My kind is gedoop! Prys die Here, my kind is gedoop! As mamma van ’n nege maande oue baba, is die verantwoordelikheid nog skrikwekkend groot, en die werkinge van ouerskap en mamma-wees nog baie onbekend. Maar die wete dat ek en my man ons seuntjie kon opdra aan die Here, en ’n belofte kon maak om hom as kind van Jesus groot te maak, is bevredigend en verblydend.

In vandag se dae is daar soveel verskillende opinies oor hierdie belangrike sakrament – moet ons doop of eerder gaan vir ’n inseëning, is dit reg om as baba te doop of is groot-doop die beter pad, in watter kerk wil ons ons kind grootmaak? En as die twee ouers boonop verskillend grootgemaak is, en verskillend glo, hoe dan gemaak? Dit is ’n mynveld vir iemand wat alreeds so onder druk is om die regte besluite vir hul kinders te maak.

As ek terugdink aan destyds toe ek op 17 Augustus 2003 belydenis van geloof afgelê het, onthou ek hoe die meeste van my mede-katkisante maar min belang by die hele proses gehad het. Tienerkoppe is maar selde werklik gefokus op die belangrike dinge in die lewe – te veel muisneste, en net-net nie genoeg volwassenheid om die erns van die saak te verstaan nie. Ek onthou hoe ernstig ek dit self opgeneem het – ek was min gefokus op sosiale aspekte en baie in myself gekeer. Ek was een van daai tipiese, pligsgetroue meisies wat eerder aan skoolwerk sou dink as tienerdinge. Vir my was daardie belofte groot en belangrik.

Op 14 Desember 2013 het ek weer voor die Here gestaan en trou beloof aan my man. En dis darem baie makliker om daardie belofte te maak, as wat dit is om werklik daarby te bly! Trou is beslis nie perdekoop nie, en ek glo nie sewe sakke sout is naastenby genoeg om die huwelik ooit maklik te maak nie. Maar die belofte is gemaak, en deur die Here se genade bly staan daardie belofte steeds.

En dan skielik staan jy voor God, en maak ’n belofte wat verreikende gevolge in jou kind se lewe het. Dis nie net jy en jou man nie, maar ook hierdie klein engeltjie wat elke dag jou lewe kom verander. Dis nie ’n belofte wat sommer maar net gemaak kan word nie – dit is nie veronderstel om net die volgende korrekte ding te wees om in jou kind se lewe te doen nie. Die belofte moet met deernis gemaak word, en goed deurdag wees.

Ek bid en glo dat God ons sal help om ons seuntjie werklik in sy Naam groot te maak. Toe ek swanger was, het ons elke aand gebid dat Jesus hom sal laat groei en dat hy gesond sal wees. Hy het ons gebede verhoor, en Michael is ’n absolute plesier in ons lewens. Nou is dit ons beurt om hom te leer van die genade en liefde van ons Heer en lewendmaker.

Mag elke jong, nuwe ouer deur God gelei word tydens die besluite rondom die doop. Mag geen mens ’n kind weerhou van ’n verhouding met sy of haar Skepper nie. En mag die doop van ons seuntjie bloot die eerste stap wees in die ontwikkeling van sy geloof en sy persoonlike verhouding met God.

af
af
Deel met behulp van
Copy link