Die Algemene Kerkvergadering is ’n bykomende vergadering van die ampte gevorm deur ampsdraers wat deur kerkraadsvergaderings afgevaardig is as verteenwoordigers van hulle ampte, en verteenwoordig die Kerk. So lui die inleidende paragraaf van Ordinansie 4.4 in die Kerkorde.
Hierdie formulering is deeglik deurdink. Die Algemene Kerkvergadering (AKV) is nie die Kerk se parlement of hoogste hof nie. Die afgevaardigdes na die AKV is ook nie verkies met ’n opdrag of mandaat om die wil van hul kiesers in besluite te omskep nie. Ordereël 4 spel die beginsels duidelik uit:
Jesus Christus is die enigste Hoof van die kerk. Ampsdraers is dienaars van Jesus Christus wat in vergaderings van die ampte byeenkom. Hulle opdrag behels verkondiging, toerusting, opbouing, versorging, beskerming, regering en leiding in die Kerk.
Die een vergadering heers nie oor die ander, die een amp nie oor die ander en die een ampsdraer nie oor die ander nie.
Dit is belangrike uitgangspunte om te onthou terwyl ons hierdie jaar voorberei vir die 73ste AKV van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika sedert 1853. Hierdie uitgangspunte maak dit duidelik dat ons in die AKV na die wil van die Here soek, en dat al die ampsdraers by die AKV daarna streef om deur die besluite uiting te gee aan ons missie om die evangelie van Jesus Christus te vier, ons onderlinge gemeenskap te dien en te versterk, getuienis te lewer van ons belydenis, en met liefde te dien en te versorg.
Daarom spel Ordinansie 4.4.3 (ii) uit dat die AKV slegs drie opdragte het:
- Die Algemene Kerkvergadering
- neem bindende besluite namens alle gemeentes, ampsdraers en lidmate
- neem besluite oor die leer en belydenis, liturgie en vasstelling, en uitvoering van die Kerkorde
- tree op as bykomende vergadering wanneer ‘n beroep gedoen word teen ’n bevinding van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering.
Die wesenlike werkopdrag van die AKV wat die agenda van die vergadering bepaal, handel hiervolgens oor wat die Kerk glo, hoe gemeentes van die Kerk hul eredienste orden en inklee, en hoe lidmate, ampsdraers en gemeentes die Kerkorde moet gebruik om ons gedeelde roeping in die wêreld uit te leef.
Hierdie fokus is vir die 73ste AKV van besondere belang: Ons moet in uitdagende tye werklik bid vir kennis en insig, 10om die dinge wat saak maak, te kan onderskei (Fil 1: 9-10). Ampsdraers, kerkrade en ringsvergaderings wat beskrywingspunte aan hierdie vergadering voorlê, moet verseker dat dit oor wesenlike sake handel en dat die beskrywingspunte goed geformuleer en gemotiveer is.
Daar is twee redes vir die beroep op veral ringsvergaderings om ’n fyn filter vir beskrywingspunte aan te lê: die dringende eise wat ’n steeds krimpende Kerk aan ons stel, en die korter tyd waarbinne die vergadering afgehandel moet word.
Die feit dat die Hervormde Kerk aanhou krimp, dwing ons om realisties en nederig te wees. Ons moet realisties wees en ons slegs besig hou met dié dinge wat prioriteit is en wat ons kan bekostig. Ons moet nederig wees en ons nie aanmatig om die AKV as ’n platform te gebruik nie vir pretensieuse verklarings oor alles en nog wat in die breër Suid-Afrikaanse samelewing van wie ons maar ongeveer 0,13% uitmaak. Ons moet ons bepaal by ons roeping en by dié klein stukkie van ons werklikheid waar ons tog nog ’n verskil kan maak.
As ons realisties is, sal ons insien dat ons nou dringend ons hulpbronne bymekaar moet gooi om nog ’n verskil te maak. Nuwe intrekkers wil graag by ’n lewende gemeenskap van gelowiges inskakel en aansluit, maar nie by die oorblyfsel oorlewendes van ’n gemeente wat lank gelede dinamies was nie. Waar demografiese verskuiwings en sosio-ekonomiese omstandighede só verander het dat ’n gemeente weinig kinders oorhet, nie genoeg kategete en kerkraadslede kry nie, en nie bekwame en toegewyde ampsdraers het wat as skriba, kassier of administratiewe beampte kan dien nie, moet ons eerlik vra of ons nog ons roeping kan uitleef en of ons doodgewoon voortgaan soos in die verlede met die behoefte om self bedien en versorg te word.
Waar ’n gemeente nie meer die vermoë het om ’n voltydse predikant te onderhou nie, moet ons vra of dit nie beter is nie om met omliggende gemeentes ’n samewerkingsooreenkoms te sluit of saam te smelt. Is die gebrek aan gemeentes wat groot genoeg is en dinamiese geloofsgemeenskappe is, nie een van die redes wat jongmense daarvan weerhou om hulle as predikante te laat oplei nie? Of wat daartoe aanleiding gee dat jong Hervormde predikante beroepe na ander kerke aanvaar? Dit word ’n kommerwekkende saak, veral in die lig van die feit dat al meer predikante binne die volgende paar jaar emeriteer.
