Adrianus van Selms: Concise versions of his contributions in Dutch and Afrikaans theological journals (1936-1982)
JFJ (Hans) van Rensburg
UJ Press 2024

Die ouer predikante van die Hervormde Kerk het almal by prof Adrianus van Selms klas gekry. Die jonger generasie predikante het dikwels van die legendariese en effens eksentrieke professor gehoor. Spierwit, ylerige hare wat dikwels maar eiesinnig rondgestaan het, omtrek van dik rookwalms, met interessante anekdotes en verhale wat die studente aan sy lippe laat hang het.

Die skrywer van hierdie boek, prof Hans van Rensburg, was self ’n student van Van Selms en dosent in Semitiese Tale aan die Randse Afrikaanse Universiteit (later Universiteit van Johannesburg). In sy loopbaan as akademikus het hy ryklik geput uit die geestesgoedere wat Van Selms met sy studente gedeel het.

Om noukeurig op die voetspore van ’n voorganger te volg, is een van die grootste eerbewyse wat ’n mens aan iemand kan betoon. Dit is dikwels ook een van die beste maniere om te leer – uit die versamelde wysheid van ’n belese en berese voorganger. Hiervan is Van Rensburg se boek goeie getuienis.

Van Rensburg se oogmerk met hierdie boek is om ’n beduidende korpus van Van Selms se geskrifte vir die Engelssprekende wêreld toeganklik te maak. Dit is terselfdertyd ook ’n gerieflike en waardevolle kompendium van 79 artikels wat Van Selms tussen 1936 en 1982 in Nederlands of Afrikaans geskryf het. Agter in die boek word Van Selms se ander publikasies – boeke, hoofstukke in boeke, vakwetenskaplike artikels en kerklike artikels – in ’n verdere 15 bladsye gelys!

Die geheel hiervan gee ’n goeie aanduiding van Van Selms se verbysterende belesenheid, sy beheersing van die Semitiese tale en skryfsisteme (Assiries-Babilonies, Ugarities, Fenisies, Hebreeus, Aramees, Siries en Arabies) sowel as talle ander antieke en moderne tale, die literatuur van die wyer Ou Nabye Ooste (waaronder Sumeriese en Hetitiese literatuur, en die Dooie See-rolle), die Griekse en Romeinse geesteswêreld, en natuurlik veral die Ou en Nuwe Testament van ons Bybel. In ’n artikel oor die stand van die Ou Testamentiese wetenskap (1959) benadruk Van Selms self watter kennis van Ou Nabye Oosterse tale en kulture nodig is om die Ou én Nuwe Testament binne hul oorspronklike kontekste te kan interpreteer (2024:77-83).

Van Selms het homself nie in die eerste plek metodologies as ’n histories-kritiese teoloog gesien nie (al het hy baie deeglik met die resultate van histories-kritiese navorsing rekening gehou), maar het eerder ’n sosiologiese benadering gevolg waar hy tekste teen die agtergrond van die kulturele wêreld van hul tyd geïnterpreteer het (2024:1-2). Hy was ook nie sku vir kreatiewe interpretasies van moeilike of omstrede tekste nie, en het nie gehuiwer om téén die heersende teorie oor ’n bepaalde saak in te gaan nie (soos sy standpunt dat die sogenaamde Verbondsboek in Eksodus 20: 22 – 23: 33 wel na Moses teruggevoer kan word, 2024:88).

Dit val op tot watter mate Van Selms in sy Skrifuitleg met die kerklike belydenisskrifte rekening gehou het. In ’n vroeë Nederlandse artikel (1936) stel hy byvoorbeeld aan die hand van Artikel 4 van die Nederlandse Geloofsbelydenis dat die Ou Testament altyd vanuit die oogpunt van die kerklike belydenis gelees moet word (2024:3). In ’n artikel oor die prediking van die Ou Testament (Van Selms 1945), argumenteer hy dat die primêre verantwoordelikheid van Christene deurgaans is om die verlossing in Jesus Christus te verkondig, en daarmee saam juis die gemeente aan die vergifnis van hul sondes te herinner. Daarna word die Ou Testament na gelang van die situasie en die leiding van die Heilige Gees gebruik om lig op ’n bepaalde teks en konteks te werp (vgl 2024:38).

Van Selms se artikels in Die Hervormer en Die Almanak toon sy diepe betrokkenheid by die Kerk, sy pastorale bewoënheid oor die vrae waarmee lidmate worstel (soos die vraag of ons ons familie in die hemel sal herken), en sy kundigheid met betrekking tot Bybelse plekke van betekenis, kerklike strominge (soos Calvinisme, Metodisme, Rooms-Katolisisme), die kerklike (liturgiese) jaar, kerkbou en kerkmusiek.

