Ons almal het al by tye as ek eendag groot is-wense gewens. As ek eendag groot is, wil ek blommetjiesgordyne in my kombuis hê en ’n riempiesbank met kussings wat in die kombuis staan. Ek wil my eie huis hê – nie ’n huurhuis nie.

Ek wil my swaarverdiende salarisgeldjies gebruik om my eie tuin vol helder petuniaplantjies te plant, al wil hulle nie groei nie. Ek wil rose uit my eie tuin pluk en in ’n glasblompot op die kombuistafel rangskik. Ek wil elke aand ’n lekkerruik-kers aansteek sodat die geur van kanferfoelie kan rondsweef saam met die klassieke klanke van die klavier. As ek eendag groot is, wil ek ’n regte egte vereduvet hê wat snoesig om my toevou as ek daarop neersak met ’n kan-dit-nie-neersit-nie-storieboek.

In die laaste jare van jou skoolloopbaan begin jy ’n idee vorm van wat jy na skool wil doen, en reken dan jy is groot. Jy maak met skool klaar en begin studeer in die rigting van jou keuse. Jy is gefokus op die toekoms en kan nie wag nie vir die dag dat jy kan begin werk. Jy is vas oortuig dat die toekoms dan sal begin. Jy begin werk en verdien ’n salaris – jou eie geld. Jy werk daaraan om finansieel onafhanklik te wees. Jy ontmoet jou lewensmaat en julle beplan saam aan die groot wens van eendag. Julle maak saam kinders groot, koop ’n huis en maak tuin. Weer eens is jy vas oortuig dat die tyd nou aangebreek het van as ek eendag groot is. Maar is dit so?

Ek moes weer vra of eendag nou aangebreek het toe die ondenkbare gebeur… Ek kry die nuus dat dit regtig nie goed gaan met Pa nie. Ek weet dat hy al lank baklei teen kanker, ’n pasaangeër het, en ook nie meer jonk is nie. ’n Mens dink nie dat iemand wat so ’n groot rol in jou lewe speel ook eendag sal moet doodgaan nie. Dit is seker maar ’n beskermingsmeganisme wat maak dat ons gedagtes daarvan wegbly.

Dit was eers toe ek gehoor het van my pa se siekte dat ek tot die besef gekom het dat ek eintlik nie wil hê dat hy ooit moet doodgaan nie! Ek het daarna gewonder wat God dink van hierdie gedagte, maar nadat my pa op 1 April 2018 (Gekkedag) oorlede is en ons hom op Vrydag die 13de begrawe het, het ek gedink dat God tog ’n sin vir humor het.

Wanneer iemand wat so deel van jou bestaan is doodgaan, ontstaan daar so ’n groot gat in jou lewe dat jy huiwerig is om daar om te beweeg, uit vrees dat jy in daardie gat sal val en nie weer sal kan uitklim nie. Dit is so seer dat jy dit vermy om aan daardie geliefde te dink, want jy kan dit nie doen sonder om spontaan in trane uit te bars nie.

Daar is ’n verskil tussen om te verlang na iemand en om iemand te mis. Verlange is meer aanvaarbaar, want die weersiens is ’n vooruitsig. Om iemand te mis, is die besef dat daar nie ’n weersiens sal wees nie. Jy gaan vir ’n tyd lank op autopilot. Jou lyf gaan aan met jou lewe. Jy gaan werk toe, kom huis toe, gaan werk toe en kom huis toe – alles outomaties. Mense om jou ondersteun en simpatiseer. Jy hoor alles wat hulle sê en beaam en waardeer dit, maar binne-in jou is dit soos ’n dam waarvan die sluise nie wil toegaan nie. Ongeag hoeveel inloop, niks bly binne nie. Jy loop met ’n hartseer wat jou so moeg maak dat jy net wil slaap en nooit weer wil wakker word nie. Mense probeer ondersteun met goedbedoelde trooswoorde en die meeste daarvan weet en glo ek.

Ek weet dat God my dra deur hierdie tyd. Ek weet dat Pa ’n gelowige mens was en dat hy nou by God is. Ek weet dat Pa nou nie meer seer het nie. Ek weet. Selfs hierdie wete vat nie my seer weg nie. Sommige mense se woorde bly jou tog onbewustelik by en maak eers  later sin. Iewers tydens die stryd waardeur ek geworstel het, het my beste vriend en lewensmaat vir my gesê: Die seer gaan nooit heeltemal weg nie, maar ek kan jou verseker, dit raak later beter. Hy het ook vir my gesê dat die tyd nog sal kom dat ek aan Pa sal kan dink en die mooi tye onthou sonder om hartseer te raak. Nou weet ek dis waar…

Ek dink vandag terug aan ’n keer toe ek op my eie by my ouerhuis gekuier het. ’n Gedeelte tussen die huis en garage was nog nie geteël nie. My pa was in daardie stadium al baie siek en het nie die energie gehad vir die werkery nie. Ek praat hom toe om dat ons dit saam doen – Pa op sy kampstoeltjie, kierie oor sy skoot; ek op my knieë, terwyl ek die teëls plak; terwyl Ma tee aandra. Dit was kort voor my verjaardag en Pa vra my uit die bloute hoe oud ek nou word. Sy reaksie op my antwoord dat ek 46 word, was so komies: Maar dan is jy mos nou ook al groot!

’n Week later op pad huis toe dink ek terug aan die kuiertjie by my ouers en glimlag vir my pa se woorde. Vir die eerste keer het hy besef dat sy dogtertjie wat altyd gereed is om hom met enige iets te help, ’n doen-mens soos hy, ook nou groot is.

Dit is nou twee jaar sedert my pa se dood. Ek kom agter dat ek kan terugdink aan baie spesiale oomblikke wat ek en hy gedeel het, en dit is vir my so kosbaar. Alhoewel hy nie meer hier is om te luister en al sy wyshede met ons te deel nie, dink ek gereeld aan wat hy sou sê en doen. Ek kry dit nou reg om terug te dink aan hom sonder om bang te wees dat ek in daardie gat van seer sal val. Ek kan met groot gerusstelling vandag sê: Die seer gaan nooit heeltemal weg nie, maar ek kan julle verseker, dit raak beter.

Ek kom tot die slotsom dat ’n mens eers groot is wanneer een van jou ouers te sterwe kom. Dan eers het jy werklik onafhanklik geword en moet jy op jou eie planne maak. Miskien is dit eers met die afsterwe van ’n ouer dat die volgende generasie se as ek eendag groot is aanbreek.

NHSV Streekvoorsitter: Dorsland

af
af
Deel met behulp van
Copy link