Gedurende Augustus herdenk ons alle vroue en bring ons aan hulle hulde. Die meeste van ons is doodgewone vroue wat partymaal ongesiens ons take onvermoeid vervul. Baie keer onder uiters moeilike omstandighede.

Baie vroue bereik hoogtes op verskillende terreine. Daar is wêreldbekendes – dink aan Emily Hobhouse, Florence Nightingale, Moeder Teresa, lady Diana…

Onwillekeurig sal name van bekende vrouefigure in die Bybel by ons opkom. Die meeste van hulle se verhale is bekend aan ons.

Sara: Haar geloof is jare lank beproef voor haar seun Isak gebore is (Gen 16, 18, 21). Daarom word sy deur baie die moeder van die gelowiges genoem.

Rebekka: Sy moes 20 jaar lank wag voordat sy met ’n tweeling geseën is (Gen 25: 20-26).

Hanna: Haar hartstogtelike gebede vir ’n kind word verhoor en Samuel, een van Israel se grootste profete, word gebore (1 Sam 1: 1-28).

Elisabet: Sy glo die belofte van die Here dat sy ’n seun sal kry – die onvrugbare, op gevorderde leeftyd, word moeder van die voorloper van God se Seun (Luk 1: 5-25).

Ester: As ek moet omkom, moet ek maar omkom (Est 4:16), en toe red Ester haar hele volk!

Daar is ook Ragab, Rut, Naomi en baie ander, en die minder bekendes wie se verhale ons nie regtig ken nie. Ek noem enkele van hulle:

Hagar: ’n Egiptiese slavin, weggejaag, eensaam, alleen en swanger, loop sy deur die woestyn. ’n Engel van die Here ontmoet  haar by ’n fontein. Daarna volg haar wonderlike belydenis in Genesis 16: 13: U is ’n God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het.

Tabita (Dorkas): Haar naam beteken bokooitjie. Sy het in Joppe, ’n hawestad, gebly, ’ndoodgewone vrou met naaldwerktalent. Met geloofsoortuiging wend sy haar talent aan in diens van die Here. Sy sien om na die armes in Joppe – ’n steunpilaar vir baie moedelose en hartseer mense. Wanneer sy sterf, wek Petrus haar op, en baie mense kom daardeur tot geloof in Jesus (Hand 9: 36-43).

Lidia: Sy woon in Filippi en het ’n florerende materiaalbesigheid. Paulus verkondig die evangelie in Filippi, en Lidia word die eerste Christen in Europa. Die eerste Christengemeente in Europa (Filippi) kom tot stand. Haar naam beteken om te bring. Haar gawes en besittings het sy so gebring en gebruik dat mense kon beleef hoe die Here deur haar werk (Hand 16: 11-15).

Febe: Haar naam beteken lig. Sy kom van Korinte en is een van die eerste vrouediakens in die kerk. Deur haar skyn inderdaad die helder lig van Christus in die gemeente Sy het liefdesdiens verrig, en Paulus noem haar ons suster en dienaar in die gemeente (Rom 16: 1-2). In Korinte het Paulus die brief aan die Romeine geskryf. Hier was dit waarskynlik Febe wat hom versorg het, en sy het ook moontlik die brief na Rome geneem (1 Kor 16: 6). Dit beteken dat sy nie huiwer nie om die gevaarlike, lang en moeilike reis aan te pak vir die werk van die Here. Hierdie brief bereik Rome, die destydse hoofstad van die wêreld wat ook beskou as die verste punt van die wêreld.

Deur die lewens van al hierdie vroue – slavin of purperverkoopster, naaldwerkster of huisvrou – loop ’n goue draad van hul geloofsoortuiging wat ook geloof en diens by ons oproep.

En dan is daar ook die Spreuke-vrou: Wie sal ’n deugsame vrou vind? want haar waarde is ver bo korale (Spr 31: 10, OAV); …as sy die Here dien, dán verdien ’n vrou om geprys te word (Spr 31: 30, NAV).

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link