Aanvullend tot die artikel op bladsy 3 van hierdie uitgawe, stel ons graag die universiteitsdosente van die NHKA met hierdie profiele aan ons lesers bekend.

Dr AG (André) Ungerer is in 1987 gelegitimeer en was predikant in die gemeentes Wesmoot (1988-1992), Welgelegen-Pietersburg (1992-2003) en Klerksdorp-Doringkruin (2004-2014) tot sy aanstelling as Hoof: HTK in 2015. Hy behaal gedurende 2010 sy PhD-graad in Praktiese Teologie met gemeentebou as spesialiteit. Hy dien sedert 2013 in die Kommissie van die AKV, waarvan die laaste twee termyne as voorsitter.

Dr SM (Sanrie) de Beer is predikant in die Studentegemeente Philadelphia. Sy het egter ’n lewendige belangstelling in die akademie, veral in die veld van Nuwe Testament en verwante literatuur. In 2000 verwerf sy die graad DLitt et Phil in Grieks aan die Universiteit van Johannesburg. Tema: Intertekstualiteit in Jakobus 3: 13 – 4: 12. In 2008 verwerf sy die graad Magister Artium in Teologie (Gesinsterapie). Sy is tans ingeskryf by NWU vir ’n PhD-graad in Nuwe Testament. Die voorgestelde tema is: Exploring the textured textual world of James 1: 1-27 and embodied cognition approach.

Dr H (Hein) Delport is ’n dosent in Praktiese Teologie aan die HTK. Hy beskik oor ’n PhD-graad in Pastorale Terapie en ’n PhD-graad in Homiletiek. Dr Delport spesialiseer in prediking binne die Kerk. Sy navorsing fokus op induktiewe prediking, nuwe hermeneutiek, en die nuwe homiletiek. Met sy uitgebreide kennis en ervaring dra hy by tot die akademiese en homiletiese ontwikkeling van die studente aan die HTK en bevorder hy ’n diepgaande begrip van teologiese en predikingsteorieë.

Dr J (Johan) Nel het ’n MTh-graad in Pastorale Terapie (UV) en ’n PhD-graad in Pastoraat (UP) verwerf. Sedert 2003 is hy by die Fakulteit Teologie (UV) se pastoraleterapieprogram betrokke, die afgelope tien jaar as hoof. Hy is ook die Seminariumbestuurder by UV. Hy het ’n M-graad in Sielkunde aan Unisa behaal en is tans ’n geregistreerde sielkundige berader by die HPCSA. Hy gee klas in sowel Teologie as Sielkunde en bedryf ook ’n deeltydse spreekkamer. Hy is ook ’n deeltydse leraar by Gemeente Bloemfontein-Wes.

Prof T (Tanya) van Wyk is medeprofessor in Sistematiese Teologie en Christelike Etiek aan UP. Sy is ’n rubriekskrywer vir Netwerk 24 en is tans besig met die ontwikkeling van UP se vroueleierskapsprogram. Tanya het ’n belangstelling in navorsingsetiek en is voorsitter van die Fakulteit Teologie en Religie se Etiekkomitee. In Februarie vanjaar het sy kunsklasse begin neem en geniet dit baie.

Dr FJ (Frikkie) Labuschagne het in 1999 die graad Magister of Business Leadership (MBL) aan Unisa verwerf. Leierskap en die bestuur van verandering was die fokus van sy studie. Hy verwerf in 2009 ’n PhD-graad in Praktiese Teologie aan UP. Sy loopbaan as jong dosent begin waar hy aan die Afrika Instituut vir Missiologie (AIM) Pastoraat en Jeugbediening doseer. Hy was die afgelope vyf jaar as dosent betrokke by die werksaamhede van die HTK. Vandag beskou hy homself as ’n praktiese ekklesioloog met missionale kerkwees as fokus van sy teologies-kritiese nadenke oor kerkwees.

Dr RC (Marina) Kok-Pretorius is in 2019 gelegitimeer en is sedert 2020 werksaam in Gemeente Potchefstroom. In 2024 behaal sy haar PhD-graad in Semitiese Tale aan UP. In haar doktorale tesis fokus sy op die konsep van kritiese ruimtelikheid in die Psalms. Vanweë haar liefde vir Hebreeus en Ou Testament werk sy tans mee aan die ontwikkeling van ’n aanlyn Hebreeuse kursus. Teologiese opleiding lê haar na aan die hart en sy sien daarna uit om betrokke te wees by die HTK.