In ’n hele aantal ringe van ons Kerk is daar tans slegs een of twee gemeentes wat oor die dienste van ’n voltydse predikant beskik, en in sommige ringe geen enkele gemeente nie! In daardie ringe funksioneer die ringskommissie met groot moeite en laat die opsig oor en visitasie by klein, sukkelende gemeentes veel te wense oor. Die gevolg daarvan is dat die administrasie en bestuur van die gemeentes glip sonder dat daar betyds ingegryp word, en dikwels lei dit tot groot skade, interne konflik en die uiteindelike opheffing van die gemeente.
Besluit 1 van die 72ste AKV het ons verbind tot sinergie en konsolidasie op pad na 2025. Wanneer die 73ste AKV byeenkom, is ons halfpad na daardie datum. ’n Paar gemeentes het reeds kragte saamgesnoer met buurgemeentes, en in Mpumalanga, Limpopo en Pretoria het ’n aantal ringe gekonsolideer tot die nuwe ringe van Middelburg, Noordelike Bosveld en Magalies. Elders is daar konstruktiewe gesprekke tussen buurgemeentes en aangrensende ringe aan die gang, sodat ons kan hoop om teen einde September nog vordering te boekstaaf. Ongelukkig is daar eweneens voorbeelde waar gemeentes en ringe voete sleep, dikwels om sentimentele of persoonlike redes.
Die 73ste AKV sal dus beskrywingspunte moet oorweeg om momentum te gee aan die proses van konsolidasie, en om te verseker dat die bediening van die evangelie in alle gevalle versterk word. Die AKV sal ook beskrywingspunte moet oorweeg wat verseker dat kerklike eiendomme wat oor dekades deur toegewyde lidmate vir kerklike gebruik daargestel is, nie vir ’n appel en ’n ei verkwansel word nie, of dat die opbrengs daarvan nie net ’n enkele gemeente in staat stel om hul bediening voort te sit nie. Die belang van die groter Kerk en die langtermynbediening moet in alle gevalle vooropgestel word.
Beskrywingspunte aan die 73ste AKV moet dus goed deurdink word en ringsvergaderings moet krities met voorgestelde beskrywingspunte omgaan. Waar moontlik, moet die ringsvergadering beskrywingspunte verder verfyn en motiveer, en waar ’n ringsvergadering oordeel dat ’n beskrywingspunt nie meriete het nie, moet hulle dit sonder huiwering sê. Ons gaan eenvoudig nie by die komende AKV tyd hê om aan doodgebore voorstelle te bestee nie.
Die Kommissie van die AKV het besluit om die datum van die AKV te verskuif sodat dit vanaf Vrydagaand 30 September tot Dinsdagaand 4 Oktober 2022 plaasvind. Dit word om twee redes gedoen: om koste te bespaar en om te probeer verseker dat gemeentes sleutelkerkraadslede kan afvaardig, selfs al is hulle ekonomies aktief. As die gemeente se skriba byvoorbeeld nog voltyds werk, hoef hy/sy slegs twee dae verlof te neem om die AKV by te woon. Afgevaardigdes wat gedurende dié week se skoolvakansie saam met hul gesinne wil weggaan, kan dit dan ook nog doen deur van Woensdag tot Sondag weg te breek na afloop van die AKV. Die Kommissie rig dus ’n vriendelike versoek aan kerkrade om te verseker dat hulle leiersfigure uit die gemeente as afgevaardigdes benoem.
Na die bekendmaking van die datum van die 73ste AKV was daar heelwat navrae oor die implikasies vir die gemeentes se eredienste as die groot gros van die Kerk se predikante almal in Pretoria is. Hier glo die Kommissie van die AKV dat die Covid-19-pandemie ons geleer het om op nuwe maniere te werk, en gevolglik word beplan om die erediens op Sondagoggend 2 Oktober 2022 lewendig te stroom. Waar gemeentes dit in hul kerkgebou kan vertoon, kan gemeentes steeds byeenkom en deel in die erediens vanuit die AKV. Waar gemeentes dit nie kan doen nie, kan die skakel aan lidmate in die gemeente gestuur word sodat hulle dit tuis of op hul eie tyd kan volg. In ander gevalle kan die kerkraad maar reëlings tref wat ooreenstem met erediensreëlings tydens die inperkings.
Natuurlik weet niemand vandag watter omvang die pandemie teen die einde van September sal aanneem en watter regulasies dan van krag mag wees nie. Tans beplan die Kommissie egter steeds ’n vergadering waar al die afgevaardigdes fisies teenwoordig is soos in die verlede, en word daar gesoek na ’n lokaal met goeie ventilasie wat groot genoeg is om die AKV op die gewone manier te hou selfs al is daar dalk in daardie stadium beperkings op groter byeenkomste. Besonderhede hieroor sal bekend gemaak word sodra al die nodige inligting ingesamel is sodat die Kommissie ’n verantwoordelike besluit kan neem.
Ondertussen is dit die bede van die Kommissie dat die 73ste AKV op ’n besondere manier daartoe sal dien dat die Hervormde Kerk opgebou kan word sodat ander kerklike vergaderings en ampsdraers sinvol kan fokus op hul taak om die evangelie van Jesus Christus te verkondig, lidmate toe te rus vir hul dienswerk, en die gemeentes te lei en te beskerm.
(Dr Wouter van Wyk is sekretaris van die Kommissie van die AKV)