Op 6 Oktober 2024 het die 113-jarige moeder van die Ring van Germiston finaal afskeid geneem van haar plek van aanbidding en ’n nuwe tuiste gevind by haar kleindogter, Gemeente Alberton, wat die derde oudste gemeente in die ring is en self al 78 jaar oud is.

Die agteruitgang van die omgewing – met gepaardgaande vandalisme, maandelikse inbrake, asook ’n veiligheidsrisiko – het dit vir Gemeente Germiston onmoontlik gemaak om verder in haar huidige kerkgebou aan te gaan. Ons kon nie langer toekyk hoe pype eenvoudig uit die kerkgebou se mure gebreek word en badkamers se wasbakke stukkend geslaan word nie. Dit is vir die Huis van die Here onwaardig om elke moontlike deur en venster met bakstene toe te bou en hekke met kettings te sluit, net om gou uit te vind dat die vandale maar net ’n nuwe plek ontdek het om in te kom.

Die verkoop van ’n kerkgebou het die potensiaal om ’n gemeente te skeur aangesien daar baie emosies betrokke is. Maar vandag kan ons met groot dankbaarheid terugkyk en die leiding van die Here van die Kerk in al ons vergaderings en onderhandelinge sien. Ons het ongeskonde, eenparig, sonder enige meningsverskil deur die hele proses gekom.

Die geheim was dat ons op die regte plek begin het met die riglyne van twee teksgedeeltes as ons enigste rigsnoer: God, die Allerhoogste, woon egter nie in geboue wat deur mense gemaak is nie (Hand 7: 48) en as wat hulle wil en wat hulle doen, mensewerk is, sal daar niks van kom nie. Maar as dit van God kom, sal julle hulle nie kan keer nie. Moenie dat dit dalk later blyk dat julle selfs teen God gestry het nie (Hand 5: 38-39)!

Ons het gebid en planne gemaak. Ons aanvanklike planne en onderhandelinge het misluk. Ons was teleurgesteld, maar ons het weer gebid en verdere planne gemaak. Ons moes in nederigheid erken en bely dat, “indien dit mensewerk is, daar niks van sal kom nie.” Terwyl ons besig was met ons onderhandelinge, was die Here in sy alwysheid alreeds agter die skerms besig met groter dinge vir ons. Ons het oorweeg om tydelik eredienste in ’n skoolsaal te hou, of ’n NG-kerkgebou te huur, maar in ons harte wou ons verkieslik eerder by ’n ander Hervormde gemeente aansluiting vind. 

Gemeente Alberton het onvoorwaardelik in liefde hul arms vir ons oopgemaak en ons het ’n samewerkingsooreenkoms met hulle gesluit. Hierdie ooreenkoms behels dat elke gemeente as ’n selfstandige entiteit voortbestaan. Ds CJ van Wyk bly volledig verantwoordelik vir die pastorale bediening van Gemeente Alberton se lidmate en ek is verantwoordelik vir Gemeente Germiston se lidmate. Preekbeurte word tussen die predikante gewissel met baie van die eredienste waarin albei predikante sekere liturgiese handelinge behartig.

Maar eers moes daar afskeid geneem word van ons kerkgebou in Germiston. Die oppak en groot trek het begin. Almal wat kon help, het gehelp. Ons het ’n groot sleepwa gehuur en die groot aanry tussen Germiston en Alberton het begin.

Uiteindelik het die onvermydelike op Sondag 6 Oktober 2024 aangebreek. Ons laaste erediens het die vorm van ’n Nagmaal aangeneem. Lidmate het met moeë lywe en betraande oë aan die nagmaaltafel kom aansit. Ek het gevra dat elkeen voor aan die tafel, in die teenwoordigheid van die Here, soveel tyd neem as wat hulle nodig het om afskeid te neem terwyl orrelmusiek in die agtergrond speel. Gemeentelede het spontaan hande vasgehou en mekaar ’n bemoedigende drukkie gegee, meestal sonder woorde, want woorde was onnodig en sou afbreek doen aan hierdie heilige oomblik. Nadat ek die seëngroet uitgespreek het, het ek die gemeente weer laat sit en die lied van ABBA, “The way old friends do”, gespeel en aan elkeen opgedra. Daarna het ons finaal afgesluit met ’n braai en vir oulaas saamgekuier. Elkeen moes hul eie stoele bring omdat alles reeds by Alberton was.

Op 13 Oktober 2024 was dit ons eerste erediens saam met Gemeente Alberton. Ewe skielik het ons ’n vol kerk op ’n Sondag, die gemeente sing uit volle bors en almal is opgewonde oor die legio nuwe bedieningsmoontlikhede wat hieruit kan voortvloei. Die twee gemeentes betree nou ’n era waarin ons nuut dink oor die manier van kerkwees en die inrigting van die erediens.

Dit is vir ons almal nuut. Ons het geen resep om vanaf te werk nie, maar beide gemeentes het besluit om met ’n oop gemoed hande te vat en in liefde saam te werk. Die klein praktiese probleme wat opduik, sal hanteer word soos wat ons aangaan. Waar ons met hierdie gesindheid begin, saam met die Here se genade, kan die nuwe fase vir beide gemeentes nie anders as om suksesvol te wees nie.

Ons wil deur hierdie samewerking die Kerk en die Here trots maak en ons wil ’n sterk gemeente bou tot eer van die Here en tot die uitbreiding van sy koninkryk in Alberton. Mag die Here ons samewerking seën en mag die woorde in Handelinge 2: 47 van die eerste gemeente ook vir ons waar word: En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg. Mag die moeder van die Ring van Germiston vir nog baie jare gelukkig saam met haar kleindogter aan huis woon.

(Ds Johan Ayres is predikant in Gemeente Germiston)

Ds Johan Ayres vir die laaste keer op Germiston se preekstoel

Laaste nagmaal in Germiston

Germiston se pragtige kerkgebou

Ds Johan en diak Jaco Stander

Share via
Copy link
Powered by Social Snap