Prof PJ (Pierre) Jordaan is die afgelope tien jaar hoogleraar in Grieks aan die Fakulteit Teologie van die NWU. In hierdie kapasiteit bied hy ook Nuwe Testament en Antieke Kultuur aan. Sy besondere fokus is die Griekse geskrifte rondom die tydperk 250 vC. Prof Jordaan het verskeie doktorale studente op die gebied begelei. Drie van sy studente is reeds aangestel as professore. Hy het reeds 70 artikels in vakwetenskaplike artikels gepubliseer en is president van die LXXSA.

Prof AB (Ananda) Geyser-Fouché is ’n medeprofessor by UP. Sy bestudeer die Hebreeuse Bybel, Tweede Tempel Judaïsme en Qumran-tekste. Die modules wat sy aanbied, oorvleuel met haar navorsingsvelde – wysheidsliteratuur, apokaliptiese literatuur en boeke soos Rut, Kronieke, Esra en Nehemia. Sy het verskeie artikels gepubliseer, was die subredakteur van ’n bundel Qumran-publikasies, asook die mederedakteur van twee internasionale bundels, in samewerking met prof John J Collins. Ananda streef daaraan om eerder vertikaal gelei te word, as om horisontaal gemotiveer te word.

Dr A (Annelie) Botha is senior lektor in Praktiese Teologie aan UP. Pastorale sorg en pastorale berading is haar passie. Sy is by die CPSC (Council for Pastoral and Spiritual Counsellors) geregistreer as ’n geakkrediteerde pastorale berader. Sy dien tans ook as redakteur van die NHKA se Bybelse Dagboek.

Dr C (Christo) Pretorius het na sy BA- en BD-studie aan UP, in 1996 die MDiv-graad (cum laude) (UP) verwerf. In 2002 behaal hy ’n DD-graad (Kerkgeskiedenis) (UP) met die proefskrif Ds Jac van Belkum – Nestor van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika en ontvang hiervoor die SP Engelbrecht-erepenning (goud). In 2014 voltooi hy ’n Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase en Voortgesette Onderrig-opleiding)(Unisa).

Vandat dr DJ (Deon) du Toit kan onthou, wou hy predikant geword het. Sy gelowige ouerhuis het ‘n groeibedding geskep vir sy belangstelling in geloof en tydens sy studie groei sy belangstelling in sistematiese teologie. Na ‘n paar jaar in deeltydse bediening slaag hy daarin om, saam met sy IT-loopbaan, sy nagraadse studie te voltooi onder leiding van prof Johan Buitendag. Onlangs is hy weer amper voltyds in gemeentelike bediening (Pierneef) en nou ook deeltyds dosent by die HTK. Dit is vir hom ’n voorreg om as dosent ook deel te neem aan die akademiese vorming van studente en die uitbou van die Kerk deur teologie.

Prof RA (Rudy) Denton, voorheen van die Potchefstroom-Studentegemeente, is met ingang van 1 Februarie 2024 aangestel as medeprofessor in Praktiese Teologie en Missiologie aan die Fakulteit Teologie NWU. Hy fokus op Christelike Bediening en Leierskap, is Subprogramleier Missiologiese Perspektiewe, en voorsitter van die Etiekkomitee van die Fakulteit Teologie. Hy behou steeds ampsvoorreg as predikant van die Kerk, en dien steeds as addisionele predikantslid van die Kommissie van die AKV.

Prof J (Jaco) Beyers is gebore in Kempton Park en het na skool teologie aan UP studeer. Tydens die tyd toe hy voltyds predikant in verskeie gemeentes was, het hy sy doktorale studie in Godsdienswetenskap oor die tema sinkretisme voltooi. Sedert 2011 is hy voltyds by UP dosent in die Department Godsdiensstudies. Hy is sedert 2015 die programbestuurder vir Bybel- en Religiestudies. Hy was gasdosent by die Universiteit van Wenen in Oostenryk (2014) en die Universiteit van Porto in Portugal (2017). In 2019 is hy aangestel as departementshoof van Godsdiensstudies en in 2019 as adjunkdekaan van die Fakulteit Teologie en Religie. Sy velde van navorsing sluit sekularisasie en wêreldgodsdienste in.

Dr A (Antionette) Janse van Rensburg is predikant in Gemeente Montana. Sy het van 2016 tot Februarie 2023 in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag gedien as kapelaan. Sy het in 2010 ’n BTh-graad verwerf, in 2012 MDiv, en in 2016 MTh in die vakgebied Kerkgeskiedenis en Kerkreg met die tema Die oorsprong van die drieledige struktuur van die Heidelbergse Kategismus. Sy het in 2021 ’n PhD-graad verwerf met die tema Reformatoriese kerke se besluite oor homoseksualiteit kerkregtelik beoordeel. Haar posisie by UP is deeltyds met ’n jaarkontrak vir 2024 in die Departement Sistematiese en Historiese Teologie.