Van Selms was van meet af aan krities ingesteld teenoor wetgewing en kerkordelike reëlings om rasseskeiding af te dwing. Kort na die Wet op Verbod van Gemengde Huwelike in 1949 ingestel is en die Groepsgebiedewet in 1950, het die NHKA ook in 1951 ’n nuwe Kerkwet aanvaar. In 1953 publiseer Van Selms dan ’n artikel in die Hervormde Teologiese Studies (HTS) waarin hy argumenteer dat die Kerk nie die Ou Testament kan gebruik om die staat se politieke beleid van apartheid te verdedig nie (2024:63-66). Ten tyde van die konflik rondom proff AS Geyser en AD Pont, publiseer hy in 1961 ’n artikel getiteld De Nederduits-Hervormde Kerk van Afrika en de kleurscheidslijn in die Nederlandse Kerk en Theologie, waarin hy erken dat hy meegewerk het aan die formulering van Artikel 3 van die Kerkwet (wat lidmaatskap van die NHKA tot blankes beperk het), maar verduidelik dat dit bedoel was om die sendingwerk van die Kerk te dien op soortgelyke manier as waarop daar in Nederland voorsiening gemaak is vir Nederlandssprekende en Franssprekende gemeentes. In 1966 publiseer hy ook vier artikels in Pro Veritate, die mondstuk van die Christelike Instituut, waarin hy vanuit verskillende Skrifgedeeltes (Jes 33: 14, Heb. 1: 1-3, Rom 1: 16 en Hand 4: 20) betoog dat die skeiding van die kerk op rassegronde onhoudbaar is, en dat die ware kerk nie oor sleutelaspekte van die evangelie durf stilbly nie (2024:125-126).

Agt jaar na die vestiging van die staat Israel publiseer Van Selms ’n artikel, Die plek van Israel in ons teologies-kerklike beskouing in die HTS. Daarin waarsku hy dadelik dat die konsep “Israel” nie met die staat Israel verwar moet word nie, maar dat die volk Israel van die Bybel uitverkies is om ’n aktiewe rol in God se heilsgeskiedenis te speel. Volgens Van Selms moet die Nuwe Testament se perspektief op Israel vir die kerk die riglyn wees, naamlik dat die Ou Testament se profesieë in Christus vervul is. Al het die Jode Christus verwerp, herinner Van Selms sy lesers aan Paulus wat in Romeine 9: 2-3 skryf dat hy wens hy kon eerder self vervloek wees ter wille van sy Joodse broers.

’n Unieke en besonder waardevolle hoofstuk in Van Rensburg se boek bied ook kort opsommings van artikels wat ander geleerdes in reaksie op Van Selms gepubliseer het (127-140). Dit reflekteer enersyds hoe wyd Van Selms gelees en geag is, en andersyds bied dit ’n voller beeld van die akademiese debatte waaraan Van Selms deelgeneem het. Die boek word afgesluit met indekse van Bybelse teksverwysings, Bybelse persoonsname, vertalings van terme uit vreemde tale waarna daar in die artikels verwys word, bronne waarna verwys word, nie-Bybelse persone wat genoem word, en onderwerpe en instansies na wie daar deur die loop van die boek verwys word.

Van Rensburg se parafrasering van artikels is uiteraard nie almal ewe lank nie. Terwyl die inhoud van die betrokke artikel telkens in meer of minder besonderhede weergegee word, is dit ongelukkig nie altyd duidelik presies wat Van Selms met ’n bepaalde artikel wou beredeneer of bereik nie.  So eindig die opsomming van ’n artikel oor die stad in die Israelitiese voorstellingslewe (Van Selms 1952) byvoorbeeld met ’n effens obskure aanhaling uit Dostojewski se boek The brothers Karazamov, sonder dat dit duidelik is wat Van Selms se bedoeling met die verwysing was (2024:63).

Die Engels in die boek is ongelukkig nie oral ewe idiomaties nie en die hulp van ’n kundige taalversorger sou baie kon help. Die lidwoord wat dikwels voor ’n naamwoord ontbreek (veral aan die begin van ’n sin), is nogal steurend. Dieselfde geld vir obskure vertalings (soos “nearby expectation” vir Nah-erwartung, 2024:25, en “trapezium”, 2024:36) en spelfoute (soos “snair” in plaas van “snare”, 2024:36). Die vertaling van tegniese terme vanuit Nederlands of Afrikaans stel uiteraard besondere uitdagings aan die vertaler, maar dit is jammer dat die Nederlandse Geloofsbelydenis byvoorbeeld op verskillende plekke met verskillende terme vertaal word: “Netherlands Confession of Faith” (2024:3,22) en “Netherland Profession of Faith” (2024:16) en “Dutch or Belgic Confession of Faith” (2024:109), terwyl die gebruiklike vertaling daarvan bloot “Belgic Confession” is. Dit is ook jammer dat die amptelike Engelse naam van die NHKA (Netherdutch Reformed Church of Africa) nie gebruik word nie, maar dat daar na die Dutch Reformed Church in Africa verwys word (wat vir die oningeligte leser verwarrend kan wees).

Daarteenoor moet Van Rensburg gekomplimenteer word met die besonder noukeurige transkripsies van Hebreeus en ander vreemde tale. Daar kan ook net waardering wees vir sy toewyding om al hierdie artikels byeen te bring en in Engels vir ’n wyer publiek toeganklik te maak. Ook vir Suid-Afrikaanse predikante en teoloë is dit ’n besonder waardevolle skat van kennis!

(Dr Wouter van Wyk is sekretaris van die Kommissie van die AKV)