angs-toorn-magteloosheid-verset…

Eers opstaan, uitstap, die herfsson voel op jou vel; dink aan Dave Pepler se verwysing na ’n mens se ge-aard-heid – geAARD – vat aan die blare, raak aan die boom se stam, wéét: God is aan sy héle skepping verbind (TT Cloete). Ook aan jou en jou mense, deur al die baie jare, tot aan die einde, en daarna…

Terug by Karel Schoeman en sy Slot van die dag: Ek glo nie dat die lewe sin het nie, behalwe in die mate dat die blote lééf sin daaraan verleen. Mens gee sin aan jou eie lewe deur middel van ’n geloof, godsdienstig, politiek of andersins, of deur vir jouself ’n doel te stel om na te streef of te verwesenlik: om ’n gesin groot te maak, byvoorbeeld, of ’n boek te skryf; maar dit is relatiewe sin en het te make met verbygaande dinge. Jy lewe dus eenvoudig so goed doenlik, volhardend, verbete, wanhopig of uit pure gewoonte, dankbaar of verwonderd oor die redes tot dankbaarheid of verwondering wat jou bestaan jou bied: die vriendelikheid van ander mense, die argelose lojaliteit van diere, ’n kamer by lamplig, boeke, musiek, die natuur.

Ja, dit was en is uiteindelik als die moeite werd.

Die dag wat U, o Heer, gegee het,
is nou verby, die nag kom aan;
soos U ons môrelied ontvang het,
neem nou ons naggebed ook aan.

Dieselfde son wat hier aan’t kwyn is,
bring oor die see weer oggendlig –
voortdurend klink deur mensestemme
’n bede of ’n lofgedig.

Soos sonder einde son en skemer
steeds om die hele aarde gaan,
so sing en bid ons broers en susters
waar hul ook al voor U kom staan.

Ons dank U, Heer, dat U nie slaap nie –
by U bly dit voortdurend dag;
terwyl dit donker hier by ons is,
hou U deur heel die wêreld wag.

U trou staan vas – net aardse ryke
laat onderdane in die steek;
U ryk brei uit en groei voortdurend
tot u Dag groots in glorie breek.

(Elsabé Kloppers, Gesang 567,
Liedboek van die Kerk)

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link